Preekskets 29 Oktober 2017 Ds Thinus – Soos ‘n herder versorg die Here sy kudde


Jesaja 40:1-11:           Soos ‘n herder versorg die Here sy kudde

Israel het uitkoms nodig

Die volk Israel verkeer in ‘n benarde posisie. Die profeet Jesaja sê aan koning Hiskia dat die volk na Babilonië weggevoer sal word. Hierdie traumatiese profesie word in 597 v.C. werklikheid toe die Babiloniërs Jerusalem verower. Tien jaar later word dit nog erger. Jerusalem word heeltemal vernietig.

Ballingskap

Vir die Jode word die ballingskap ‘n tyd van verlies. Die steunpilare waarop hulle wêreld gebou is, val een vir een om: hulle het hulle vryheid verloor: Jerusalem, die Godstad  is afgebrand; die tempel waar die Here deur die eeue aanbid is, is met die grond gelyk gemaak. Hulle grootste verlies lê in hulle geloof. Kan hulle nog op God reken? Van die treffendste gedeeltes in die Ou Testament beskryf Israel se smart. Psalm 137 vertel van die trane by die riviere van Babel. Die boek Klaagliedere verwoord treffend die verlies en ontworteling.

Terugkeer-belofte: Min dae

Jesaja 40:1: “Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier!” Terwyl die volk ontworteld in ballingskap sit, bevestig hierdie woorde dat die uitkoms aangebreek het. Lees vers 2.

Dit is vir mense wat deur verlies gebreek is, mense wat weet dat hulle ‘n duur prys betaal het, vir hulle dwase keuses. Die swaarkry is verby.  Die Here het hulle vergewe.  Dit is genade.

Maak vir die Here ‘n pad!

As deel van die troosboodskap kom die oproep om ‘n grootpad vir die Here te maak (3-5). Die verwoeste Jerusalem en die land sal herstel word tot ‘n hoofpad waarin die mag van die Here ten toon gestel word met die volk se terugkeer. Almal sal kan sien dat die Here die ware God is.

Mag van die Here se woord

Mense dra nie troos of enige grond vir troos in hulself nie. Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom wat verwelk. Die woord van God bly egter vir ewig. (8) Die goeie nuus lê nie in mense se vermoë om hul omstandighede te verander nie, maar in God. Met die kerkhervorming is die fokus teruggeplaas op die Woord van God en sy genade.

Hoogtepunt: Die karakter van God

Die beskrywing van die uitkoms wat uit God se teenwoordigheid voortspruit, bereik in verse 10 en 11 ‘n hoogtepunt wanneer die karakter van God beskryf word. Volgens vers 10 is die God soos ‘n magtige kryger. Hy is egter ook soos ‘n herder (vers 11).  Die twee beelde vorm saam ‘n kragtige geheel. Mag en sagtheid loop hand aan hand.

Wat beteken dit vir ons? Een: Ballingskap

Ballingskap kan baie vorme aanneem: Geografiese vervreemding – daar is miljoene vlugtelinge en migrante in ons wêreld. Politiese vervreemding – baie blankes beleef hierdie vervreemding in die nuwe Suid-Afrika. Sosiale vervreemding – mense word deur hul eie dwase keuses uitgeskuif. Gesinsvervreemding – baie gesinne is verskeur.

Twee: ‘n Belofte van tuiskoms

Ons teks bly ‘n uitnodiging om altyd met God rekening te hou. God se teenwoordigheid in die wêreld beteken dat daar altyd hoop is.

Drie: Jesus se koms bring hoop

Hierdie koms van God sien ons spesifiek ook in Jesus Christus, die Seun van God wat gekom het om by ons te wees. Hy het gekom as mens, gebore in ‘n stal, bestem vir ‘n swerwersbestaan en ‘n misdadigersdood – uitgelewer aan die ontworteling en verlies wat aan ons bestaan eie is, met die las van ons mislukkings op sy skouers. Hy is uitgestoot uit die gemeenskap van mense – sodat ons ingetrek kan word in ‘n egte gemeenskap met God en met mekaar.

Van hierdie God moet ons as kerk vandag, soos Israel van ouds, getuies wees.