Teks: Hebreërs 9:23-28
Liedere: 100:1,2,3,4 241:1,2,3 390:1,2,3,4 245:1,2,3
Ek is seker daarvan dat almal van ons as kinders baie raas gekry het, of dat ons ons eie kinders of kleinkinders al baie uitgeskel het, as hulle met hulle modder voete deur ‘n silwerskoon huis hardloop. Alles waaraan hulle vat en alles waarop hulle gaan sit, word deur die vuil lyf besmeer. En die arme persoon wat die hele dag lank gewerk het om die huis so skoon te kry, se handewerk kom nou alles tot niks. So werk sonde ongelukkig ook met ons. Dit besmeer ons en deur ons sonde-vuil lyfie besmeer ons alles en almal waaraan ons raak.
So wat is die oplossing? Dit wat vuil is kort ‘n ordentlike was. Die een wat so vuil is moet in ‘n bad gegooi word, skoon geskrop word en skoon klere aantrek. Dan kan jy met vrymoedigheid in die huis rondbeweeg sonder dat jy bekommerd hoef te wees dat jy alles wat mooi skoon is sal bemors. Wanneer ons nou oor die hemelse dinge gesels het ons ‘n selfs dieper reiniging nodig om ons in die hemel toegelaat te word. Onthou dat die Bybel ons leer dat God heilig is en daarom moet ons ook heilig soos Hy wees. Dit is die kriteria wat aan ons gestel word om ons in Sy woning te laat tuis kom.
Soos ons ongelukkig weet is ons almal sondig en kan ons daarom nie in Sy huis ingaan nie. Gelukkig is daar vir ons hoop. Gelukkig hou God self die antwoord vir ons probleem in Sy hand. Hy het ‘n enigste Seun, vir wie Hy baie lief is. Sy Seun is self ook God. Daarom is Hy heilig en volmaak. Hy kan dus met vrymoedigheid in God se hemel ingaan. Hy stuur Sy Seun om in ons plek aan ‘n kruis op aarde te kom sterf, om so vir al ons oortredings te betaal. Dis soos die ma wat die kind by die kombuisdeur neem, silwerskoon was en dan met nuwe klere bedek en in die huis inneem. So maak Jesus met ons. Sy eie bloed word ons ontsmettingsmiddel of skoonmaakmiddel. Deurdat Hy ons skoon maak en skoon verklaar is ons nou vir God aanneemlik en welkom in Sy woning. Dit is wat ons met die nagmaal herdenk. Ons was met sonde bevlek en nie welkom by God nie. Deur Sy Seun se offer is ons gewas en witter as sneeu – En altyd welkom in Sy woning.