Teks: Filippense 3:1-4:1
Liedere: 202: 1,2 188:1,2,3 334:1-4
Verander geloof mense se lewens? Dit klink dalk na ‘n vreemde vraag. Maar dink so ‘n bietjie hieroor. Jesus het aarde toe gekom om vir ons die grootste geskenk te kom gee wat nog ooit in die wêreld gesien is. Die eerste gelowiges se lewens is radikaal verander. Hulle is selfs bereid om te sterf vir hulle geloof. So verseker sien ons in die Bybel dat geloof mense se lewens verander.
Dalk moet ons die vraag meer persoonlik maak. Hoeveel mense ken u persoonlik wie se lewens radikaal deur hul geloof verander is? Nou raak dit moeiliker. Ons ken dalk ‘n handjievol mense, maar die radikale verandering van die Bybelse tyd ontbreek ongelukkig grootliks vandag. Die vraag is dalk nie regverdig nie, want die basis van waar die eerste groei plaasgevind het was baie klein, terwyl ons vandag in ‘n tyd leef wat miljoene mense hulself as Christene identifiseer. Baie mense raak vandag groot in ‘n Christelike huis en hoor al van die Evangelie voordat hulle hul voete die eerste dag in ‘n skool sit.
Tog beteken dit nie dat ons tevrede kan raak en net kan bly soos wat ons is nie. Ons moet voortdurend in ons geloof groei. Ons is veronderstel om geestelik te groei. Ek kan tog nie vandag dieselfde mens wees as wat ek was toe ek 5 of 10 of 15 jaar oud was nie. Ek groei. Ek ontwikkel. Ek verander. So moet dit ook in my geestelike lewe wees. Soos Paulus ons leer, kan ons nie net geestelike baba’s bly, wat slegs in staat is om geestelike melk te kan verteer nie. Ons moet begin om ook die moeilike dinge in die gees te begin verstaan en te begin verteer. Ons word geroep tot ‘n lewe waar ons ons geloof prakties en sigbaar in die wêreld uitleef. Ons reageer op God se roepstem en ons begin om in ‘n verhouding met Hom te leef. Hierdie verhouding met God maak ons van vorm godsdiens vry. Ons geloofslewe word gekenmerk deur aanbidding. Dis ‘n lewe wat aan Jesus verbind is en waar ons oortuigings in navolging van Jesus geleef word. Hierdie verhouding of verbintenis aan Jesus is die kern van die Christelike lewe, wat van ons verwag word. Dit is net in of deur hierdie verbintenis aan Jesus dat ons in staat is om te kan groei. Groei kan nooit in ons eie krag gebeur nie. Ons lewe moet volledig aan Jesus verbind wees, waar ons voortdurend ons oortuigings uitleef en waar ons die heeltyd in ‘n proses van groei aan Jesus en aan mekaar verbind bly. In nederigheid nader ons tot God en vra Hom om ons geloof te vernuwe en te versterk. Om ons sondes te vergewe, ons lewe te reinig en ons geloof te versterk. Ons vertrou op God en bly altyd in Jesus geanker.