Preekskets 17 Mei 2026 Ds Jacques – Die Gees bring nuwe vuur


Teks:  Handelinge 2:1-13

Liedere:  431:1,2   434:1,2,3

Stel jou die onsteltenis van ‘n matrikulant voor wat met groot opwinding op sy of haar matriekuitslae wag.  Die matrikulant kan nie wag dat die oggendkoerant moet verskyn om te sien of hy of sy geslaag het nie.  En dan die groot teleurstelling as die matrikulant se naam nie in die koerant verskyn nie.  Alle drome is skielik verpletter.  Maar by die skool word daar uitgevind dat daar ‘n drukkers fout aan die kant van die koerant was.  ‘n Paar name het ongelukkig uitgeglip.  Onmiddelik is daar weer vreugde, dankbaarheid en hoop.

Die dissipels het dalk so ‘n belewenis gehad toe hulle Jesus aan die kruis sien sterf het.  Alle hoop het by Golgota gesterf, maar dan is die graf leeg, Jesus verskyn aan hulle en hulle hoop vir die toekoms word weer herstel.  Met die hemelvaart voel dit dalk of Jesus hulle wees agter laat.  Hulle is nog sonder geestelike krag en weet nie wat in die toekoms op hulle wag nie.  Die belofte van die Heilige Gees word aan hulle gemaak.  Hulle moet net ‘n rukkie wag, dan sal hulle die Gees ontvang.  Alles sal dan vir hulle duidelik word. 

Pinkster vind plaas.  Hulle ontvang die Heilige Gees.  Dit is nie net ‘n gebeurtenis wat ons jaarliks herdenk nie, maar die die krag van God in mense se harte.  God is u binne mense teenwoordig.  Mense gaan nou nie meer die kerk van die Here in eie krag probeer opbou nie.  God se eie krag is in ons.  God se krag dryf ons.  Die Gees van God bring nuwe lewe.  Die Gees kom met wind en vuur.  Die lewe van die Here word in mense harte ingewaai en die vuur van God se reinheid kom leef in ons harte.  Die Gees van God plaas ‘n passie in ons harte.  Die gees troos mense.  Die Gees verander mense.  Die dissipels wat eers stil en bang was, verander nou in kragtige getuies.  Hulle skaam hulle nie meer vir Jesus nie.  Die Gees maak hulle beskikbaar vir Sy werk.  Dit is wat die Gees vandag nogsteeds in mense se harte doen.  Ook ons word deur die Gees gevul, geheilig en gemotiveer om vir Jesus op te staan en te getuig.  Die Here gebruik gewone mense.  Maar met die Gees in gewone mense se harte gebeur iets uitsonderliks – Die Gees se vuur verander ons harte.  Die kerk kan nie sonder hierdie krag van God funksioneer nie.  Vertrou Hom.