Teks: Jakobus 5:7-10 en Matteus 11:26
Liedere: 339:1,2 340:1,2,3 344:1,2,3
Daar is 41 verwysings in die Hebreeuse Bybel na die Christus of die Messias wat sou kom. Vir die mense wat geleef het voordat Jesus na die wêreld gekom het, moes die verwysing na Sy koms ‘n groot misterie ingehou het. Niemand het presies geweet wanneer Hy sou kom en hoe Hy sou lyk wanneer Hy na die aarde sou kom nie. Tog het die profete reg deur die Bybel die verwagting geskep dat die Messias sou opdaag om die mense te red. Dalk het die eerste mense gedink dat enige van die vroeër leiers wat in Israel opgetree die Messias sou kon wees: Abel, Abraham, Noag, Moses, Josua, Elia, Elisa, Dawid of enige van die ander groot leiers van hul tyd.
Tog het hulle gou agter gekom dat nie een van hierdie mense die regte een kon wees nie. Almal het hul foute en almal leef ook maar net vir ‘n rukkie in hierdie wêreld. Later in die Ou Testament word die afwagting vir die koms van die Messias al groter en al meer detail van Sy koms word bekend. Hy is die Regverdige Koning wat oor almal gaan heers. Hy is die Lydende Dienskneg. Hy sit aan die regterhand van God. Al is Hy die Oorwinnaar ry Hy op ‘n donkie.
So word die koms van die Messias al meer ‘n realiteit en die afwagting al groter. Tog word Hy, wanneer Hy wel na die aarde kom, nie erken of herken deur Sy eie mense nie. Selfs Johannes, die een wat geroep is om die pad vir Hom gelyk te maak en aan die mense Sy koms te verkondig, is onseker of Hy wel die langverwagte Messias is. Johannes laat stuur ‘n boodskap na Jesus. Die boodskapper moet gaan uitvind of Johannes reg verstaan het en of hy die regte een se koms aangekondig het. Dan antwoord Jesus hom, dat hy moet kyk na wat alles besig is om te gebeur: Blindes sien, dowes hoor, lammes loop, hongeres word gevoed, die dooies staan op… En nog vele meer. Jesus antwoord nie vir Johannes direk nie, maar Hy help hom om die verandering wat die Messias se koms gebring het, raak te sien. Daar was ‘n groot verwagting en ‘n afwagting by die mense. Jesus is die Een wat dit vir hulle vervul. Die vraag vir ons vandag is of ons ook so geduldig op Sy tweede koms wag? Is ons ook net so opgewonde oor Sy koms en verwag ons ook radikale veranderinge in ons samelewing omdat Hy by ons is?