Preekskets 14 Junie 2020 Ds Jacques – God bewys Sy liefde vir ons terwyl ons nog sondaars is


Teks:  Romeine 5:1-11

Liedere:  164:1,2  220:1  492:1,2

Hoe neem ons gewoonlik besluite?  Dink maar daaraan wanneer jy besluit om ‘n nuwe kar te koop, jou huis te verkoop, vroeg af te tree, te trou, te emmigreer.  Dis verseker nie besluite wat jy sommer op die ingewing van die oomblik neem nie.  Dit sal dom en onverantwoordelik wees.  ‘n Mens neem nie groot besluite wanneer jy emosioneel is nie, want dit kan later erg teen jou tel.  Jy doen eers deeglik navorsing, win inligting in en praat met kenners.  Dan neem jy ‘n ingeligte besluit.  Indien jy dit nie so doen nie moet jy of baie braaf wees of jy is baie onverantwoordelik.

En tog, as ons na die teks kyk, sien ons dat God ‘n besluit neem om ons aan te neem terwyl ons sondaars en magteloos is.  Hy neem ons aan terwyl ons eintlik niks vir Hom kan doen nie.  As ‘n mens hierna kyk sien jy dat ons eintlik vir God ‘n baie slegte belegging is.  God kyk egter anders na ons.  Ons maak vir Hom saak.  Ons tel.  Daarom is Hy bereid om hierdie risiko te neem.  Hy is bereid om ‘n baie groot kans met ons te waag.  Hy is bereid om Sy Seun te stuur om in ons plek gestraf te word sodat ons vrygespreek kan word en met Hom versoen te kan word. 

Wat is nou die gevolg hiervan?  Ons word van die straf wat ons verdien vrygespreek.  God sien ons nou as foutloos, heeltemal nuut en skoon.  Ons is nou verlostes, Sy koningskinders.  Daar is nou vrede tussen ons en God.  Deur die versoening wat Jesus vir ons bewerk het verkry ons nou vrye toegang tot God se genade.  Ons verheug ons in die hoop om eendag wanneer God ons kom haal, vir ewig in Sy heerlikheid te mag wees.  Wanneer daar swaarkry dae in ons lewe aanbreek, gebruik God dit om ons geloof te versterk.  Ons besef dus dat God ons nooit vergeet het nie.  Ons is nog altyd vir God belangrik.  Hy is bereid om die kans te waag en alles op die spel te plaas ter wille van ons.  Die vraag wat ons onsself moet afvra is:  Vertrou ek my lewe aan Hom toe?  Onthou altyd dat ons ongelyke partye in hierdie verhouding is.  Dis God wat alles ter wille van ons opoffer.  Ons verloor niks.  Ons wen al die pad.  Vertrou Hom en kyk watter effek dit op jou lewe mag hê.