Preekskets 9 November 2025 Ds Jacques – Die opstanding is ‘n werklikheid


Teks:  Lukas 20:27-40

Liedere:  157:1,2  209:1  395:1,3  411:1,2,3

Daar is verskillende sienings in die wêreld oor wat met mense na die dood gebeur.  Sekere godsdienste glo dat daar ‘n reinkarnasie is.  Volgens hierdie godsdienste is daar ‘n herhalende siklus waarvolgens ‘n mense weer en weer leef.  Volgens jou lewe word jy dan beloon of gestraf in jou volgende lewe.  In ander godsdienste word ons geoordeel volgens ons positiewe en negatiewe optrede.  Hiervolgens moet die mens goed genoeg leef om met die hemel beloon te word.  Dan is daar weer die mense wat ‘n sekulêre siening het.  Volgens hierdie siening is daar geen siel of gees nie.  Ons leef.  Ons sterf en alles is verby.  Al wat bly is die herinneringe wat jy nalaat.  Volgens die Afrika siening het die voorvaders weer ‘n invloed op die lewe hier op aarde. 

In Jesus se tyd het die Jode ook verskillende sienings oor die lewe na die dood gehad.  Die Fariseërs het geglo dat daar wel ‘n opstanding na die dood is.  Die Sadduseërs het dit nie geglo nie.  Nou probeer hulle Hom deur ‘n denkbeeldige storie uitlok.  In die Joodse kultuur moes ‘n broer met sy oorlede broer se weduwee trou en vir sy broer ‘n kind by haar verwek, as hy nie ‘n kind nagelaat het nie.  Volgens die storie was daar nou 7 broers wat een na die ander met ‘n vrou getrou het en nadat die laaste een gesterf het, het sy steeds geen kinders gehad nie.  As sy nou sterf, wie se vrou gaan sy in die hemel wees? In Jesus se antwoord gebruik Hy die ontmoeting tussen God en Moses in Eksodus om te wys dat God die God van lewendes is.  Die opstanding is ‘n werklikheid, maar die ewige lewe is tog anders.  Dis ‘n plek van vrede en gemeenskap met God, nie menslike verhoudings soos wat ons dit hier op aarde beleef nie.  Jesus het vir ons aan die kruis kom sterf om daardie lewe moontlik te maak.  As ons in Hom glo en ons lewe aan Hom oorgee, beloof Hy  ons dat ons vir ewige saam met God sal wees.  Dis kosbaar en waardevol vir ons.  Sy Seun sterf sodat ons kan lewe.  In die nagmaal vier ons dit.  Ons herinner mekaar daaraan.  Gaan leef met die sekerheid en hoop wat Hy vir ons bied.