Teks: 1 Johannes 4:7-21
Liedere: 156:1-4 241:1,2 250:1,2 155:1,2,3
God is liefde. Hier val die klem op die woord “is”. Die implikasie is dat God nie van tyd tot tyd vir sekere dinge of sekere mense lief word en dan weer vir ander dinge of mense nie, of dat God se liefde tydelik is en tot ‘n einde kom nie. God se karakter is liefde. Dis Wie en Wat Hy in wese is. Hy het nie lief nie, Hy is liefde. Liefde kom vir Hom natuurlik. Alles wat God doen kom vanuit hierdie karakter van liefde van Hom. Alles word dan ook deur Hom aan die hand van liefde gemeet. Dit is vir Hom die dryf en die kriteria vir alles.
Maar vir liefde om werklik beleef te word, moet daar ook iets of iemand wees op wie die liefde uitgestort moet word. As ek myself stoksiel alleen op ‘n eiland bevind kan ek so lief wees vir mense of vir sekere aktiwiteite as wat ek wil. Ek sal dit nie kan doen nie en nie my liefde teenoor die mense kan verklaar nie, want ek sit heeltemal alleen op my eie. Niemand weet eens dat ek leef of weet enigsins van my bestaan nie.
God is liefde. Daarom skep Hy sodat daar iets of iemand kan wees vir wie Hy Sy liefde gaan gee en wat ook vir Hom terug kan lief wees. Hy skep die aarde en die mens. Hy kies vir Hom ‘n volk. Hy stuur Sy Seun na die wêreld omdat Hy die wêreld so lief het. Maar meer as dit het Hy nie net die sand, water, klippe, plante en diere lief nie. Hy stuur Sy Seun sodat elke mens wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het die mense van die wêreld so lief dat Hy Sy Seun vir ons stuur. En omdat ons God lief het en God as die God van liefde ervaar, moet ons soos Hy wees of raak. Ons is kinders van Hom. Ons is navolgers van Hom. Ons is Sy beelddraers. Daarom moet ons alle gedrag van ons aan die God van liefde meet. Ons moet seker maak dat ons nie selfsugtig leef nie. Nie vir eie belang leef nie, maar dat Sy lig van liefde in en deur ons skyn. As God, dan ons ook. So maak kinders van God.