Preekskets 02 Maart 2025 Ds Jacques – Jesus, die verheerlikte Seun van God


Teks:  Lukas 9:28-36

Liedere:  205:1,2,3  238:1,5  275:1,2,3,4   223:1,2,3

Metamorfose is die biologiese proses wat beskryf hoe ‘n insek van een vorm na ‘n ander verander.  Na die verandering is die nuwe vorm waarin die insek nou verskyn, heeltemal anders.  Dink maar net aan ‘n wurm wat in ‘n skoenlapper verander. 

Jesus kom vanuit die hemel en word as ‘n mens op aarde gebore.  Hier beleef en ervaar Hy alles wat ons as mense beleef en ervaar.  Hy kom leer ons hoe ons in Sy voetspore kan en moet volg.  Jesus besef egter dat Hy net ‘n beperkte tyd op aarde gaan wees.  Daarna gaan Hy terug na Sy Vaderhuis en dan sal Hy weer in Sy verheerlikte vorm leef.  Vir ons word die belofte gemaakte dat as ons in Hom glo en ons lewe aan Hom oorgee, sal ons ook saam met Hom en Sy Vader vir ewig in die hemel wees. 

In hierdie teks sien hoe ‘n transformasie van Jesus reg voor die oë van Sy dissipels plaasvind.  Die dissipels was verstom oor wat hulle gesien het.  Skielik verskyn Moses en Elia saam met Jesus.  Jesus se hele voorkoms verander.  Verder verklaar ‘n stem uit die hemel dat Jesus waarlik God se Seun is, die Seun oor wie God Hom verheug.  Hierdie gebeurtenis gee vir die dissipels ‘n voorsmakie van die volkome verheerliking wat nog op pad is en wat ook eendag op alle gelowiges wag.  Hierdie gebeurtenis versterk verseker die dissipels se geloof.  Dis veral nodig weens die gebeure wat in die volgende dae op Jesus wag, wanneer Jesus Sy lewe voor die oë van Sy dissipels gaan verloor.  Deur Moses en Elia te sien, verseker dit die dissipels dat daar waarlik ‘n opstanding uit die dood is en dat die ewige lewe op gelowiges wag. Hierdie verheerliking van Jesus skep verwagting ook vir ons.  Die vat alle vrese vir die toekoms, en veral vir wat vir ons na die dood wag, weg.  Jesus se verheerliking en God se stem uit die hemel, verseker ons dat Jesus werklik die Messias is, werklik ons Verlosser, gestuur deur God is.  Alles van Hom is waar.  Dit versterk ons geloof.  Dit gee ons hoop vir dit wat nog op ons wag.  Dit motiveer ons om verder vir Jesus te bly werk.  Ons weet waarop alles wat ons vir Hom doen gaan uitloop.