In hierdie Pinksterreeks het ek probeer uitwys dat God voordurend besig is in hierdie wêreld. Ons as gelowiges moet met oop oë leef om Sy teenwoordigheid raak te sien en uit te wys, amper soos ‘n ervare spoorsnyer wat dit kan regkry om die tekens wat diere in die veld maak te kan raaksien en interpreteer.
Maandag se tema het gefokus op wie Jesus vir ons is. Hy is volgens Johannes 6:35 die brood vir die lewe. Die een wat ons geestelike honger stil en ons ewige dors les. Hy is volgens Johannes 8:12 die lig op ons pad, wat vir ons die regte pad aandui en die slaggate uitwys. Hy is ook die Goeie Herder wat ons as Sy skape versorg en oppas. Hy is egter ook in ons lewe teenwoordig en betrokke. Hierdie kenmerke van Hom is nie net daar om ons te troos nie.
Dinsdag het ons volgens Markus 2:17 gehoor dat Hy na ons gekom het om hier onder ons te woon en Homself so aan ons bekend te stel. Ons kan Hom dus beleef.
Woensdag hoor ons dat dit God se doel was dat dit so moes wees. Jesus het na ons gekom met godelike gesag. Hy is van godelike afkoms. Johannes 6:16-18 verseker ons daarvan dat God juis wil hê dat ons Jesus so in ons lewe moet beleef.
Jesus kon egter nie vir ewig hier by ons wees nie. Hy word deur Sy aardse liggaam beperk en Sy eintlike werk en plek is langs Sy Vader op die troon. Daarom moes Hy terugkeer en vir ons gaan plek gereed maak. Hy los ons nie alleen nie. Hy stuur Sy Gees om met ons te wees en die pad verder met ons te bewandel. Hiervan verseker Johannes 14:15-21 ons. Laastens hoor ons Vrydag dat Jesus gekom het en Sy Gees in ons geplaas het sodat ons in Sy voetspore moes volg. Ons moet die werk waarmee Hy hier op aarde begin het voortsit. Johannes 10:27-30 leer ons dat ons deur Jesus gestuur word om in Sy diens te staan. Volgens Johannes 15:1-8 moet ons seker maak dat ons in Jesus geanker bly om so dit wat Hy van ons verwag te kan doen. Hy is die wingerdstok en ons as lote kan slegs doen wat Hy vra as ons in Hom geanker leef.