Preekskets 21 Julie 2019 Ds Jacques – God se geheimenis vir die nasies


Teks:  Kolessense 1:15-29

 

Liedere:  184:1-4    504:1,2   481:1,3

 

Nadat Paulus die mense eers die gemeente geluk gewens het met dit wat hy reeds van hulle weet en wat nou vir hom deur Apafras bevestig is, moet hy hulle egter waarsku en berispe oor dit wat verkeerd gaan in die gemeente.  Vir hom is dit van veel meet belang om die gemeente te help om weer terug te keer na die volle waarheid soos wat hy dit aan hulle verkondig het, eerder as om hulle te wil uitskel en te laat sleg voel oor hulle foute.  Daarom begin hy sy teregwysing deur weer aan hulle die waarheid te verkondig.

Die gemeente moet besef dat Jesus Christus werklik die beeld van God en ook die Seun van God is.  Hy is die Eerste, verhewe bo die skepping.  Die skepping is vir Hom en deur Hom geskape.  Deur Hom is alles geskape.  Hy is nie self geskape nie, maar is van die begin af daar.  Die gemeente moet opnuuts besef dat Jesus waarlik die Seun van God is en self ook God is.

Hierdie Seun van God is ook die hoof en die oorsprong van die kerk.  Deur Sy kruisdood het Hy die reg verkry om hoof van die kerk te word en Sy gemeentelede op te roep om Hom te volg.  Deur Sy kruisdood het Hy alles met God  versoen.  So het Jesus vrede tussen God en mens herstel.  Die gemeente word daaraan herinner dat ook hulle ver van God af was, maar nou nie meer ver is nie.  Hierin lê hulle sekerheid en daarin moet hulle vas en sterk bly staan.

Die oproep vir die gemeente is dat hulle in hierdie waarheid moet bly.  Hulle hoop vir heerlikheid is alleenlik hierin te vind, in niks anders nie.  Deur vir hulle te herinner aan hierdie sekerheid wys Paulus alreeds die verkeerdheid van die dwaalleer uit, sonder dat hy hulle berispe het.

Hy sê dan laastens vir die gemeente dat hul doel moet wees om geestelike volwassenheid te bereik.  Jesus het vir hulle alles hiervoor beskikbaar gestel toe Hy die groot geheimenis aan die mensdom kom bekend maak het.  Dis waaroor dit gaan.  Dit is al waaroor dit gaan.  Die gemeente moet hulself hieraan meet en seker maak dit is inderdaad nog steeds al waarby hulle staan.