Preekskets 24 Mei 2026 Ds Jacques – Die Gees hou die kerk staande – “Hou moed – God is ook in die storm.”


Teks: Handelinge 27:13-44
Liedere: 439:1,2 442:1,2 440:1,2,3,4

Die lewe verloop nie altyd rustig nie. Soms verander die kalm, rustige lewe waaraan ons gewoond geraak het, in ‘n woeste storm. Die winde van verandering kan ‘n baie lekker lewe in ‘n oogwink in ‘n geweldige storm verander. Soos die storm waarin Paulus en die mense saam met hom op die skip, op die oop see vasgevang is. Wat vir hulle as ‘n doodgewone reis begin het, het ewe skielik in ‘n stryd om oorlewing verander.
Maar juis in storms wys God ons wie Hy is. Alles mag verlore lyk, maar God is in die donksterste van tye by ons teenwoordig. Alles lyk hopeloos, maar God se Gees gee weer vir ons hoop en moed. Dit is juis die Gees wat ons help om te volhard. Soos wat Paulus in Handelinge 27:25 sê: “Daarom, hou moed, manne, want ek vertrou God.
Die winde het die skip op die see rondgeslinger. Die matrose het alle hoop op uitkoms verloor. Hulle het eers die vrag en toe die toerusting oor boord gegooi, om die skip ligter te maak en hopelik so die mense se lewens te red. Niks het gehelp nie. Vir dae het hulle nie die son of sterre gesien nie. Die skip is sonder rigting op die oop see rondgeslinger. Hulle het later sommer heeltemal opgehou met eet en drink. Die situasie was desperaat.
So werk storms dikwels in ons lewens. Dit stroop ons van ons illusie van beheer. Dit bring ons by die punt waar ons besef dat ons menslike beheer maar beperk is. Storms laat aardse sekerhede verbrokkel en dan kom ons tot die besef dat ons werklik vir God nodig het.
Pinkter herinner ons dat ons sekerheid nie in aardse stabiliteit lê nie, maar in die teenwoordigheid van God se Gees in ons lewens. Die Gees is nie afhanklik van gunstige omstandighede om te kan werk nie. In die middel van die chaos staan Paulus op, nie die kaptein van die skip of die bevelvoerder van die soldate nie, Paulus, ‘n gevangene. Hy bemoedig hulle. Hy moedig hulle aan om weer te eet. Hy fokus hul oog op die Here en help hulle om te glo en te vertrou.
Dit is wat die Heilige Gees doen. Hy maak gelowiges hoopdraers in swaar en donker tye. In die wêreld is daar baie mense wat chaos versprei, maar gelowiges is geroep om hoop te versprei. Hoop wat diep in God geanker is.