Preekskets 31 Mei 2026 Ds Jacques – Jesus die eintlike superhero


Tesk:  Johannes 14:15-21, Filippense 4:13

Liedere:  212:1,2,3   513:1,2,3

Ons leef in ‘n wêreld waar mense van helde hou.  Gewoonlik is dit mense wat een of ander groot prestasie behaal het of uitgeblink het in sy of haar veld, hetsy sport, musiek, of wat ook al.   Dan kry ons ook nog superhelde.  Helde met superkragte, wat uitgedink word.  Mense soos superman of spiderman.  Hierdie figure kan dan dinge doen wat ons gewone mense nie kan doen nie.  Ons plaas dan ons vertroue in hierdie superhero’s met hul kragte.  Ongelukkig is daar ‘n probleem – Hierdie figure is uitgedink vir films en storieboeke.  Hulle bestaan nie regtig nie en kan jou daarom ook nie help nie.  Vir rukkies wat jy na die stories luister, kan jy jouself in die situasie verplaas en inleef, maar sodra jy die boek neersit of by die filmteater uitstap stap jy weer in jou gewone lewe in.  En hierdie figure kan niks aan jou situasie doen nie.

Gelukkig leer die Bybel vir ons dat ons ons vertroue in die Here kan stel.  Jesus kan dinge doen wat ons nie kan nie, want Hy is die Seun van God.  Hy is die enigste en werklik superhero.  Hy is nie net ‘n karakter in een of ander storieboek of film nie.  Hy is nie ‘n denkbeeldige held nie.  Die Bybel leer ons dat Jesus dinge op aarde gedoen het, terwyl Hy hier was, wat niemand nog ooit kon doen nie.  Hy het water in wyn verander.  Hy het siekes gesond gemaak, blindes laat sien, verlamdes laat loop, melaatse gereinig.  Waar Jesus gekom het, het Hy hoop gebring.  Hy het op water geloop.  Hy kon met vyf brode en twee vissies duisende mense voed.  Waar Jesus Sy mag gewys het, het Jesus tekort in oorvloed verander.  Hy het selfs dooies opgewek.  Die grootste wonder van alles is dat Hy aan ‘n kruis gesterf het, drie dae in ‘n graf was en daarna uit die dood opgestaan het.  Jesus het alles kom verander.  Hy sê vir ons dat sonde nie die laaste sê het nie, pyn het nie die laaste woord nie, die dood het nie die laaste woord nie, selfs nie eens jou verlede het die laaste sê oor ons toekoms nie.  Vir God is niks onmoontlik,.  Jesus doen wat niemand anders kan doen nie.  Die wêreld het nie nog superhelde nodig nie.  Die wêreld het nodig om vir Jesus te erken vir wie Hy is, ons volle vertroue op Hom te stel en dan vanuit Sy krag wat deur Sy Gees in ons is te leef.  Ons hoef nie bekommerd te wees oor wat in ons lewens gebeur nie, want Jesus het mag oor alles.