Preekskets 19 Januarie 2025 Ds Jacques – Die herstel wat die Here bring


Teks:  Jesaja 41:8-20

Liedere:  158:1,2,3  245:1  199:1,2,3

Wie is die mens dan dat U aan hom dink?  Reg deur die Bybel stel die skrywers dit aan ons dat die mens maar baie gering in vergelyking met God is.  Ons is regtig nie so belangrik soos wat ons dink nie.  Ons is sondaars en ons kan geen aansprake teenoor God maak nie.  In ons moderne era het die denke oor die mens egter verander.  Humanisme maak dat ons as mens as baie belangrik gesien word en dat ons op baie regte kan aanspraak maak.

In die tyd van Jesaja het die Israeliete ook meer van hulself gedink as wat vir hulle goed en gesond was.  Jesaja waarsku hulle daarteen.  Dan gebeur die ondenkbare.  God se volk word in ballingskap weggevoer.  Hulle verloor amper alles wat vir hulle kosbaar en belangrik is.  In ‘n vreemde land sukkel hulle om te verstaan wat nou met hulle gebeur het.  Het God van hulle vergeet?  Dan kom hulle tot inkeer.  Hulle toon berou vir hul oortredings en verkeerde manier van dink.  Jesaja verseker hulle nou dat hulle niks hoef te vrees nie.  God is by hulle teenwoordig, selfs hier in die vreemde, en Hy staan hulle in hul swakheid by. 

Hulle moes eers hul plek voor God verstaan.  Eers wanneer jy besef hoe klein jy nou eintlik is en hoe nodig jy God in jou lewe het, is jy in die regte posisie om volledig oor te gee en God te vertrou.  Dan kan jy ook effektief vir alles wat moontlik in jou lewe mag gebeur kans sien, natuurlik met die hulp van God.  As jy bang is of sekere dinge vrees, erken jy dat jy God se beskerming nodig het.  Hy is jou sekuriteit in die lewe.  Hy gee jou die krag wat jy nodig het om alles wat moontlik in jou lewe kan gebeur te hanteer.  Ons weet dat God alomteenwoordig is.  Ons kan enige plek in gebed met God praat.  Deur Sy Gees is Hy altyd vir ons daar.  God weet van alles.  Hy is in beheer.  Hy beskerm ons.  Ek hoef regtig niks te vrees nie.  God sal ons versterk.  By Hom is ons veilig.  Hy sal met ons teenstanders afreken.  As ek dit besef word my gedagtes getransformeer.  Ek weet dat net goedheid en guns my sal volg as ek op God vertrou.  As ek dan begin om oor Sy goedheid te getuig, sal almal besef dat dit die werk van die Here is wat my anders oor die lewe laat dink.  Dis net die Here wat hierdie herstel in my lewe kan bring.