Teks: Matteus 25:31-46
Liedere: 215:1-5 223:1,2,3 590:1,2
Ons is nie van nature daarop ingestel om die dinge te doen wat vir God belangrik is nie. As ons die teks lees kom ons baie gou agter dat albei die partye wat in die teks genoem word, daarmee sukkel. By die oordeelsdag word albei groepe se antwoord op die vraag, voor die Here geplaas. Gelowiges, mense wat die wil van God doen, is verbaas wanneer die Here by die oordeelsdag positief op hulle manier van lewe reageer. Die Here herinner hulle daaraan dat hulle vir Hom gevoed en geklee het, besoek en versorg het, toe dit die tyd daarvoor was. Wanneer die mense dit hoor is hulle stom verbaas. Hulle kan aan geen oomblik dink waar die Here aan hulle verskyn het en hulle die Here met hierdie dinge bedien het nie. Hulle reageer dan ook teenoor die Here deur vir die Here te vra: Here, wanneer het ons nou hierdie dinge gedoen? Die Here antwoord hulle dat Hy dit beleef dat hulle dit asof aan Hom gedoen het, terwyl hulle mense wat behoeftig is versorg en besoek het. Die Here sê dan ook vir hulle, vir sover as wat enige persoon goed doen aan ander, het ‘n mens dit gedoen asof vir die Here self.
Die ongelowiges staan ook verstom voor die Here. Wanneer die Here hulle hieroor konfronteer, sê hulle dat hulle nooit die Here gesien het nie en daarom heeltemal onskuldig voel. Hoe moes hulle nou geweet het dat dit asof vir die Here self is wat hierdie dinge gedoen word. Om hierdie rede het hulle dus niks gedoen wat ander se lewens kon verruim nie. Daarom is hulle skuldig voor die Here.
Die les wat die Here hier vir ons wil leer, is dat ons nie altyd die Here raaksien of Hom verwag wanneer ons na ander mense se lewenspaaie kyk nie. Ten spyte daarvan dat ons Hom nie erken nie, vat dit niks van die realiteit weg dat die Here vir ons sekere opdragt waarby ons moet hou nie. Daarom is dit veel beter om getrou aan die Here te lewe. Leef met die verwagting dat dit die Here is wat mense op ons lewenspad stuur. So maak Hy dat die mense se lewenspad met ons s’n kruis. Ons moet leer om dit te begin besef. Ons moet ook onthou dat die Seun weer terugkom en ons moet met daardie dag in ons gedagte leef. Hy kom om ons te kom haal. Wees gereed daarvoor.