Teks: Rigters 6:1-18
Liedere: 349:1,2,3 499:1,2,3 268 504:1,3,5
Die Jode het die beloofte land van die Here af ontvang. Onder leiding van Josua is die land in besit geneem en onder die onderskeie stamme verdeel. Nou het die stamme na hulle onderskeie areas vertrek. Josua het hulle streng aangespreek en begelei tot by ‘n punt waar hulle as volk hulself weer aan die Here verbind en beloof Hom volledige te dien. Daarna sterf Josua en is daar nie ‘n sentrale regeerder nie.
Dit neem egter nie lank voordat die volk begin om ontrou te raak en agter die afgode van die inwoners van die land aan te loop nie. ‘n Siklus herhaal hom nou keer op keer. Die Here waarsku die volk. Hulle luister nie. ‘n Buurvolk word gebruik om die volk te straf. ‘n Profeet vertel die volk waarom dit so gaan. Hulle roep uit na die Here. Die Here stuur ‘n rigter wat hulle uit hierdie situasie moet red. Die volk is dankbaar en dien die Here met oorgawe. Die siklus van agteruitgang begin weer van voor af.
In hierdie teks gaan dit weer baie sleg in die land. Hulle het feitlik alles verloor en moet selfs in grotte wegkruip om te probeer oorleef. Gideon is een van die mense wat in ‘n grot wegkruip wanneer ‘n engel aan hom verskyn en hom roep om die volgende rigter te wees wat die volk moet red. Jy is my dapper man. Hoe ironies! Hy kruip weg. Hy lyk glad nie na ‘n dapper vegter nie. Hy is eerder vreesbevange.
Sy antwoord is daarom dan ook nie verrassend nie: Ekskuus, maar u maak seker ‘n fout.
Dan antwoord die engel hom. Jy is die regte man. Onthou die Here is by jou. Dit is wat jou bekwaam maak. Die Here vra net gewilligheid. Sê net, ek vertrou op die Here. Gaan dan met die krag wat jy het en met die teenwoordigheid van die Here by jou. Dit is genoeg. Deur Gideon se tyd as rigter word daar herhaaldelik gesien hoe dit die Here is wat groot wonders laat plaasvind. Gideon moet net vertrou en opdaag vir sy taak.
Die Woord leer ons dat Jesus mens geword het, Immanuel met ons. Ons is nog meer oortuig daarvan dat die Here by ons is en dat ons op Sy inwerking in ons lewe kan reken. Moet nooit daaraan twyfel nie, vir watter bediening die Here jou ook al mag roep.