Teks: Johannes 3:1-21
Liedere: 344:1,2,3 585:1,2 288:1,2,3 349:1,2,3,4
Indien iemand in Jesus se tyd ‘n voorbeeld van ‘n man met ‘n hoë morele lewe moes identifiseer, is die kans baie groot dat Nikodemus net die man sou wees waaraan gedink word. Hy is ‘n lid van die Fariseërs, ‘n baie bekende leier in sy tyd, iemand wat streng volgens die wet leef en selfs ‘n lid van die Joodse Raad. Verder is hy ook nog iemand met ‘n nederige persoonlikheid.
Jesus is besig om die mense van die koninkryk van God te leer en Nikodemus kom hiervan te hore. Uit die aard van sy toewyding aan God, is hy altyd bereid om sienings van ander leermeesters te ondersoek om so tot nuwe insigte te kom en selfs nog meer toegewyd aan God te leef. In die nag gaan hy na Jesus en vra dan vir Hom uit oor sy lering rakende die wedergeboorte.
Jesus sê vir hom dat wederegeboorte ‘n proses is wat jou hele lewe transformeer. Dit is ‘n goddelike proses, waarin God die inisiatief in jou lewe neem. God klop aan die deur van jou hart en moet jy daarop reageer. Dit is nie net nog ‘n model of ‘n teorie oor geloof wat jy ondersoek en dan oor moet besluit of dit vir jou werk of nie. God werk in jou en deur Sy Gees verander jou hele gesindheid teenoor God en teenoor die wêreld. Jy dink dan nuut oor jouself, nuut oor God en nuut oor jou medemens.
Hierdie proses van wedergeboorte is iets wat jou hele lewe verander. Alle fasette van jou lewe word daarna onder die gesag van God geleef. Jy vertrou Hom volledig en jy volg Hom volledig. ‘n Wedergebore kind van God het net een lewensdoel en dit is om binne die wil van God te bly en daardeur jou verhouding met God te laat groei.
Dit is ‘n sekerheid waarvan jy bewus is. Dis nie ‘n nuwe gier wat ‘n rukkie vir jou werk en dan besluit jy weer op iets anders nie. Dis ‘n realitiet, dis seker en dis ewig. Dit is natuurlik ‘n noodsaaklikheid as ‘n mens in ‘n werklike verhouding met God wil leef.
Nikodemus stel werking belang in wat Jesus sê, maar hy verstaan nie hoe ‘n tweede geboorte vir ‘n volwasse mens moontlik is nie. Dan verduidelik Jesus vir hom aan die hand van ‘n gebeurtenis in die woestyn waar Moses ‘n koperslang op ‘n paal moes sit, hoe redding deur God werk. Vir God is dit moontlik. Sy Gees waai soos die wind. By hom is niks ontmoontlik nie. Glo net en Hy sal dit laat gebeur.