Teks: Psalm 85
Liedere: Soos ‘n wildsbok, Onder U vleuels sal ek skuil, Gebed vir elke vrou, Helder skyn U lig vir die nasies
Psalm 85 is ‘n merkwaardige gebed omdat dit tegelyk terug kyk, vorentoe kyk en na die hede kyk. Die digter kyk terug en onthou wat God gedoen het: “U was goed vir U land Here”. God het Sy volk se sondes vergewe, Sy toorn het bedaar en Hy het hulle herstel.
Maar dan kyk die digter na hulle huidige situasie en besef: “Ons het U genade weer nodig Here”. Hy bid: “Wil U ons nie weer laat herlewe sodat U volk hulle in U kan verheug nie?” Dit is ‘n relevante gebed vir ons tyd. Ons leef in ‘n wêreld waar mense moeg is weens spanning, verdeeldheid, misdaad, die verlies van hoop. Ook die kerk beleef uitdagings.
In so ‘n wêreld vra die Psalmis: Waarheen draai ons wanneer ons hoop nodig het? Die antwoord is eenvoudig: Draai terug na God toe.
Die manier hoe die digter dit doen is dan om te onthou wat God reeds gedoen het. Hy begin nie met ‘n aanklag teen die volk nie. Hy begin met ‘n herinnering. Onthou hoe goed God nog altyd vir Sy volk was. Dis belangrik. Gewoonlik wanneer ons moeilike tye beleef, kyk ons teen die probleme vas. Ons kyk na wat verkeerd is en wat ons verloor het. Maar hier leer die Psalmis ons dat geloof terug kyk. Ons moet onthou God was voorheen getrou. Daar is dae wat ons nie weet wat môre op ons wag nie. Ons is bekommerd oor die toekoms, maar onthou: God is nie vandag minder God as wat Hy gister was of wat Hy in die toekoms sal wees nie. Die God wat gister getrou was, sal dit vandag en môre ook wees. Ons moet erken dat ons God nou weer nodig het. Die woord “weer” is hier belangrik. Ons kan nie net by die verlede stil staan nie. Ons leef nie op gister se genade nie. Ons kan nie sê dat ons eenmaal in my lewe betrokke was en nou het ek nie meer nodig om Hom vandag te soek nie. Daarom is die grootste behoefte van ons tyd geestelike herlewing. Ons moet God weer die middelpunt van ons lewens maak. En hierdie herlewing begin by my. Ek kan nie net kyk na al die probleme om my en wonder wanneer gaan dinge reg kom nie. Ek moet na myself kyk en vra dat God my verander. Dan bid ons saam met die Psalmis: “Wil U ons nie weer laat herlewe sodat U volk hulle in U kan verheug nie?”