Preekskets 23 Mei 2021 Ds Jacques – Die Gees roep en stuur ons na die wêreld


Teks:  Handelinge 2:1-13

Liedere:  190:1,2,3  442:1,2  510:1-4  Die Oorwinningslied

Met die hemelvaart van Jesus Christus, gee Hy vir Sy dissipels die opdrag dat hulle in Jerusalem moet wag.  Hy belowe dat Hy Sy Vader sal vra om vir hulle die Heilige Gees te stuur.  Dan sal hulle met die Gees gevul word en die krag van die Gees in hulle hê.

Hier lees ons van daardie gebeurtenis.  Dit wat Jesus belowe het, is nou besig om te gebeur.  ‘n Rukwind verwar al die mense.  Die gelowiges wat in die vertrek teenwoordig was word met iets soos vuurtonge aangeraak.  Wanneer hulle uitgaan kry hulle die res van die verskrikte inwoners van die stad in die strate.  Almal is oorbluf en vra wat gebeur het.  Dan antwoord hierdie geesvervulde mense hulle.

Die antwoord is egter anders as wat hulle verwag het.  Dis nie ‘n gewone antwoord nie.  Daar word aan hulle gesê dat die Gees van God op mense uitgestort is.  ‘n Verdere vreemde ding gebeur.  Hierdie inwoners van Jerusalem kom van wydverspreide areas.  Daar het hulle die plaaslike tale geleer en beskou hierdie tale as hul moedertale.  Die dissipels wat met die Gees vervul is, is nou besig om vir hulle die Evangelie van die Here Jesus Christus uit te lê, maar hulle hoor die boodskap in hul eie moedertaal.  Selfs die mense uit ‘n heidense agtergrond hoor ook hulle tale.  

Die mense staan verstom en luister.  En dan begin die mense om op hierdie boodskap te reageer.  Mense neem die boodskap aan en kom tot bekering.  Hul vraag was:  Wat is besig om te gebeur?  Nou kry hul die antwoord.  God is besig om deur Sy Gees menselewens te verander.  Daar is groot opwinding en vreugde onder die mense.  

Ongelukkig is daar ook die wat skepties is en ongelowig bly.  In plaas daarvan dat hulle net verklaar dat hulle nie glo nie, gaan hulle verder deur die getuies te probeer verkleineer, deur te sê dat hulle sekerlik dronk is.  Nee, hulle is nie dronk nie.  Hulle is gevul met die kragtig Gees van die lewende God.  Nou kan hulle nie meer stilbly oor die waarheid van die Evangelie nie.   Ons moet besef dat hierdie selfde kragtige Gees ons vandag steeds vul en toerus om as konings, priesters en profete vir die Here Jesus Christus op te tree.  Mense gaan steeds probeer om ons optrede en boodskap te ontken, maar dit moet ons nie verhoed om aan te hou verkondig nie.  Die reaksie van die wat wel glo maak alles deur en deur die moeite werd.