Teks: Hebr 13:5,6
Die bekende lied van Koos du Plessis sê: Wat ek het is net genade, wat ek het is net geleen. Ek dink die idee met hierdie lied is om vir ons te laat besef dat wat ons het enige oomblik van ons af weggeneem kan word. Daarom moet ons dankbaar wees oor wat ons het en terwyl ons dit het moet ons dit vreugdevol geniet.
Ek het dalk nie alles wat ek graag in hierdie lewe sou wou hê nie. Of ek konsentreer so baie op dit wat ek nie het nie, dat ek die mooi en die lekker wat ek wel het heeltemal miskyk. Ons het soveel wonderlike dinge in die lewe waarvoor ek elke dag dankbaar kan wees. Ek lewe! Ek het mense vir wie ek lief is en wat my terug lief het. Ek het my liggaam met wonderlike sintuie. Ek kan sien, hoor, proe, praat, ruik. Ek kan loop. Ek kan die lewe in sy volheid geniet.
Ongelukkig waardeer ‘n mense baie keer in jou lewe sekere dinge eers wanneer jy dit nie meer het nie of verloor. Ek dink hierdie inperkings wat ons tans beleef het ons dit weer laat besef. Dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, is nou skielik nie meer moontlik nie. Die nuwe normaal het soveel van ons vryhede weggeneem.
Ons moet egter versigtig wees dat ons nie so vasgevang raak in hierdie omstandighede dat ons dit wat ons steeds het en dit waarna ons uitsien om eendag weer te kan hê miskyk nie. Groot gebeurtenisse in die geskiedenis word in geskiedenisboeke opgeteken. Wêreld Oorloë, Die Groot Plaag, Die Depressie en vele meer. Die Corona-pandemie gaan ook in die geskiedenisboeke as so ‘n gebeurtenis opgeteken word. Maar dit het nie die hele geskiedenis kom verander soos wat die koms van Jesus na die aarde gedoen het nie. Ons jaartelling het nie nou skielik na voor en na Corona verander nie. Ons jaartelling word as voor en na Christus aangetoon en dit sal steeds so wees nadat hierdie pandemie verby is. Daarom herinner Hebreërs 13:5-6 ons daaraan dat ons nie geldgierig moet wees nie, maar tevrede moet wees met wat ons uit God se hand ontvang. Die Here beloof ons dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Daarom ken ek geen vrees nie. Want U is met my, U is waarlik my Herder. Sonder God se goedheid en guns in my lewe is ek niks. Bereken daarom jou lewe hieraan en nie aan die omstandighede waarin ons onsself tans bevind nie.