Preekskets 26 Januarie 2025 Ds Jacques – Geraak deur God se Woord


Teks:  Nehemia 8:1-13

Liedere:   188:1,2,3  168:1,2,3  499:1,2,3

Nehemia is die skinker vir die koning in ‘n vreemde land.  Hy kry boodskappe van hoe dit met die Jode gaan wat nog tydens die ballingskap in Jerusalem woon.  Dit ontstel hom vreeslik.  Hy begin ernstig tot die Here bid.  Hy vas, bid en huil oor sy volk.  Wanneer hy weer in die paleis kom en vir koning Artasasta as skinder optree, kom die koning agter dat Nehemia nie homself is nie.  Wanneer hy dan die rede vir Nehemia se ontsteltenis uitvind, gee hy hom toestemming om na Jerusalem terug te keer en die beskermingsmuur om Jerusalem te gaan herbou.  Die koning gee hom al die hulp, ondersteuning en tyd wat hy nodig mag hê om die projek suksesvol af te handel. 

In Jerusalem vind hy ‘n klomp moedelose mense.  Hul bure hou nie van die projek wat Nehemia gaan aanpak nie.  Die skelms wat die stad gereeld geplunder het, hou ook nie van wat hy gaan doen nie.  Hy motiveer die mense.  Elkeen gaan die stuk voor sy eie huis herbou en so veiligheid vir sy eie familie verseker.  Die mense word in bouspanne en verdedigingsgroepe ingedeel.  Binne ‘n rekordtyd van 52 dae word die hele muur herbou en die kritici se monde gesnoer.

Maar Nehemia se werk is nog nie klaar nie,  Hy besef dat die muur wel gebou is en dat daar veiligheid vir die mense verseker is, ongelukkig is daar nog ‘n geestelike leemte.  Vir jare is die Woord van die Here afgeskeep.  Hy besef dat die mense weer aan die Here verbind moet word.  Geestelike herstel is van die uiterste belang.  ‘n Platform word gebou en Esra lees die wet van Moses.  Hy begin om vroeg oggend vir die mense te preek.  Almal, mans, vrouens en kinders, vergader om na hom te luister.  Die Leviete beweeg tussen die mense rond en verduidelik vir hulle dit wat hulle nie verstaan nie.  Die mense word deur die Woord aangegryp.  Hulle raak aan die huil.  Intense berou volk.  Dan verseker Nehemia hulle dat dit nou ‘n tyd vir feesvierings is.  Moenie hartseer wees nie.  Hulle moet op dit wat hulle gehoor het reageer.  Dis wat die Here verwag.  Die muur is nou wel herbou, maar nou het geestelik herstel ook plaasgevind.  Dit is selfs nog belangriker.  Vandag werk dit ook nog net so.  Vertrou die Here.  Reken op Hom vir veiligheid en beskerming, maar herstel van die hart is nog meer belangrik.  Sy Woord is kragtig en waar.  Dit bring vreugde om van die krag van die Here en Sy Woord bewus te word.