Teks: 2 Timoteus 2:14-21
Liedere: 475:1,2 244:1,2 205:1,2,3
Ons hoor op verskille plekke dat ons onsself moet bekwaam, maar dat ons oorspronklike kwalifikasie eintlik net ‘n toelating tot ons beroep is. Ons moet voortdurend besig wees om onsself verder te bekwaam. Daar word gepraat van voortgesette opleiding. Om ons beroepe sinvol te kan beoefen is dit baie belangrik dat ons hiermee besig is. En dit is waar vir alle fasette van ons lewens. Ook ons geestellike lewe.
Paulus gee vir Timoteus hier riglyne waaraan hy kan vashou om seker te maak dat hy in sy geestelike lewe groei. Hy waarsku hom eers deur te sê dat hy versigtig moet wees oor hoe hy met mense praat. Dit is so noodsaaklik dat hy seker moet wees waaroor die evangelie van Jesus gaan. Jy kan nooit uit onkunde optree nie, maar om dan met mense in argumente betrokke te raak, te skinder, te baklei, teologiese teorieë te probeer verdedig of vas te sit met ander, gaan die uitbreiding van die evangelie glad nie help nie.
Daar is ‘n plek waar jy jou standpunt kan stel en dit ook goed moet doen, maar daarna is dit so belangrik om oor te gaan in die uitleef van dit wat jy met jou mond bely. Paulus waarsku vir Timoteus dat tyd kosbaar is. Elkeen van ons het ‘n vasgestelde tyd wat vir ons op hierdie aarde gegun word. Dit is die enigste tyd wat jy tot jou beskikking het om die taak wat die Here op jou skouers plaas uit te voer. Om hierdie tyd met sinnelose praatjies of afbrekende gesprekke te vermors, mag nooit gebeur nie. Wanneer mense met emosionele seer na jou toe kom of een of ander krisis beleef, wil hulle nie hê dat jy vir hulle ‘n diep teologiese antwoord vir hul probleem verskaf nie. Hulle wil getroos word. Hulle wil voel dat jy verstaan en dat jy omgee. Jy moet eenvoudig daar wees om hulle met die liefde van Jesus aan te raak. Dis waarvoor ons geroep word. En almal van ons is daartoe instaat. In ‘n huis is daar items wat vir algemene gebruik aangewend word en ander wat weer net met spesiale geleenthede gebruik word. God se Gees kom raak ons aan en maak dan van ons besonderse instrumente in die hand en in diens van God. Laat Hom toe om dit in jou lewe te doen.