Preekskets 20 Oktober 2024 Ds Jacques – Jesus ons volmaakte Hoëpriester


Teks:  Hebreërs 4:14-5:10

Liedere:  191:1,2,3  241:1,2,3  309:1,2,3

‘n Priester moes as ‘n plaasvervanger tussen die mense en God dien.  Die priesters is baie spesifiek verkies en afgesonder vir hierdie rol.  Na die sondeval is die wonderlike, persoonlike en intieme verhouding wat tussen Adam en Eva en God bestaan het versteur.  Priesters moes nou kontak maak met God en vir die mens intree by God.  Die hoëpriester het ‘n unieke rol gespeel.  Hy kon een keer per jaar in die allerheiligste ingaan, om daar vir versoening vir sy sondes te smeek.

Nou sê die skrywer in hierdie teks vir ons dat die hoëpriester juis hierom simpatie het met ons situasie.  Selfs die hoëpriester het gesondig en moet vir vergifnis vra.  Daarom kan priesters met gewone mense simpatiseer wanneer hulle om vergifnis kom vra.  Selfs die wonderlikste, mees toegewyde mense wat ooit geleef het, soos byvoorbeeld Moses, is nog steeds nie goed genoeg of volmaak nie.  Daarom stuur God Jesus na die aarde om in ons plek te kom sterf en waarlik versoening vir die mensdom te kom bewerk.  Hy is self God.  Hy is sondeloos.  Hy weet daarom watter offer nodig gaan wees om ons te bevry. Elke persoon wat as ‘n priester of hoëpriester opgetree het, was maar net ‘n plaasvervanger.  Elke offer wat op die altaar gebring is, was ‘n heenwysing na die volmaakte offer wat aan’t kom was na die wêreld.  En Jesus is daardie offer.  Hy is sondeloos en daarom volmaak.  Net Hy kan vir ons volkome verlossing bring.  Hy het ook volledig mens geword.  En dit is so belangrik.  Juis daarom het Hy simpatie met ons en het Hy begrip vir die situasie waarin ons onsself bevind.  Hy is self versoek.  Hy moes self aan Sy Vader se opdrag gehoorsaam wees.  Hy kon.  Ons nie.  Maar Hy is bewus van hoe moeilik dit vir ons is.  Daarom kan ons na Hom gaan en Hom vra om ons by te staan.  Ons word uitgenooi om Hom te nader vir hulp.  Ons weet dat ons Sy troon met vrymoedigheid kan nader, want Hy is die volmaakte Hoëpriester.  Niemand hoef in ons plek ‘n plaasvervanger te wees nie.  Ons is nou deur God aanneemlik verklaar en staan in ‘n nuwe verhouding met ons Here.