Preekskets 5 Februarie 2023 Ds Jacques – Geloof word deur liefde gewys


Teks:  1 Johannes 5:1-12

Liedere: 220:1,2,3   214L1,2,3   212:1,2,3

Die lewe wat God vir Sy kinders gee, word getoets aan geloof, geregtigheid en liefde.  Geloof is die voorwaarde vir redding.  Dit gaan hier nie net oor intellektuele kennis nie.  Dit gaan oor ‘n geloof wat oorgaan tot vertroue, ‘n volle oorgawe aan Jesus.  Jesus is die objek van ons geloof.  Ons het geen reg om kinders van God genoem te word nie, maar deur Sy verlossingswerk raak ons dit tog.  Dis absolute genade.  Deur Jesus se werk word ons regverdig voor God verklaar.

Hierdie geloof loop nou uit op liefde en gehoorsaamheid.  Die natuurlike uitdrukking van ons nuwe lewe is liefde vir God, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het.  Maar daar word meer van ons gevra.  Die wêreld staan teen God.  Wêreldse idees, beginsels, gedrag en gees , is almal teen God se wil.  Nadat ons as gelowiges deur geloof gered is, verstaan ons egter dat God die wêreld oorwin het.  Ons tree nou tot die stryd toe.  Alhoewel ons weet Jesus is die Oorwinnaar, weet almal in die wêreld dit nog nie en glo almal in die wêreld dit ook nie.

Daarom raak dit nou ons verantwoordelikheid om daaroor te praat.  Dit raak ons taak om Jesus as die Oorwinnaar aan die wêreld bekend te stel.  Ons deel in die oorwinning, omdat ons aan die Oorwinnaar verbind is en Hom ken.  Johannes 16:33 verseker ons dat Jesus die wêreld oorwin het en 1 Johannes 4:4 sê dat God hierdie oorwinning aan gelowiges gee.

Ons taak is om te gaan getuig oor wat Jesus gedoen en wie Hy vandag vir elkeen van ons is.  Ons is Sy getuies.  Gelukkig help die Heilige Gees ons daarmee.  Om ons te help vashou aan die waarheid van wat Jesus gedoen het, is die sakramente, die doop en die nagmaal, gegee om ons in ons oortuiging te versterk.  Dis waarvoor ons geroep is en dit is wat tot ons beskikking is om ons daarmee te help.

Ons moet ons daaglikse wandel met God met die wêreld deel en dan uitsien na die Ewige Lewe wat vir ons wag.  Ons is nie meer verlore nie, want ons behoort aan die Oorwinnaar.  Kom ons getuig daaroor.