Teks: Hebreërs 10:19-23
Liedere: 213:1,2 244:1,2 255:1 284:1,2,3
Jesus verwag van ons om goed te doen. Dis nie net ‘n goeie idee of ‘n goeie ding om te doen nie. Dis die verwagting van Jesus. Gelowiges kan nie in isolasie, weg van ander mense af, leef nie. Ons het mekaar nodig. ‘n Gebroke gemeenskap het die heelmakende teenwoordigheid van gelowiges nodig. Maar besef ons die noodsaak van mekaar en om in mekaar se lewe betrokke te wees? Dalk as ons die rede waarom Jesus dit as belangrik ag verstaan, sal ons meer erns met ander mense maak.
Jesus is die basis van die gemeenskap tussen gelowiges. Ons is wie ons is omdat ons geloof op Jesus berus. Dit gaan oor wat Jesus vir ons gedoen het. Dit bepaal ons identiteit en ons bestaansreg. Die eerste deel van Hebreërs 10 gaan juis oor wie Jesus is. Hy is die Redder van mense. Hy is die volledige, volkome en perfekte offer vir ons sondes. Die wet in die Ou Testament en die offerstelsel was net ‘n skaduwee van wat in Jesus sou kom.
Met Jesus se dood word die voorhangsel in die tempel geskeur en die skeiding tussen ons mense en God word uitgewis. Die Allerheiligste is nou nie meer weggesteek nie. Ons kan vrylik deur Jesus na die Vader gaan. Hy raak die weg vir ons en ons kan met vrymoedigheid na die Vader gaan. Daarom kan ons nou tot God met ‘n opregte hart nader.
Dit het nie net ‘n effek op ons verhouding met God nie. Dit het ook ‘n effek op ons en ons verhouding met mekaar. Alle vrygemaaktes deel dieselfde oortuiging. Ons deel dieselfde geloof. Daarom word ons aangemoedig om te volhard in die geloof. Die eerste kerk het verdrukking en swaarkry geken. Hulle was op mekaar aangewese vir ondersteuning. Dalk voel ons ons is gelukkig, want ons ken dit nie, maar tog raak die tekens al duidelik dat ons in ‘n wêreld leef waar ons geloof aangeval word. Juis nou het ons mekaar nodig, moet ons mekaar ondersteun en styf aan ons geloof vashou. Hy is getrou. Bly naby Hom. Bemoedig mekaar. Help mekaar. Dis die verwagting wat Jesus vir ons het. Saam staan en saam doen is ‘n integrale deel van kerk wees.