Preekskets 04 April 2021 Ds Jacques – Paasfees


Die Heer het opgestaan.  Die Heer het waarlik opgestaan.  So groet Christene reg oor die wêreld mekaar al vir amper 2000 jaar op die Sondag van Opstanding.  Die grootste gebeurtenis, wat die geskiedenis van die ganse mensdom verander het, het oor die naweek afgespeel. 

Jesus leer die mense dat daar geen ander manier is om van jou sondes bevry te word nie, as om jou skuld voor Hom te bely en te erken dat jy Sy redding nodig het om jou ‘n nuwe mens te maak nie.  Hierdie boodskap word nie goed deur die geestelike leiers van die tyd ontvang nie.  Hulle het gefokus op gehoorsaamheid aan die Wet van God.  Dan moes jy na die tempel kom en deur middel van die offers wat jy gebring het vryspraak van jou sondes verkry. 

Jesus val hierdie geestelike leiers direk aan deur hulle daarvan te beskuldig dat hulle skynheilig is.  Hulle leer die mense een ding, maar self doen hulle iets heel anders.  Die liefde wat mense vir mekaar moet hê ontbreek heeltemal by hulle.  Mense leef in droewige omstandighede, maar die skrifgeleerdes draai ‘n koue skouer na hulle.  Hulle regverdig hulself deur te wys dat hulle die wette tot op die letter gehoorsaam, veral wanneer dit oor die onderhouding van die sabbat gaan. 

Wanneer Jesus dan kom wys hoe ware liefde lyk deur Hom oenskynlik nie aan die vasgestelde reëls te steur nie, maar net te doen wat Hy weet reg is, maak Hy hierdie leiers baie kwaad.  Mense stroom agter Hom aan.  En dan besluit hulle, as ons Hom nie ongewild kan maak, of met argumente kan wen nie, is die enigste alternatief om Hom dood te maak.  So begin die proses wat tot Sy kruisiging sou lei.  Hulle wag hulle kans af.  Wanneer Hy dan gearresteer word word Hy valslik skuldig bevind en ter dood veroordeel.  Met die kruisiging voel hulle dat hulle in hul doel geslaag het.  Wanneer Jesus aan die kruis hang, net voor Hy Sy laaste asem uitblaas, roep Hy uit:  “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” en “dit is volbring”.  Sonder dat hulle dit weet is hulle slegs instrumente in die hand van God.  In plaas daarvan dat hulle Hom stil gemaak het, dra hulle daartoe by om die boodskap wat Hy die heeltyd verkondig het, naamlik dat Hy die Seun van God is en dat Hy moes ly en daarna gaan opstaan uit die dood, in die praktyk te laat gebeur.  Hy is toe inderdaad wie Hy gesê het Hy is.  En in plaas daarvan dat hulle Hom stil maak, breek ‘n nuwe stem uit:  Die stem van Sy volgelinge wat verkondig dat Hy leef.  Jesus se stem sal nooit stilgemaak word nie, want dit is God se liefdesstem vir Sy mense op aarde.