Teks: Handelinge 7:55-60
Liedere: 454:1,2,3 196:1,2,3,4 477:1,2
‘n Martelaar is iemand wat gemartel word vir dit waarin hy glo. In die geskiedenis van die kerk was daar al baie mense wat ter wille van hul geloof gemartel is en selfs hul lewens daarom verloor het. Die Afrikaans spreekwoord sê: Die waarheid maak seer. Tot ‘n mate is dit presies wat gebeur wanneer mense so ver gaan as om gelowiges te martel. Gelowiges konfronteer mense met die waarheid van Jesus se Evangelie. Die hoorder hou nie van wat hulle hoor nie. Hulle hou nie daarvan om gekonfronteer te word nie. Die waarheid maak hulle letterlik seer. In plaas daarvan om na die boodskap te luister, besluit hulle eerder om van die boodskapper ontslae te raak.
Stefanus staan voor ‘n klomp Jode en getuie oor dit wat hy glo. Hy vertel vir hulle hoe Jesus sy lewe verander het. Hy konfronteer ook die mense wat vir Jesus se dood verantwoordelik was en daag hulle uit om hul verhouding met Jesus reg te maak. Hierdie boodskap maak hulle woedend kwaad. Stefanus sien die oproer en moes besef dat sy lewe nou in groot gevaar is. Ten spyte daarvan kan hy stil bly nie. Hy is vol van die Heilige Gees. En die Here gebruik hom op hierdie manier op ‘n baie besonderse manier om die waarheid oor te dra.
Die bloed van martelare wat in die grond val is soos saad vir die koninkryk, wat ontkiem en ‘n groot oes tot gevolg het. So is Saulus ook teenwoordig. ‘n Jong man wat die klipgooiers se klere op pad en dink dat dit wat hulle doen reg is. Daarna sal hy self op ‘n reis vertrek om te kyk of hy nie ook van nog Christene ontslae kan raak nie. Later kom hy tot bekering en sy naam word na Paulus verander. Al het hy nou niks gedoen om Stefanus se lot te verander nie, sal hy later skryf oor Stefanus se invloed. Verder veroorsaak hierdie marteling dat die Christene reg oor klein-Asië versprei, deurdat die mense weg vlug. Die daad het dus nie die einde van die kerk beteken nie, maar eerder die verspreiding van die Evangelie na ‘n nuwe vlak toe geneem. So werk God. Dikwels voel dit vir ons of dinge heeltemal buite beheer is. Dis soms juis dan dat die grootste wonderwerke op die punt staan om te gebeur. Vertrou God.