Preekskets 01 Oktober 2017 Ds Jacques – Onthou om te onthou


Tema:  Onthou om te onthou

Teks:  Psalm 78: 1-7, 38-39 en Eksodus 17:1-7

Ons vergeet so gou.  Dink maar net hoe maklik vergeet ons ‘n naam of waar ons iets soos ‘n bril en sleutels in die huis neergesit het nie.  Ons het ‘n brein met ‘n amper onbeperkte kapasiteit waarin en net meer en meer data kan stoor.  Ons brein se kapasiteit kan vergelyk word met die hoeveelheid inligting wat oor 300 jaar se televisie tyd uitgesaai word.

Tog, ten spyte van hierdie feitlik onbeperkte kapasiteit, vergeet ons aan die ander kant baie inligting.  Ons korttermyn geheue kan maar slegs 5 tot 9 stukkies inligting onthou.  Deur gereelde herhaling of blootstelling of deur ‘n doelbewuste poging aan te wend, onthou ons meer inligting en vir langer.

Psalm 78 is ‘n teksgedeelte wat ons lei na die geheimenisse van die verlede.  Die teksgedeelte herinner ons aan wat God al alles in die verlede laat gebeur het, wat die voorvaders van God in die Bybel ervaar het en ook wat ons al in ons eie lewens ervaar het.  Ons taak as gelowiges is dan om dit met die volgende generasies te deel.  Kinders sal so leer om God te vertrou en gehoorsaam te leef.

Tog sê hierdie Psalm vir ons dat die volk wat al hierdie wonderlike belewenisse van God in die verlede gehad het ‘n opstandige, ongehoorsame, onbestendige en ontroue volk is.  Dit is amper ondenkbaar om te dink dat hierdie volk wat gesien het hoe God die soldate van Egipte in die Rietsee laat omkom, nadat Hy die Israeliete droogvoets daardeur laat trek het deur die see in twee te kloof, in wantroue en ongeloof kan verval.  Dat hulle Moses en God kan verwyt dat hulle nou in ‘n woestyn moet woon en besig is om van die dors om te kom.  Kyk net na hul optrede in Eksodus 17:1-7.  Hul maak rusie met Moses, tot so ‘n mate dat Moses vrees hulle sal hom met klippe dood gooi.

Moses draai na die Here toe en vra Hom wat hy moet doen.  Is dit nie maar ook net soos ons maak nie?  Die een oomblik staan ons in verwondering voor wat God vir ons gedoen het en die volgende oomblik is ons vreesbevange oor die probleme waarvoor ons te staan gekom het.  Ons sien geen oplossing of uitkoms nie.

Psalm 78:5 beveel ons egter om dit wat God gedoen het te onthou.  Ons moet alles in ons vermoeë doen om te onthou.  Dit versterk ons geloof.   So wat staan ons te doen?  Soos in ‘n huwelik waar daar intimiteit, liefkosing en emosionele omgee moet wees om te sorg en te wys dat ‘n huwelik gesond is, moet daar emosionele kontak met God wees en moet ons onthou wat God al alles vir ons gedoen het om so ons verhouding met Hom te versterk.

Psalm 78:38-39 wys vir ons op die karakter van God.  Al vergeet ons so gou en is ons so onbetroubaar voor God, ken God ons.  Hy vergewe ons gereeld.  Sy toorn onvlam nie teen ons nie.  Laat ons dus onthou wie God is, wat Hy al alles vir ons gedoen het en laat ons hierdeur ‘n oorwinnaarslewe voor Hom leef.