Preekskets 14 September 2025 Ds Jacques – Waarom word storms in ons lewe toegelaat?


Teks:  Markus 4:35-41

Liedere:  200:1,2,3  530:1,2,3  294:1,2,3

Ons is almal bang vir dinge.  Soms is dit regverdig, soos om vir ‘n kwaai hond of giftige slang bang te wees.  Ander kere is dit weer heeltemal onnodig of ‘n oordrewe vrees vir iets soos die donker of hoogtes.  In die verhaal wat ons hier lees is Jesus saam met Sy dissipels op see wanneer daar skielik ‘n reuse storm losbars. 

Ons weet die Here weet alles.  So as Hy alles weet, waarom het Hy dan nie eerder op land gebly en gewag tot die storm verby is, voordat Hy en die dissipels na die oorkant gevaar het nie?  Psalm 139:4 sê mos:  Selfs voordat ‘n Woord op jou tong kom, weet U dit Here.  So ons kan dan maklik dink dat die Here moeilike situasies in ons lewe kan vermy, sou Hy wou.  Hy kan enige iets doen en enige situasie verander.  Hy is die Seun van God. 

Tog kies Jesus soms anders, vir ‘n groter doel.  Hy laat soms slegte dinge met ons gebeur, om ons met dit ‘n lewensles te leer.  Soms laat Hy ons juis in situasies beland sodat ons kan leer om op Hom te vertrou.  Sodat ons van Sy krag bewus kan raak wanneer ons swak is.  In Matteus 28:20 belowe Jesus ons dat Hy by ons sal wees, al die dae tot by die voleinding van die wêreld.  Dit beteken nie net in die goeie dae nie, maar natuurlik dat Hy in die goeie en slegte daar vir ons sal wees.  Nou moet ons leer hoe dit werk en hoe ons Hom moet leer vertrou.  Om dit reg te kry moet die storm wat binne in ons woed eers stil gemaak word, voordat daar aandag gegee kan word aan die saak wat ons as ‘n storm ervaar.  Hy wil hê ons moet leer om Hom volledig te vertrou.  En om dit reg te kry moet ons deur moeilike situasies gaan sodat ons kan leer dat Jesus saam met ons is.  Soos wat Hy saam met Sy dissipels in die skuit was.  Dan kan ‘n mens in nuwe storms aan vorige geleenthede dink waar Hy getrou was.  So versterk ons geloof.  Môre bring weer nuwe storms.  Tog bly Jesus altyd getrou en by ons.  Geen storm is vir Hom te groot om te hanteer nie.  En ons hoef geen storm sonder Hom te hanteer nie.  Hy is altyd daar.  Altyd getrou.  Sy vrede is groter as my vrees.