Preekskets 15 Mei 2022 Ds Jacques – Die nuutheid wat God se genade bring


Teks:  Handelinge 11:1-18

Liedere:  469:1,2  309:1,2,3   467:1,2

Die Joodse geloof en kultuur het uit wette en voorskrifte bestaan.  Alles het oor reinheid en heiligheid gegaan, wat op die oog af baie goed klink.  Ongelukkig het dit 2 probleme veroorsaak.  Eerstens het die Jode begin glo dat net hulle alleen heilig en rein genoeg is want hulle is die uitverkore volk van God.  Niemand anders het God se liefde en omgee verdien nie.  Tweedens het dit ook gemaak dat hulle al meer op die uiterlike handelinge van reinheid gefokus het en al minder op die innerlike vernuwing wat God bring gerig was.  Sommige Jode het Jesus aanvaar en besluit om Hom te volg.  Ook hier het hierdie twee probleme ingesluip.  Steeds het hulle gevoel dat Jesus ‘n Joodse verlosser vir die Jode is.  Selfs die dissipels het hiermee gesukkel.  Wanneer Jesus mense oor die aanvaarbare grense van die tyd bedien of op die Sabbatdag wonders doen, is die mense kwaad vir Hom oor wat Hy doen. 

Petrus is een van Jesus se heilige volgelinge.  Hy is besig om die evangelie aan ongereddes te verkondig.  Wanneer die mense egter hoor dat hy in ‘n nie-Jood se huis ingegaan het en selfs saam met hom geëet het, is hulle hewig ontsteld.  Wanneer Petrus weer by hulle aankom, baie opgewonde oor dit wat hy beleef het toe selfs nie-Jode tot bekering kom, loop hy hom in ‘n golf van kritiek vas.  Hy het die ondenkbare, die onvergeefbare gedoen.  Hoe kon hy so nalatig wees?  Hy is mos darem ‘n Jood wat weet hoe reinheid en heiligheid werk.  Dit wat hier gebeur het is daarom vir hulle onverstaanbaar. 

Hulle is so ontsteld dat hulle nie eens belangstel of uitvra wat met die heidene gebeur het nie.  Hulle is net oor Petrus se reinheid besorg.  Petrus verdedig homself glad nie.  Hy vertel eerder net vir hulle van die vreemde droom wat hy gehad het, die stem wat Kornelius gehoor het en van die wonder wat in sy huis gebeur het.  En dan stel hy dit aan hulle:  As dit dan nou is wat God in hierdie man se huis gedoen het, wie is ek dan om hom te verbied om ‘n kind van die Here te wees.  Hierdie man het God se Woord ontvang, hy het dit aanvaar en sy werke wys nou baie duidelik dat hy ‘n nuwe rigting ingeslaan het.  Die mense moes besef dat God se genade ‘n nuutheid bring.  God se genade strek oor alle grense.  Dit is nie altyd maklik vir ons om die grense oor te steek nie, maar dit beteken nie dat God dit in elk geval gaan doen nie.