Preekskets 3 April 2026 Ds Jacques – Die Liefde wat volbring is


Teks:  Johannes 19:16-30

Liedere:  395:1,2,3   396:1,2,3   387:1,2,3,4

Goeie Vrydag is nie net ‘n dag van hartseer nie, maar ook ‘n dag van diepe, heilige verwondering en betekenis.  Dit is die dag waarop Liefde Sy hoogste prys betaal het.  Ons staan vandag stil by die kruis van Jesus, maar ook die liefde van God vir ons.  ‘n Liefde wat nie halfpad omdraai nie.  Nie ‘n liefde wat opgee nie.  Die dag waarop Liefde kon sê: “Dit is volbring”.

Jesaja 53:5 leer ons: “Hy is ter wille van ons oortredings deurboor…die straf wat vir ons vrede bring, was op Hom”.

Aan die kruis hoor ons Jesus 7 keer praat.  Met elkeen van hierdie geleenthede breek daar iets van God se volmaakte liefde deur.  Elke woord openbaar iets van God se hart.

  • “Vader vergewe hulle”  – Liefde wat vergewe
  • “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” – Liefde wat red
  • “Vrou, daar is jou seun” – Liefde wat omgee
  • “My God, My God, waarom het U My verlaat?” – Liefde wat dra
  • “EK is dors” – Liefde wat menslik is
  • “Dit is volbring” – Liefde wat klaar gemaak het
  • “Vader, in U hande gee Ek my gees” – Liefde wat vertrou

Sonde is ernstig.  Die kruis wys ons hoe diep sonde sny.  Maar God se liefde is groter.  Jesus het nie gesterf omdat ons goed is nie, maar omdat Hy goed is.  Verlossing is vir ons beskikbaar.  Ons hoef nie te probeer om onsself te red.  Hy het reeds alles vir ons gedoen.  Ons moet dit net glo.  Ons moet net ons lewe aan Hom oorgee.  By die kruis leer ons ware liefde eindig in vertroue.

As ons na die kruis kyk sien ons liefde wat tot die einde toe gegaan het.  “Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom”.  Nou moet onsself afvra, wat doen ons met die kruis?  Kyk ons maar net daarna en stap onverander van die kruis af weg?  Of glo ek dat Jesus dit alles vir my gedoen het?  Gaan my geloof in vertroue oor, waar ek my hele lewe in Sy hand plaas?  Goeie Vrydag is nie goed omdat dit vir Jesus maklik was nie, maar omdat liefde gewen het.  Die liefde wat begin het by “Vader vergewe hulle”, het geëindig by “dit is volbring”.  En daardie liefde is vir my en vir jou.