Preekskets 03 September 2017 Ds Jacques – Met my hande het Ek alles gemaak


Tema:  Met my hande het Ek alles gemaak

Teks:  Jesaja 45:12

 

As ons hierdie tyd van die jaar rondom ons in die natuur kyk, as ons sommer net rondom ons in die kerk kyk, sien ons die pragtige nuwe lentetyd wat vir ons aanbreek.  Ons sien hoe die pragtige bloeisels in ons tuine bot.  Ons sien en ruik die pragtige blomme wat in al hul prag verskyn.  Die prag van die natuur werk aansteeklik en ons as mense ontwaak ook in hierdie tyd.  Dis asof ons soos die winterdiere self in ‘n tyd van hibernasie was en nou weer na ons winterslaap ontwaak.

Die wonderlik om hierdie blomme prag rondom ons raak te sien en onsself aan die mooi daarvan oor te gee.  Tog is dit wat ons ervaar nog nie eens ‘n persentasie of twee van die somtotaal van al die prag wat God geskape het nie.  Die ou paar plantspesies waaraan ons blootgestel word het so ‘n wonderlike uitwerking op ons.  Maar ons moet nooit vergeet dat dit maar net ‘n paar voorbeelde uit die ongelooflike skeppingskat van alle plante op aarde is nie.

Die klassifikasie van plante is ‘n fyn wetenskap.  Volgens die internet is die volgende getalle ‘n paar totale van ‘n paar verskillende groepe plante en diere soos deur die wetenskaplikes geklassifiseer en beskryf.

Gewerwelde diere:              59 811

Hier is visse die grootste groep:   30 000

Dan is dit voëls                                9 958

Soogdiere is maar                5 416

Ongewerweldes:                  1 203 375

Waarvan insekte                  950 000  uitmaak

Plante maak 297 326 uit.

Dit sluit onder andere mosse, alge, saaddraende, keëelplante in. Dan kry ‘n mens nog die 16 000 paddastoel spesies en nog vele meer.

In totaal praat die wetenskaplikes van 1 589 361 plante en diere spesies op aarde.

Dis verskriklik baie.  ‘n Mens kan jouself nie eens dit probeer voorstel nie.

Maar dis steeds nie die heel interessantste feit nie.  Elke jaar word rondom 10 000 nuwe spesies ontdek.

Die geskatte hoeveelheid fauna en flora op aarde word dan deur verskillende mense op tussen 2 en 50 miljoen gereken.

Ons het nog nie ‘n benul wat alles in die woude van die wêreld en onder die seë en in diep grotte op ons wag nie.

Dit alles is deur My hand geskape.  Alles het deur My totstand gekom.  Deur Jesus Christus het alles wat op die aarde bestaan ontstaan.

Ons beskou iemand wat ‘n mooi tuin kan aanlê as iemand met groen vingers.  Die persoon het ‘n uitsonderlike oog vir die mooi estetiese plasing van plante en hy of sy ken die plante en weet hoeveel sonlig, water en voeding die plante nodig het.

Maar so ‘n persoon kan gewoonlik nie meer as om ‘n erf of twee versorg nie.

God sorg egter vir die hele 510 miljoen km2 landoppervlakte wat die aarde beslaan.  En meer:  Hy plant nie net plante wat Hy erns in ‘n hemelse kwekery gaan haal het nie.  Nee, hy laat plante voorkom.  Hy skep elke liewe ding wat bestaan.  In soveel oordaad dat ons vandag nog steeds verstom staan oor die grootheid van Sy skepping.

Lente is dus ‘n tyd om opnuut na God se skepping te draai en Sy grootheid in alles raak te sien, dit te erken en Hom daarvoor te eer.  My God is inderdaad, so groot, so sterk en so magtig…..daar’s niks wat my God nie kan doen….