NGKERK NOORDOOS-PRETORIA – GEMEENTE GESKIEDENIS 1970 – 2020
Op 9 Oktober 2020 vier ons gemeente, NG Gemeente Noordoos-Pretoria, haar 50ste bestaansjaar. Met groot dank word daar teruggedink aan al die broeders en susters van vorige generasies wat skouer aan die wiel gesit het ter uitbreiding van ons Heer se koninkrykswerk in hierdie gemeente. Hulle het ‘n groot erflating aan ons toevertrou. Dis met groot dank dat daar teruggedink word aan die Here se genade oor die afgelope 50 jaar. Wat hier volg is ‘n historiese oorsig van ons gemeente se geskiedenis van die afgelope 50 jaar. Hoogtepunte word herleef, interessante momente word genoem, vreemde besluite word onthou en hartseer word herleef. Hierdie oorsig is geensins bedoel om volledig te wees nie. Sit terug, dink terug en onthou saam die pad wat hierdie gemeente die aflope 50 jaar geloop het.
Die droom van ‘n nuwe gemeente
Op 25 Julie 1969 word daar tydens ‘n kerkraadsvergadering van NG Gemeente Môregloed se lidmaattal is tans 1147 en ds. van Zyl kan nie as enkel leraar meer die werkslading alleen hanteer nie. ‘n Student word teen R150 per maand aangestel om hulp te verleen, maar daar moet indringend na die beroep van ‘n tweede leraar gekyk word. Die saak en veral die finansiële implikasies hiervan moet ondersoek word.
Die NG Gemeente Môregloed se grense strek van Môregloed, deur Kilnerpark, tot teen Waverley en sluit ook dele van Queenswood in. Die gemeente beskik oor ‘n pastorie, ‘n kerkkompleks en besit ook erwe in Kilnerpark. Hierdie erwe is gekoop met die voorwaarde dat eiendom binne ‘n sekere tyd daarop gebou moes word. Op die vergadering van 19 September 1969 word daar besluit om vir eers uitstel te vra by die Stadsraad vir die indien van bouplanne op erwe 466, 470 en 1018 in Kilnerpark tot tyd en wyl daar finaal besluit is oor die beroep van ‘n tweede leraar.
Tydens die vergadering van 21 November 1969 besluit NG Gemeente Môregloed om wel ‘n tweede leraar te beroep, maar dan met die doel om in Januarie 1970 die moontlike afstiging van die Kilnerpark deel as ‘n eie gemeente te ondersoek. Daar moet onmiddelik begin word met die bou van ‘n tweede pastorie. NG Gemeente Môregloed se kerkgebou is reeds te klein vir die aantal lidmate en met die vooruitsig van verdere ontwikkelinge raak die behoefte aan nog ‘n gemeente net al groter. Daar sal ook ‘n gesprek met NG Gemeente Derdepoort gevoer word oor die moontlike grense van so ‘n nuwe gemeente.
Op 23 Januarie 1970 word terugvoer gegee oor die gesprek met NG Gemeente Derdepoort. Die gemeente sien nie kans om die Kilnerpark deel van hul gemeente aan ‘n nuwe gemeente af te staan nie. Die finale besluit word nou geneem dat daar nie ‘n tweede leraar vir NG Gemeente Mׅôregloed beroep gaan word nie, maar dat daar met die proses van afstiging begin sal word. Met afstigting sal die nuwe gemeente ‘n eie leraar beroep. Volgens die kerkraad vorm die Kilnerpark-uitbreiding, Queenswood en Waverley-uitbreiding ‘n logiese geografiese eenheid. Die dagbestuur kry die opdrag om volgens die bepalings van die Kerkorde met die proses van afstigting te begin. ‘n Nuwe pastorie moet gebou word. Mnre van Coppenhagen en Du Plessis word aangestel vir hierdie taak. Dit sal ongeveer 1½ maande neem om sketsplanne op te stel, ‘n verdere maand om die werktekeninge reg te kry en dan ‘n verdere 2 weke om tenders in te kry. Die bou van die pastorie behoort ongeveer 3½ tot 4 maande te neem om te voltooi. Die mikpunt vir die afhandeling van hierdie projek is Julie 1970. Die koste van die pastorie word op R24 856 bereken.
Met die volgende vergadering, op 20 Februarie 1970, kry die ouderlinge van NG Gemeente Môregloed die opdrag om met werwingslyste in hul wyke uit te gaan. Lidmate sal gevra word om hulself aan ‘n bedrag as bydrae vir die afstigting en oprigting van die nuwe gemeente en pastorie te verbind. Hierdie lyste moet teen die einde van April terug wees. Dit het egter onder die kerkraad se aandag gekom dat ‘n deel van die Waverley-uitbreiding nie deel van die nuwe gemeente wil word nie. Daar word besluit dat die 2 ouderlinge van hierdie wyke met die lidmate in die wyke sal gaan praat. Hulle kan self besluit of hulle by die nuwe gemeente of eerder by NG Gemeente Waveley-Oos wil inskakel. Die nodige versoekskrifte sal vir hierdie ouderlinge voorberei word.
Die ouderling van wyk 23 gee op 20 Maart 1970 terugvoer en sê dat sy wyk met 39 uit 41 lidmate aangetoon het dat hulle by NG Gemeente Waverley-Oos wil inskakel. Daar word somme gemaak oor die koste wat vir die pastorie se bou benodig word. Die gemeente beskik oor reserwefondse en daar word besluit om R14 000 as ‘n lening te verkry en die res van die koste uit spaarfondse te gebruik.
Die bou van die pastorie vorder flink en die bouers beloof by die vergadering van 24 April 1970 dat die pastorie op 24 September 1970 voltooi sal wees. Op 22 Mei gee al die ouderlinge, met die uitsondering van 3, verbintenislyste in. Daarvolgens word ‘n bedrag van R19 030 per jaar vir die nuwe gemeente belowe. Met hierdie beloftes en die pastorie wat so flink vorder, gaan daar nou ‘n voorstel vir die afstigting vaan die Ring van Pretoria Noord voorgelê word. Die grense van die nuwe gemeente sal soos volg wees:
Noord: Derdepoortweg, tot by Queenswood-uitbreiding 2 en Koedoespoort-Nywerheidsgebied. Van hier loop die grens tot by Môregloed en Waverley-Uitbreiding 1, met die middel van Collinslaan as grens, vanaf Môregloed, aangrensend aan Waverley-Oos tot teen die Hartbeesspruit.
Wes: Queenswood-uitbreiding 2 en Koedoespoort-Nywerheidsgebied, vanaf Capital Park-treinspoor tot by Derdepoortweg en die grens tussen Môregloed en Waverley-uitbreiding 1. Vanaf Derdepoortweg tot die middel van Collinslaan.
Suid: Al met die Capital Park-treinspoor van Hartbeesspruit tot teen die grens met Queenswood-uitbreiding 2 en Koedoespoort-Nywerheidsgebied.
Oos: Die Hartbeesspruit vanaf die middel van Collinslaan tot teen die Capital Park-treinspoor.
Daar word sekere voorwaardes bepaal vir die afstigting. Die R13 000 wat NG Gemeente Môregloed reeds op die pastorie se bou spandeer het, sal deur die gemeente afgeskryf word. Die nuwe gemeente sal die R14 000 lening op die pastorie oorneem. Die 5 erwe wat in besit van NG Gemeente Môregloed is sal dan kosteloos aan die nuwe gemeente oorgedra word. Die ½de van die beloofde inkomste vir die nuwe gemeente sal opgespaar word en die saldo sal by afstigting aan die nuwe gemeente oorgedra word. Broer P.R. Pretorius bedank die vergadering vir hul gesindheid en die voorwaardes waarop ooreengekom is.
Die Ring sal egter gevra word om die Oos-grens van die nuwe gemeente soos in die Kerkbode van 11 September 1963 gepubliseer, te kontroleer. Hier word genoem dat die middel van 30ste laan die gemeentegrens is. Die aansoek om afstigting sal voorberei word en tydens die Ringsitting van September 1970 hanteer word.
Die skriba, Gerhardus Jacobus Reynecke, kry tydens die vergadering van 19 Junie 1970 die opdrag om die dokumente van die goedgekeurde verband op erf 470, Jeanettestraat 53, ter bedrag van R14 000 namens die kerkraad te onderteken. Hierdie lening word by “South African Permanet Building Society” aangegaan.
Soos met die meeste groot projekte loop alles gewoonlik nie soos beplan nie. Met die vergadering van 14 Augustus verneem die kerkraad dat daar ‘n vertraging van ‘n maand met die bou van die pastorie is, as gevolg van probleme met die aflewering van die staalvensters. Alhoewel afstigting nog nie plaasgevind het nie, moet daar reeds aan die praktiese aspekte van die bediening in albei gemeente aandag gegee word. Die eerste probleem wat hanteer moet word is die saak rakende eredienstye. Daar het gesprekke met Hoërskool C.R. Swart plaasgevind, maar die skool is nie bereid om aan die nuwe kerk toestemming te verleen om eredienste in hul saal te hou nie. Die enigste opsie wat nou oorbly is om NG Gemeente Môregloed se kerkkompleks tot die beskikking van albei gemeentes te stel. Daar word op die volgende eredienstye ooreengekom:
Oggenddiens Aanddiens
9:00 Môregloed 17:30 Môregloed
10:30 Nuwe gemeente 19:00 Nuwe gemeente
Met dank word daar op die vergadering van 18 September 1970 kennis geneem dat die Ring van Pretoria Noord die aansoek om afstigting op 17 September 1970 goedgekeur het. ‘n Gemeentevergadering sal op 9 Oktober 1970 plaasvind met die doel om die nuwe gemeente te stig. Daar sal in die Kerkbode van 23 September 1970 ‘n uitnodiging aan alle belangstellende lidmate gerig word om hul op te roep na hierdie vergadering.
‘n Volgende praktiese saak wat moet aandrag kry is die saak rakende Sondagskooltye. Vir eers word daar besluit dat Sondagskool tydens die oggenddienstye van die ander gemeente sal plaasvind, dus 9:00 vir die nuwe gemeente en 10:30 vir Môregloed. Daar sal gesprekke met die Laerskole gevoer word om die Sondagskool daarheen te kan verskuif.
Oor die aanddienste word herbesin. Slegs een aanddiens sal gehou word, om19:00, wat deur albei gemeente se lidmate bygewoon sal word. ‘n 1000 offergawe koevertjies sal teen ‘n koste van R6 vir die nuwe gemeente gedruk word.
Eerste kerkraadsvergadering
Op 12 Oktober 1970 vind die eerste kerkraadsvergadering van NG Gemeente Noordoos-Pretoria plaas. Ds A. Van Zyl as konsulent, tree as voorsitter van die vergadering op. Hy lees uit 1 Petrus 1:13-2:10 en Broer P.R. Pretorius open met gebed. Broer G.J. Reynecke tree as waarnemende skriba op.
Ses manne word genomineer om die pos van kassier te beklee. Die skriba sal met hulle elkeen oor die saak gaan praat en dan ‘n aanbeveling aan die kerkraad maak. Mnr A.D. Louw word tydelik as orrelis aangestel teen ‘n bedrag van R30 per maand. Die koster van Môregloed, Mev. H.M. Grobler, sal ook R10 per maand betaal word om vir NG Gemeente Noordoos-Pretoria as koster diens te verrig.
‘n Dagbestuur word saamgestel. Die dagbestuur sal bestaan uit: Die leraar, die skriba, die kassier, die hoofouderling en die hoofdiaken. Broer P.J. Scholtz word as hoofouderling verkies en Broer P.R. Pretorius as hoofdiaken.
Die gemeente sal uit 26 wyke bestaan. ‘n Kerkraadsverkiesing wou gehou en 24 ouderlinge en 26 diakens word verkies. ‘n Gekombineerde kerkraadsvergadering word vir 20 Oktober 1970 om 11:30 gereël met die oog op die beroeping van ‘n leraar.
Kommissies sal met die volgende kerkraadsvergadering saamgestel word. Volkskas Bpk. word as bankiers vir die gemeente aangewys. ‘n Rekening sal by die Vanderwaltstraat tak in Pretoria vir die gemeente geopen word. Die konsulent sal vir eers die eredienste van die gemeente behartig. Studente, professore en emeritus leraars sal ook genader word vir preekbeurte. Leraars in diens sal teen R3 per preekbeurt vergoed word en studente en professore teen R5 per diens. Die konsulent sal probeer om 1 of 2 predikers per maand te reël om hom met die eredienste te help.
Die boukommissie gee terugvoer oor die vordering met die pastorie en sê dat alles volgens plan verloop. Die pastorie behoort teen die eerste week van November 1970 voltooi te wees. Die skriba sal ‘n jaarprogram vir 1971 opstel en die eerste Heilige Nagmaal sal op Sondag 9 November 1970 plaasvind. Broer M.P. van Niekerk word as Sondagskoolhoof verkies en 23 persone word as Sondagskool personeel aangewys. Die kerkraad sal elke derde Donderdag van die maand vergader. Die doop sal elke tweede Sondag van die maand bedien word. Verenigings soos die K.J.V., K.S.K, T.V.S.V. en V.H.D. mag in die gemeente tot stand kom soos benodig.
Die finale formaliteite rakende die afstigting van NG Gemeente Môregloed sal nog ongeveer 3 maande duur. Veral sake soos die oordrag van eiendomme neem tyd.
Die vergadering sluit met die sing van lied 180:3 waarna diaken P.J. Scholtz afsluit met gebed.
‘n Eerste leraar word beroep
Na die oggenddiens van 25 Oktober 1970 word ‘n beroepsvergadering in die gemeentekompleks van NG Gemeente Môregloed gehou. Eers word die traktament van die leraar bespreek en vasgemaak. Daarna word ‘n groslys van 24 name saamgestel. Na die eerste rondte van stemming word die kandidate tot 11 verminder. Na ‘n tweede stemming verminder die getal na 4. ‘n Derde stemming vind plaas en 2 kandidate word aangewys. Na die laaste rondte van stemming word Ds. A du Toit van Witrivier as die eerste leraar van die gemeente beroep.
‘n Beroepsbrief sal aan die leraar gestuur word. ‘n Volgende beroepsvergadering word vir 8 November belê indien ds. du Toit nie die beroep sou aanvaar nie.
Die gemeente begin met haar werksaamhede
Tydens die 2de algemene vergadering van die kerkraad, op 19 November 1970 word broer P.J. Eksteen as kassier aangestel. Hy sal sy diens op 1 Desember 1970 begin. Die onderskeie kommissies van die kerkraad word ook saamgestel. ‘n Kindersendingkrans en ‘n vrouehulpdiens is ook in die gemeente gestig.
In die kort rukkie het die gemeente reeds groot groei in getalle beleef en is dit nodig om ekstra wyke in te deel. Daar sal voortaan 32 wyke wees en verdere ouderlinge en diakens sal vir die nuwe wyke verkies word. Teen die einde van Oktober 1970 sluit die gemeente die maand met ‘n batige saldo van R2822,96 af. Die beloofte bruidskat van NG Gemeente Môregloed, van R1430, is eers na die afsluiting van die maandstate ontvang. Die finansies van die gemeente lyk gesond. Die gemeente het die lening op die pastorie oorgeneem en is nou verantwoordelik vir die maandelikse paaiement van R121,50.
‘n Boufonds word onmiddelik gestig met die doel om ‘n eie kerkgebou op te rig. Die gemeente sal aangemoedig word om tot hierdie fonds by te dra.
Die kerkraad is baie dankbaar dat ds. du Toit die beroep aanvaar het. Alhoewel hy reeds op 29 November 1970 demissie by NG Gemeente Witrivier ontvang, sal hy eers op 3 Januarie 1971 sy aftreepreek lewer. Die gemeente in Witrivier is nog vir die hele Desember vir sy koste verantwoordelik. Sy ontvangs sal op die naweek van 8-10 Januarie plaasvind. Sy medeleraar, ds. W.H. de Vos sal gevra word om sy bevestiging te hanteer.
Tydens die eerste vergadering van die nuwe jaar, op 22 Januarie 1971, word ds. du Toit as nuwe leraar verwelkom. Daar is nog baie praktiese reëlings wat in plek moet val. Polisse vir die dekking van kontant en versekering op die pastorie word uitgeneem. Die gemeente verbind haarself onder andere aan die sending in Swaziland, S.W.A. en die Indiërkerk se boufonds in Laudium word ondersteun.
Maandelikse fondsinsamelings vir verskeie spesiale, verdienstelike sake word ingestel, onder andere vir: Evangelisasie, Jeug, Boufonds, Barmhartigheid, Bybelverspreiding en die Transvaler se Kersfeesfonds.
Die Sondagskool skop die jaar af met ‘n leerlingtal van 291, met 21 personeel. Boekies, potlode en verslagkaarte is vir die Sondagskool aangekoop. Die K.J.V. het op Dinsdag 19 Januarie 1971 met 27 jongmense begin.
‘n Koor- en Orrelkommissie is gestig. Daar is besluit om mnr. Louw permanent as orrelis aan te stel. Die nodige koraalboeke word aangekoop vir begeleiding. ‘n Gewyde konsert sal gereël word waarmee die orrelfonds afgeskop kan word. ‘n Gemeentekoor is ook gestig en oefen flink.
Die pastorie is voltooi en na inspeksie het ‘n paar geringe sake aandag gekry. Die bevestiging van die die eerste leraar het goed afgeloop. Daar word besluit dat die voorbereidingsdiens vir Nagmaal voortaans nie meer Saterdag aand sal wees nie, maar die Sondag voor die Nagmaal.
Die gesamentlike gebruik van een kerkkompleks vir twee gemeente is uitdagend. Daar moet spoedig na ander alternatiewe gesoek word. ‘n Paar plekke word as moontlike opsies genoem. Die Hoërskool C.R. Swart kan weer genader word vir die gebruik van hul saal. Die probleem is egter dat die N.H. Kerk van Oosmoot dit ook gebruik. Laerskool Voorpos se saal word deur NG Gemeente Waverley-Oos gebruik. Hul kerkgebou sal teen Mei 1971 voltooi wees en dan behoort die Laerskool se saal beskikbaar te raak. Daar kan selfs met Laerskool Queenswood gesels word.
Na gesprekke met die onderskeie skole word die volgende besluit. Eredienste sal voorlopig by NG Gemeente Môregloed voortgaan. Sodra NG Gemeente Waverley-Oos hul kerkgebou begin gebruik sal Laerskool Voorpos beskikbaar wees vir eredienste. Die N.H. Kerk Oosmoot gebruik egter hul skool vir Sondagskool. Laerskool Queenswood se skool sal vir Sondagskool gebruik word.
Tydens die vergadering van 19 Februarie 1971 word hierdie reëling goedgekeur. Daar word ook besluit dat die kerkeiendom omhein moet word met 4 voet hoë geruite-ogiesdraad en dan gereeld skoon geskoffel moet word. Daar sal by Baviaanspoort-gevangenis uitgevind word of bandiete hiervoor gebruik kan word. Op die sakelys van die volgende vergadering gaan die saak van die bou van ‘n kerk of kerksaal of albei bespreek word.
Die gemeente beplan om van 20-25 April ‘n Sendingweek te reël. Die publikasie van ‘n gemeenteblad of gemeentenuusbrief moet ook ondersoek word.
Op 5 Maart 1971 word daar finaal besluit hoe die gemeente se funksionering tans gaan plaasvind:
Laerskool Voorpos se saal sal om 10:00 vir eredienste gebruik word. Die klaskamers is egter nie beskikbaar vir Sondagskool nie.
Sondagskool gaan eerder om 8:45 by Laerskool Nellie Swart as Laerskool Queenswood plaasvind.
Hoërskool C.R. Swart se saal sal vir bidure, kerkraadsvergaderings en vrouediensvergaderings gebruik word.
Pinksterdienste vind ook by Hoërskool C.R. Swart plaas.
Begrafnisse en troue sal by NG Gemeente Môregloed se kerkkompleks gedoen word.
Die behoefte aan ‘n eie kerkkompleks is werklik ‘n saak van erns. ‘n Beplanning en kerkboukommissie bestaande uit 9 lede word saamgestel om te begin dink watter tipe kerk gebou moet word.
Daar gaan wel met ‘n gemeenteblad begin word. Die blad sal twee maandeliks verskyn. ‘n Biblioteek moet ook vir die gemeente ingerig word. R20 sal per maand vir die aankoop van boeke gebruik word. ‘n Kleinkas bestaande uit ‘n voorskot van R10 vir kleiner aankope word geskep.
Susters van die gemeente verkry toestemming om met die hulp van Burgers-klerefabrikante ‘n modeparade te reël om die gemeente se fondse te sterk.
Die gevangenis het laat weet dat hulle nie die gemeente van bandiete arbeid kan voorsien nie. Daar sal ander arbeid vir die skoon skoffel van die gemeente eiendom bekom moet word.
Die eerste geval van tug moet deur die kerkraad hanteer word teenoor ‘n dame wat die 7de gebod oortree het.
Tydens die vergadering van 16 April 1971 word besluit om ‘n broederlike onderhoud vir Vrydag 30 April te reël oor die saak van Sondagkoerante. Die Dagbestuur het ‘n inleier gereël om oor die saak te kom praat. Die dame wat getugtig is het opregte berou en die saak is afgehandel.
Die gemeente word aangemoedig om met aksies te begin om geld vir die boufons in te samel.
Goeie nuus is dat die skoolsaal van Laerskool Voorpos van 16 Mei 1971 beskik is vir gebruik deur die gemeente. Dit sal vir ‘n paar Sondae aan die gemeente gekommunikeer word en dan sal dienste met die aanvang van die derde kwartaal, op 6 Junie 1971, daar begin. NG Gemeente Waverley-Oos skenk hul kateder, doopbak en kollektesakkies vir die gemeente. Twee jong seuns het aangebied om as koster diens te doen by die skool. Dit is nie prakties nie. Die skoolhoof het die sleutels by sy huis en dit is net makliker as sy seun die taak verrig. By Hoërskool C.R. Swart sal die terreinopsigter help.
‘n Simposium oor die ontwerp van kerkgeboue word by WNNR aangebied. ‘n Afvaardiging sal dit bywoon.
Die leraar was voor sy beroep deur die Burgermagkommando van Barberton genader om as kapelaan betrokke te raak. Voor dit kon gebeur is hy egter beroep en nou is hy by die Pretoria-Oos kommando ingedeel. Hy vra toestemming om sy plig hier uit te voer soos dit benodig word. Aflospredikers sal dan vir hom instaan. Die preekbeurtfooie word herbevestig en reistoelae vir besoekende predikers word teen 30c per myl vasgestel.
Op 17 Junie 1971 se vergadering word genoem dat daar nog geen ooreenkoms met Hoërskool C.R. Swart aangegaan is nie. ‘n Lokaal van die Paaiedepartement te Koedoespoort is beskikbaar. Vergaderings sal daar gehou word.
Die gemeente se eerste verslag vir die tydperk 9 Oktober 1970 tot 30 Junie 1971 word vir die Ring en die Argief voorberei. Hiervolgens bestaande die gemeente ui 836 belydende en 648 dooplidmate. Die sieletal is dus 1484. Die aantal persone wat nie in staat is om gereeld eredienste by te woon nie, vanweë siekte, ouderdomswakheid en skofwerk, insluitend ook die kleuters, word bereken op ongeveer 92. Die oggenddiens word deur 391 (28,87%) lidmate bygewoon, die aanddienste deur 133 (9,55%). Tydens langnaweke en vakansies neem die bywoning na onderskeidelik 158% (11,35%) en 72 (5,17%) af. Bywoning tydens voorbereidingsdienste is 318 (23,56%) en dankseggegingsdienste (127 (9,12%). Hierdie persentasies word bereken uit die 1392 moontlike lidmate wat erediens kan bywoon. Erediens bywoning is dus nie na wense nie en kan verbeter. ‘n Faktor is moontlik dat Sondagskool en eredienste nie op dieselfde plek gehou word nie.
Bywoning vir bidure (2,99%) en Pinsterbidure (5,67%) is swak. Sondagskool word baie getrou bygewoon. Die bywoningspersentasie is 85% en slegs 15 kinders ouers as 6 woon nie Sondagskool by nie. Daar is tans 371 besoekpunte in die gemeente. 32 diakens en 34 ouderlinge maak ‘n ampsdraer totaal van 66 op.
‘n Teologiese student, Chris Schnell, nader die gemeente om sy klasgelde van R180 per jaar te betaal totdat hy sy B.A.(Admissie) graad behaal het. Die kerkraad besluit om eerder ‘n studiebeursfonds te stig en nie noodwendig die fondse aan ‘n spesifieke persoon te koppel nie.
‘n Brandkas moet vir die gemeente gekoop word. Die skool wil egter nie toestemming gee dat vreemde meubels in hul skool geplaas word nie. Die firma Zondagh en Nel word as ouditeure aangestel. Daar is nog nie iemand as koster aangestel nie. ‘n Salaris van R10 per maand word aangebied. Dit sal aangepas word soos wat die pligte met die groei van die gemeente vermeerder.
Die Beplanning en Kerkboukommissie het begin berekeninge maak. Die bou van ‘n kerk sal ongeveer R160 000 kos. Daar word gevoel dat die gemeente met die bou van die kerk begin moet sodra 25% van die bedrag ingesamel is. ‘n Voorstel is om 350 gesinne te probeer kry wat bereid is om R10 per maand vir ‘n jaar vir die bouprojek by te dra. Iemand betrokke by Unisa het sy kundigheid beskikbaar gestel vir wanneer die plasing van die orrel in die kerk moet gebeur.
‘n Ouderling stel voor dat daar saam met die 10de maand kollektelys ook ‘n lys vir die boufonds uitgestuur moet word. Dit moet ook in die gemeenteblad gekommunikeer word.
Die Sondagskool beplan hul eerste uitstappie en R150 word daarvoor bewillig. Die eerste afgevaardiges van die gemeente word verkies om die Ringsitting by te woon. Ouderling A.F. de Lange word as primarius lid saam met die leraar benoem em ouderling W.P. Wolmarans as sekundus. Die leraar en die skriba verteenwoordig ook die gemeente by die geloftefeeskomitee.
Ter wille van beter tydsbesteding tydens eredienste word daar voorgestel dat net die noodsaaklikste afkondigings gedoen sal word. Gesang 100 word as instaplied gesing. Voortaan sal slegs vers 3 gesing word. Die kerkraad moet ook flinker instap.
Die susters van die gemeente reël ‘n uitstappie op 9 Oktober 1971 na Pienaarsrivier om die gemeente se eerste verjaarsdag te vier. Dit sal ‘n lekker piekniek wees. Die kerkraad voorsien die vleis en die gemeente neem hul eie koffie, tee en toebroodjies.
Die vrouehulpdiens hou twee maandeliks vergadering. Hul bywoning wissel tussen 44 en 63 vroue. In die tydperk tussen Oktober 1970 en Mei 1971 het hulle reeds R781,52 ingesamel. Hulle het hulself nou verbind om ernstig te begin geld insamel vir die orrelfonds.
‘n Gewyde konsert word vir 9 November 1971 beplan. Die geld wat hiermee gemaak word sal ook gaan vir die orrelfonds. Kaartjies sal teen R1 per volwassene en 60c per kind verkoop word.
Tydens die vergadering van 12 Augustus 1971 berig die Evangelisasiekommissie dat daar enkele gevalle van openbare onsedelikheid in die Ring gerapporteer is. Die erediensbywoning is ook nie bevredigend nie.
Die Geloftefees is by NG Gemeente Queenswood gereël. Die verrigtinge sal reeds die vorige aand begin met ‘n toespraak deur dr. A.P. Treurnicht.
Die Sondagskool skryf hul eerste Bybelkenniseksamen. 13 leerders slaag met hoogste lof, 37 met eerste klas, 13 met derde klas, 31 slaag nie en 52 het nie die eksamen geskryf nie.
Met die vergadering van 13 September 1971 word die einde van die eerste volle jaar van die gemeente se aktiwiteite nou vinnig genader. Daar gaan 400 kerskaartjies aangekoop word by Nasionale Handelsdrukkery, teen 2c elk, om aan elke gesin te stuur. Die eerste belydenisgroep gaan geleentheid kry om belydenis van geloof op 31 Oktober 1971 af te lê.
Die kerkraad het gehoor dat daar gemeentelede is wat die tydskrif “The Plain Truth” lees. Dit sal ondersoek word. ‘n Tuinjong word teen R2 per dag aangestel om die pastorietuin en kerkerwe te skoffel.
Tydens die laaste vergadering van die jaar, op 18 November 1971, berig die leraar dat daar ‘n dooppaar was wat nie vir die doop van hul kind opgedaag het nie. In ‘n gesprek met die egpaar het hul as rede vir hul afwesigheid aangevoer dat hulle nie bewus was van die aanvangstyd van die erediens nie.
Die langpad na die bou van ‘n kerk
Met die eerste vergadering van die nuwe jaar, op 20 Januarie 1972, word berig dat daar reeds R7561,97 van Oktober tot Desember van die beloofte R9435,32 ingekom het. Johan de Ridder word as die argitek vir die projek benoem. Die volgende voorskrifte moet in ag geneem word met die beplanning: Daar moet voorsiening gemaak word vir ‘n kerkgebou, konsistorie, saalgedeelte, moederskamer, orrel en koorruimte, sondagskoolklasse, kombuis, toring, ‘n voorportaal en die nodige gehoortoestel. Die oostelike son moet in ag geneem word met die ontwerp, asook dit wat tydens die simposium by WNNR gehoor is. Die argitek benodig ongeveer 6 weke om voorlopige sketsplanne op te stel. Die voorlopige koste van die kerk word op R140 000 tot R160 000, sonder die orrel, bereken.
Ten spyte van die gemeente se groot ywer om fondse te in om ‘n kerkgebou te finansier, word sending nie afgeskeep nie. R35 word vir die kerkgebou in Mabopane bygedra en R15 per maand vir die Kleurlingsending in die Noord-Transvaal. ‘n Sendingweek word ook vir 23-29 April 1972 beplan.
Op 16 Maart se vergadering kom die spasie-probleem as ‘n besprekingspunt op die tafel. Met die laaste kinderdiens was daar nie vir almal sitplek in die erediens nie. Etlike stoele moes ingedra word. ‘n Voorstel word gemaak dat die kerkraad op die verhoog moet sit om so meer spasie te skep. Dit gaan egter nie die probleem van te min stoele oplos nie. ‘n Voorstel word gemaak dat die kerkraadslede toegelaat word om by hul familie te sit, maar dit word verwerp. ‘n Paar moeders vra ook dat daar ‘n paar stoele in die voorportaal neergesit sal word. Dit word deur moeders met klein kinders gebruik, maar daar is nie stoele vir hulle om op te sit nie.
Die finanskommissie sal voortaan gematig word om dringende uitgawes tot met bedrae van R50 goed te keer sonder om dit eers aan die kerkraad voor te lê. Die Sondagskool, veral dir dogters moet taktvol oor hul kleredrag aangespreek word. Dis ‘n beginselsaak wat aan hulle verduidelik moet word. Die konsert het die mooi bedrag van R276 vir die die orrelfonds ingebring.
Die argitek laat weet dat hy sukkel om die gebou op die erf in te pas. Die erf is te smal vir die tipe gebou wat die gemeente ingedagte het. Verder sal die riool ook verskuif moet word teen ‘n koste van R1000 vir die rekening van die gemeente.
Met die vergadering van 21 April heers daar groot opwinding oor die bou van die kerk, want die argitek het laat weet dat die sketse gereed is. Die orrelkenner is ook teenwoordig om sy insette te lewer.
Dit het onder die kerkraad se aandag gekom dat daar eiendomsagente is wat erwe in Kilnerpark op Sondae verkoop. Die kerkraad maak ernstig hierteen beswaar en sal by die Sinodale kommissie uitvind wat in hierdie verband gedoen kan word. Hierteenoor het die Transvaler berig dat Francois Stander as springbokgimnas verkies is, maar geweier het om op ‘n Sondag deel te neem. Daar sal ‘n mosie van dank aan hom gestuur word oor sy beginselvaste besluit en die leraar sal ‘n persoonlike brief aan hom stuur om hom vir sy optrede te bedank.
As gevolg van die terugvoer van die argitek word daar op 24 April 1972 ‘n spesiale kerkraadsvergadering gehou om oor die knelpunte met die bou van die kerk te gesels. Die smal erf het die ontwerp van die kerk in een rigting forseer. Daar word besluit om die kompleks sonder ‘n saal te bou. Dit sal ook ‘n besparing van R30 000 tot gevolg hê. Die horlosie sal weggelaat word, wat ‘n verdere besparing van R2000 meebring. Die orrelkenner stel voor dat ‘n Allborn orrel oorweeg word. Dit is ‘n elektriese orrel en kos aansienlike minder. ‘n Paar kerkraadslede kan saam met hom na so ‘n orrel gaan luister om dan ‘n ingeligte besluit oor die orrel te neem.
Op 15 Junie word dit meegedeel dat die gemeente slegs R80 000 vir die bou vir die kerk sal kan leen. Die Ring het ook nog nie goedkeuring gegee dat die gemeente kan voortgaan met die bou van die kerk nie. Die voltooide planne moet eers aan ‘n kerkadviesburo voorgelê word om buitensporige kostes te voorkom. Dit bring mee dat daar aan die argitek gesê word dat hy eers met die ontwerp moet stop. Die sinode het terugvoer gegee oor die saak rakende die verkoop van erwe op Sondag. Tans is die wetgewing rakende die saak swak. Uitklaring moet eers oor die wetgewing verkry word voordat daar besluit kan word hoe om op te tree.
Die gemeente het ten spyte van die terugslag rondom die beperkte lening wat beskikbaar is, nie spoed verloor met die droom van die bou van ‘n eie kerkkompleks nie. Volledige besonderhede van die boufondsinsameling sal met die gemeente gekommunikeer word. ‘n Moontlike blokkiesraaisel of woordboukompetisie kan geloots word vir verdere fondse. Dit word egter nie toegelaat nie, want dit lyk te veel na dobbel. Deelnemers se gesindheid mag verkeerd wees. Die bouwerk is dankbaarheidswerk. Die Here is in die afgelope jaar en 9 maande getrou. Die Here sal vertrou vertrou word om te voorsien.
Die Ring van Pretoria-Noord word onderverdeel. Die nuwe Ring sal as die Ring van Derdepoort bekend staan. Die Ring sal uit 6 gemeentes bestaan en ds. du Toit is as die skriba van die Ring verkies. Die Adviesburo vir die kerkgebou is in die lewe geroep.
Die kerkraad gaan in gesprek met die Sinode oor moontlike ondersteun met die bou van die kerk. Die Sinode is bereid om die R80 000 wat ander instansies bereid is om vir die boukoste te leen, aan die gemeente te leen. Die Sinode is nie geneë dat die gemeente verdere lenings aangaan nie. Daar is egter sekere voorstelle wat die gemeente moet oorweeg. Eerstens kan die gemeente meer fondse in voordat daar met die bou van die kerk voortgegaan word. Tweedens kan ‘n goedkoper bouplan oorweeg word. Derdens kan die gemeente deur die bouprojek as eienaarbou aan te pak heelwat geld spaar.
Mnr. Kapp het die Gereformeerde Gemeente Oos-Moot met die bou van hulle kerk gehelp. Hy is betaal soos wat hy met die projek gevorder het. Mnr. Kapp sal genader word om, met die fondse wat beskikbaar gaan wees, die gemeente te help om as eienaarbouers die kerk te bou. Nadat ‘n paar kerkraadslede na die elektriese orrel gaan luister het, word daar besluit om eerder ‘n pyporrel te installeer.
“Jesus Christ Superstar” gaan in Suid Afrika opgevoer word. Die kerkraad maak heftig hierteen beswaar. Daar was leerkragte by Hoërskool C.R. Swart wat hul steun gegee het aan hierdie opvoering. ‘n Brief gaan aan die skoolhoof gestuur word om die kerkraad se ongelukkigheid hieroor weer te gee.
Tydens die vergadering van 8 September word verneem dat die orrelis Mnr. A.D. Louw op 30 November gaan bedank. Daar sal vir ‘n nuwe orrelis geadverteer moet word. Wyk 32 beplan om ‘n gimnastiekvertoning met die hulp van Francois Stander aan te bied vir orrelfondse.
‘n Stukkie goeie nuus word op 19 Oktober gedeel. Die lening vir R80 000 is goedgekeur, so die bouwerk kan begin. “Jesus Christ Superstar” word deur volgehoue druk geheel en al in Suid-Afrika en S.W.A. verbied.
Mej. Isa Scheepers word as die nuwe orrelis op 1 Desember 1972 aangestel. Sy trou egter die 2de Desember en het gevra dat sy eers diens op 11 Desember sal aanvaar.
Met die laaste vergadering van 1972, op 16 November, besluit die kerkraad om die instansies wat goedgunstiglik hul fasiliteite deur die jaar vir gebruik deur die kerk beskikbaar gestel het met ‘n kontantbedrag te bedank. Aan Laerskool Voorpos word R75 betaal, aan die TPA-gebou R10, asook R5 vir hul skoonmaker.
Twee ontwerpe vir die kerk word voorgelê. Die totale sitplekke, met die kerkraadsbanke en moederskamer ingesluit is ongeveer 460. Die koste van die onderskeie ontwerpe beloop R132 200 en R125 700. Daar word op die tweede opsie besluit, met die versoek dat die toilette en kombuis aangepas moet word. As alles gereed is kan die bouwerk teen April 1973 begin.
Op 18 Januarie 1973 word ‘n versoek van NG Gemeente Derdepoort ontvang om ‘n deel van hul gemeente by NG Gemeente Noordoos-Pretoria in te skakel. Geografies maak dit heeltemal sin. Die lidmate woon in Kilnerpark. Die implikasie sal wees dat die gemeente onmiddelik 100 nuwe lidmate sal bykry. As al die erwe in die omgewing bebou is, kan daar tot 300 lidmate in die area woon. Dit gaan natuurlik meebring dat die gemeente onmiddelik te groot raak om deur een leraar bedien te word. Saam met die inskakeling van hierdie lidmate sal die moontlikheid van die beroep van ‘n tweede leraar ook ondersoek moet word. Daar word besluit om in beginsel ja te sê vir die versoek, maar om eers net ‘n teologiese student as hulp aan te stel voordat ‘n tweede leraar beroep word.
Na slegs ‘n paar weke besluit die orrelis om te bedank. Sy sal nog beskikbaar wees tot 30 Maart 1973. By die vergadering van 15 Februarie word mnr. C.J. Boonzaaier as die nuwe orrelis aangestel. ‘n Pyporrel wat vir die gemeente geskik sal wees, sal ongeveer R20 000 kos. Nadat die planne van die kerk deur die argitek herontwerp is, is daar nou 89 meer sitplekke as voorheen. Dit is veral die herontwerp van die konsistorie wat die ekstra sitplekke moontlik gemaak het. Ongelukkig bring dit mee dat die koste van die ontwerp nou R139 000 sal wees. Na gesprekke tussen die argitekt en mnr. Kapp, word besluit dat daar teen Maart met die bouwerk begin kan word.
‘n Fondsinsamelingsgeleentheid sal tydens die sooispit en hoeksteenlegging gereël word. Elektriese installasie, ‘n boorgat en kabelaanleg sal eers gedoen word voordat looppaadjies en die tuine uitgelê sal word.
Dit is ook aangenaam om te kan berig dat ‘n K.J.V. op 9 Februarie 1973 met 27 lede gestig is.
By die vergadering van 1 Maart 1973 hoor die kerkraad dat die grensverskuiwing van die NG Gemeente Derdepoort teen 1 Maart afgehandel is. Hierdie lidmate skakel nou by NG Gemeente Noordoos-Pretoria in. Offerkoeverte sal aan die nuwe lidmate voorsien word. Die nuwe orrelis sal op 1 April in diens van die gemeente tree.
Die rioolverskuiwing is afgehandel teen ‘n koste van R794,20. ‘n Sooispitfunksie word vir 17 Maart 1973 om 15:00 gereël. Die leraar sal ‘n kort diens hou. Daarna sal die kinders ‘n tiensentlegging doen. Na die spit van die sooi sal ‘n houer in die grond geplaas word en kry die volwassenes geleentheid om bydraes daarin te plaas. Pap en wors, saam met koffie en koeldrank sal verkoop word. Die koste vir pap en wors sal 30c wees en vir ‘n ekstra stuk wors is die koste 15c. Silwer suikerlepels sal teen R2 stuk verkoop word. Die susters van die gemeente sal koek, pannekoek en vetkoek verkoop vir die orrelfonds.
Die voorwaardes vir die lening by die sinode is ook bepaal. Die eerste R60 000 word geleen teen ‘n koers van 8,5% en die res teen 9,0%. Die rente op die verband sal ses maandeliks betaal word en kapitaal sal jaarliks teen R5 350 gedelg word. Die koste vir die boorgat beloop R1,50 per meter.
Die Pinsterreeks sal op kasset opgeneem word en te koop aangebied word aan mense wat dit nie kan bywoon nie.
Met die inskakeling van die deel van NG Gemeente Derdepoort word dit nodig om nog kerkraadslede te verkies. By die vergadering van 19 April 1973 word hierdie deel in wyke 34 tot 39 verdeel. ‘n Teologiese student, C. van der Merwe du Toit, word as huisbesoek hulp aangestel. Hy sal R75 maand hiervoor betaal word en ekstra as hy preekbeurte moet behartig.
Die Reformed Church se Indiër kerk nooi die gemeente uit na die inwyding van hul kerkgebou op 20 April 1973. Met die vergadering van 14 Mei 1973 word met dank kennis geneem dat water op 155vt raakgeboor is teen ‘n koste van R289. Die boorgat lewer 400 g.h.u.
Die gemeente het die eerste keer op 21 Junie 1973 nodig om om ‘n oortrokke fasiteit van R2000 by die bank aansoek te doen. Die tender van R27 535 vir die bou van die orrel deur S.A. Orrelbouers word aanvaar. Die kontrak vir die bou van die orrel word op 26 Junie onderteken. Daar word ooreengekom om die bedrag in drie paaiemente te betaal. R9 000 met die ondertekening van die kontrak, ‘n verdere R9 000 ses maande later en ‘n laaste R9 000 met voltooiing van die orrel. ‘n Retensiebedrag van R535 sal 3 maande nadat die orrel met bevrediging deur die gemeente gebruik is, betaal word.
By die vergadering van 9 Augustus word die hoeksteenlegging van die kerkgebou beplan. Oorspronklik word 13 Oktober oorweeg, maar die argitek laat weet dat hy nie daardie dag beskikbaar is nie. Daarom sal die geleentheid op die 20ste Oktober 1973 om 15:00 plaasvind. Die Ringsleraars, die argitek, ds. A. Van Zyl, die boukontrakteur mnr. Kapp en sy assistent mnr. W. Steyn sal in die besonder na hierdie geleentheid genooi word.
‘n Kort diens sal gehou word, waarna daar ‘n offergawe opgeneem sal word. Koffie en tee sal bedien word, met koeldrank vir die kinders. ‘n Koekverkoping sal deur die susters gereël word. As daar verdere belangstelling is sal nog suikerlepels verkoop word.
Aan die boukontrakteur word sekere voorwaardes rakende die konsistorie gestel. Daar moet voorsiening gemaak word vir ‘n swart- en kennisgewingsbord. ‘n Nokkierak vir die diakens moet geïnstaleer word. Die K.J.V. benodig hul eie kas. Laastens moet ‘n projeksieskerm met kragpunte vir ‘n projekter geïnstaleer word. ‘n Kwotasie van Kool Aluminium van Johannesburg is vir R1 428 aanvaar en die klok is ook reeds teen ‘n koste van R2 095 bestel.
Tydens die vergadering van 18 Oktober 1973 word besluit dat die hoeksteen net eers tydelik tydens die seremonie geplaas sal word. Wanneer die kerkkompleks heeltemal voltooi is en in gebruik geneem is, sal ‘n inhuldegingsprogram, tesame met ‘n foto van die eerste kerkraad geplaas word voordat die hoeksteen finaal vasgemessel word.
Die gemeente groei steeds en die Ring beveel aan dat die gemeente die beroeping van ‘n tweede leraar moet oorweeg. ‘n Tweede leraar sal teen Januarie 1974 beroep word en ‘n tweede pastorie moet vir die nuwe leraar gekoop word.
‘n Moontlike huis in Nathan Wilson word teen ‘n koste van R30 000 as pastorie oorweeg, maar daar word besluit om eerder ‘n erf te koop en self ‘n huis as pastorie te bou.
‘n Mooi stukkie getuienis word na aanleiding van die Ringsitting met die gemeente gedeel. Die ses gemeentes van die Ring het vir die jaar ongeveer R53 000 vir sending bewillig.
Aan die einde van die jaar, by die vegadering van 29 November 1973, kan daar nie eenstemmigheid oor die nuwe pastorie gekry word nie. Na ‘n uitvoerige bespreking van die voor en die nadele van koop of bou en die ekonomiese effek van die twee opsies, word daar besluit om vir eers ‘n tweede huis as pastorie te huur en dan verdere ondersoek te doen oor die mees geskikte opsie.
‘n Tweede leraar sluit by die gemeente aan
Op 24 Januarie 1974 word besluit om ‘n tweede leraar met volle voordele te beroep. ‘n Groslys van 28 kandidate word voorgelê. Na ‘n eerste stemming verminder die kandidate na 15 en na ‘n derde stemming moet daar tussen 3 kandidate besluit word. Ds. R.M. Britz word verkies. Indien hy nie beroep aanvaar nie sal daar op 17 Februarie weer ‘n beroepsvergadering plaasvind.
Die skriba het besluit om te bedank. Nadat die voorsitter en ‘n lid van die kerkraad met hom gaan praat het, het hy besluit om sy bedanking terug te trek.
Abiliastraat 346 sal vir 6 maande as ‘n tweede pastorie gehuur word teen ‘n koste van R170 per maand. Met die verantwoordelikheid wat ‘n tweede woning meebring word ‘n permanente tuinjong teen R40 per maand aangestel. Daar sal ook die nodige tuingereedskap aangekoop moet word sodat hy sy werk kan uitvoer.
Die werk aan die kerk vorder flink. Die afrondingswerk kry aandag. Die Psalm- en Gesangebordjies vir die kerk, ‘n kanselkleed, kollektesakkies en ‘n nagmaalstafel word gemaak. Matte word ingesit, die tuin word uitgelê en die parkeerterrein word ontwikkel. 120 stapelstoele word aangekoop en die susters maak grodyne vir die konsistorie. Die kerkbanke word deur Pretorius-Meubelfabriek teen ‘n koste van R7 392 gebou. ‘n Brosjure en program vir die inhuldigings geleentheid word opgestel. Na alle waarskynlikheid sal die kerk teen April voltooi wees. Die orrelbouer stel voor dat die orrel teen die einde van Mei ingebou word.
Die orrelis sal tot na die inwyding van die kerk aanbly, maar daarna sal die gemeente vir ‘n nuwe orrelis moet adverteer wat diens op 1 Julie 1974 moet aanvaar. Daar sal ook ‘n koster aangestel moet word vir die nuwe kompleks. Daar moet oor sy pligte en vergoeding ooreengekom word en daar moet ook besluit word watter hulp hy sal benodig.
Ongelukkig bedank ds. Britz die beroep en ‘n nuwe beroep moet op 17 Februarie 1974 uitgebring word. ‘n Groslys van 14 kandidate word opgestel. Die lys word na stemming tot 3 verminder, waarna ds. J.J. Roux beroep word. Indien hy nie die beroep aanvaar nie, sal ‘n volgende beroepsvergadering op 10 Maart gehou word.
Die kerkraad hou op 21 Februarie vergadering en besef dat die beroep van die tweede leraar nou ‘n saak van erns raak. Die leraar werk tans alleen in die gemeente nadat die teologiese student wat as hulp opgetree het se kontrak met die gemeente op 31 Desember geeindig het.
‘n Erf van die Provinsiale Administrasie wat oorweeg word as ‘n opsie vir die bou van ‘n pastorie is nie geskik nie as gevolg van turf. Dit oorreed die kerkraad finaal om eerder ‘n huis te koop. Kamferbos 41 is te koop vir R32 000 en die kerkraad besluit om ‘n aanbod vir R30 000 op die huis te maak.
‘n Boek van Tom Rees, “Deurbraak” doen die rondte in gebedselle. Die gevolg is dat ‘n gees van kritiek, veroordeling en oppervlakkigheid ervaar word. Die saak sal ondersoek word.
Ds. Roux bedank ook die beroep en op 10 Maart word ‘n derde beroepsvergadering gehou. ‘n Groslys van 21 kandidate word opgestel. Na drie rondtes van stemming verminder die kandidate na 9, dan 4 en uiteindelik 2. Prop. S.A. Strauss word beroep. Indien hy nie die beroep aanvaar nie sal ‘n vierde beroepsvergadering op 31 Maart plaasvind.
By die vergadering van 21 Maart word daar verneem dat die aanbod op die tweede pastorie aanvaar is en dat ‘n lening vir die eiendom by die NG Kerk van Transvaal aangegaan is. Die gemeente het ook besluit om die oortrokke fasiliteit van die gemeente tot R10 000 te verhoog.
Die fotograaf wat die foto van die kerkraad geneem het is uit besigheid uit. ‘n Nuwe foto sal nou op 21 April deur Stella Nova geneem moet word.
‘n Blye dag in die geskiedenis van die gemeente breek aan toe prop. Strauss die beroep as tweede leraar aanvaar. By die vergadering van 25 April word genoem dat hy verkies om direk in die nuwe pastorie in te trek. Die huurhuis in Abiliastraat sal tot met die einde van die kontrak verhuur word.
Die pligte vir die nuwe koster word vasgestel en daar word besluit dat hy met die hulp van een “Bantoe” sy werk sal kan doen.
Die bouwerk aan die kerk vorder flink. Die orrelbouers stel voor dat die inwydingsgeleentheid vir die naweek van 15 en 16 Junie gereeld word. Dit gee hulle genoeg tyd om die orrel klaar te maak. Prop. Strauss sal dan die volgende naweek ontvang en bevestig word. Hoeksteenlegging poskaart sal gedruk en teen 75c stuk verkoop word. Die foto van die kerkraad sal ook teen R3 per foto verkoop word.
Op die 10 Mei 1974 vind die 35ste vergadering van die kerkraad die laaste keer in die TPA gebou plaas. Mnr. André C. de la Harpe word as koster aangestel. Hy begin op 1 Junie as koster werk. Mnr. Kapp sal weer help met die bou van die tweede pastorie.
Die feesprogram vir die inwyding van die kerk word bekendgestel. Op Saterdag 15 Junie om 14:30 sal ‘n ingebruiknemings feesdiens plaasvind. Daar sal gepoog word om een van die moderatuurslede van die Sinode vir hierdie geleentheid te kry. Om 19:00 word die orrel in gebruik geneem.
Sondag die 16 Junie vind ‘n erediens om 9:00 plaas. Die doopvont en kollektesakkies sal dan ingebruik geneem word. Tydens die 19:00 aanddiens vind ‘n koor- en orreluitvoering plaas. Queenswood se koor word vir die geleentheid genooi. Spesiale dankofferkoeverte word die Saterdag uitgedeel. Sondag vind ‘n spesiale nagmaalsdiens plaas.
Ongelukkig is daar te min bakstene om die parkeerterrein klaar te maak. Beton sal vir die ryvlak gegooi word en grys vir die motorstaanplekke. Die orrelis het aangebied om verder aan te bly indien daar nie aansoeke vir die orrelispos is nie. Ses persone het egter aansoek gedoen en ‘n aanstelling sal binnekort gemaak word.
Op 25 Junie se vergadering word mnr. A.J.J. Troskie as die nuwe orrelis aangestel. Hy sal op 7 Julie 1974 begin.
Die gemeente kan nog geen verandering by die nuwe pastorie aanbring voordat oordrag van die eiendom nie plaasgevind het nie. Die gemeente word gevra om vir 1 maand met losies vir die nuwe proponent te help voordat hy in die pastorie gaan intrek. Oudl. W.J. van Coller bied aan dat hy by hulle huis kan loseer.
Die tuinjong is aangestel en die tuigereedskap is aangekoop. Daar moet net nog ‘n grassnyer gekoop word. Die kansel- en nagmaalstoele is bestel. Die projektorskerm en gordyne is ook bestel. Ekstra liggies vir die parkeerterrein is opgesit. Die stadsraad het ekstra straatligte by die parkeerterrein kant van die kerkeiendom aangebring. Die tuin is teen die 7de Junie bevredigend uitgelê. ‘n Gemeentelid het die horlosie aan die kerk geskenk.
Alhoewel almal baie opgewonde is oor die groot oomblik wat uiteindelik aangebreek het wanneer die kerk voltooi sal wees, is daar egter ook nog ‘n bekommernis. Die orrelbouers het laat weet dat hulle nog vir onderdele wag en dit mag meebring dat die orrel nie betyds voltooi sal wees nie. Reëlings vir die inhuldiging gaan egter voort. Die skoolhoofde van die onderskeie skole van wie se fasiliteite die gemeente oor die jare gebruik gemaak het, asook die personeel van die TPA-gebou sal per brief daarvoor bedank word.
Met die aanstelling van ‘n tweede leraar sal die dagbestuur uitgebrei word. Die tweede leraar dien ook op die dagbestuur. Dit sal die eerste keer wees dat die gemeente deur 2 leraars en 2 afgevaardigdes by die Ringsitting verteenwoordig word.
‘n Gemeentelid lid die kerkraad per brief in dat Superrand se aansoek om ‘n dranklisensie goedgekeur is.
Die voltooide kerkkompleks
Die 37ste vergadering van die kerkraad vind op 8 Augustus 1974 in die konsistorie plaas. Dit is ‘n wonderlike geleentheid om nou oor ‘n eie gebou te beskik en die gemeente se werksaamhede vanuit die kerkkompleks te laat plaasvind. Die tweede pastorie se oordrag is afgehandel en die planne vir die veranderinge is goedgekeur.
Die orreluitvoering moes as gevolg van die onderdele wat laat afgelewer is uitgestel word en sal nou eers die 18de Augustus plaasvind.
Die Evangelisasiekommissie bring dit onder die kerkraad se aandag dat daar lidmate is wat oor die eredienste kla. Volgens hulle is die preke te lank en onverstaanbaar. Daar word gevoel dat die inkorting van die preeklengte eerder ‘n negatiewe effek sal hê. Hierdie lidmate moet veel eerder met die regte ingesteldheid eredienste bywoon as om te kla. Indien daar wesenlike klagte oor spesifieke sake in die diens is waaroor hulle kritiek wil lewer is hulle welkom, maar dan moet hulle dit meer spesifiek doen sodat daar aandag aan gegee kan word. Daar kan eerder na die afrol van afkondigings as ‘n moontlike besparing van tyd tydens die erediens gedink word.
‘n Verdere klagte wat hanteer moet is dat ‘n dame sonder ‘n hoed die erediens bygewoon het. Vir eers sal daar nie teen haar opgetree word nie, maar die situasie sal gemonitor word en indien sy hiermee volhard sal sy daaroor aangespreek word.
Met twee leraars in die gemeente kan die werk vir die eerste keer verdeel word. Die gemeente gaan voortaan in 2 wyke, ‘n Noord-wyk onder ds. Strauss en ‘n Suid-wyk onder ds. du Toit, pastoraal bedien word. Preekbeurte, kerkraadsbevestiging en sakramentsbediening sal gelykop tussen die twee leraars verdeel word. Vir doopkategese, huwelike en troues sal elke leraar vir die lidmate in sy eie wyk verantwoording neem. Vir die eerste jaar sal ds. Strauss in beheer van die kategese wees en ds. du Toit vir die finalejaars. Dit sal jaarliks herbesin word. Bidure, verlof en betrokkenheid by verenigings sal onderling gereël word.
Tydens huwelikseremonies mag alternatiewe troumarse nie gespeel word nie, slegs stukke uit die bundel, want die alternatiewe klink te wêrelds. ‘n Besluit moet nog geneem word oor die strooi van konfetti op die kerkterrein.
Een uitdaging wat nog hanteer moet word is die gebrek aan sitplekke in die kerk. Lidmate het by die kerkdeure omgedraai en huis toe gegaan omdat daar nie vir hulle sitplek in die kerk was nie. Twee oggenddienste moet as ‘n oplossing oorweeg word.
Tydens die vergadering van 12 September word berig dat die gebrek aan plek in die kerk nou ‘n krisis begin raak. Ekstra stoele word in die kerk ingedra en daar is selfs mense wat in die konsistorie moet sit. ‘n Tweede oggenddiens moet regtig baie ernstig oorweeg word.
‘n Paar defekte in die kerk word uitgewys, onder andere los banke, ‘n deur wat nie mooi toemaak nie en gekraakte ruite. Dit sal spoedig herstel word. Saam hiermee sal die herstel aan die tweede pastorie ook hanteer word.
Die skriba, broer G.J. Reynecke bedank, tesame met sy vrou as tikster. Die twee poste sal geadverteer word en op 1 Oktober gevul word. Die poste is wel geadverteer en mev. A.C. Roodt word in albei die poste, as skriba/tikster vanaf 1 November aangestel. ‘n Finale pligtestaat is ook vir die koster en orrelis opgestel. Die afkondigings word nou getik en uitgedeel en die reëling werk goed.
Met die bou van die kerkkompleks en pastorie is die erwe gekonsolideer. Die gemeente se adres sal voortaan Kamferbosstraat 58 wees.
Tydens die laaste vergadering van die jaar, op 21 November 1974, lig ds. Strauss die kerkraad in dat hy gaan trou. Hy word gevra om die vergadering te verlaat en die kerkraad besluit om R150 as trougeskenk aan hom te oorhandig. Die pastorie se werk is voltooi en hy kan nou na die pastorie trek. Die maandblad van die gemeente vind groot byval en daar word besluit dat die blad in die nuwe jaar maandeliks en nie meer twee maandeliks nie, sal verskyn.
Met die begin van die nuwe jaar, op 23 Januarie 1975 , word besluit om voortaan twee oggenddienste te hou. Dit sal die sitplek probleem sowel as parkeer probleem oplos. Op die vergadering van 20 Maart word gevra dat die kategeseklasse toegemaak word. Die orrelpype moet ook met ‘n sonskerm bedek word, want die son kan skade veroorsaak.
Mnr. Trotskie vra op 10 April vir orreliste hulp tydens die tweede oggenddiens en op 29 Mei word mev. J.A. Strydom aangestel as orrelis vir die tweede oggenddiens.
Hoërskool C.R. Swart reël hul matriekafskeid en daar word verneem dat die leerders tydens die geleentheid gaan dans. Op die vergadering van 31 Julie word besluit om aan die skoolhoof ‘n brief van afkeer te rig. Alhoewel die geleentheid nie deur die skool gereël word nie, is dit steeds nie aanvaarbaar nie.
‘n Teologiese student, mnr C. Schnell, vra om sy praktiese werk onder leiding van ds. Strauss te doen en op 18 September word toestemming daarvoor gegee. In die nuwe jaar bied ‘n teologiese student, mnr. Fanie Steenkamp aan om betrokke te raak by die sondagskool. Hy is ‘n lidmaat van die gemeente.
In die middel van 1976 kondig ds. du Toit aan dat hy ‘n beroep na NG Gemeente Dalunie aanvaar het. Demissie word op 11 Julie aan hom verleen. ‘n Beroepsvergadering vind op 14 Julie plaas en ‘n groslys van 12 name word voorgelê. Na ‘n stemming word die kandidate tot 3 verminder, waarna ds. P.R. du Toit van Seinheuwel in Bloemfontein beroep word. Indien hy die beroep nie aanvaar nie sal ‘n volgende beroepsvergadering op 11 Augustus gehou word.
Op 11 Julie 1976 word daar afskeid geneem van ds. A. Du Toit en lewer hy hy sy afskeidspreek. Oudl. H.L. du Plessis sal hom na sy nuwe gemeente vergesel en afgee. Ds. P.R. du Toit aanvaar die beroep en gaan op die naweek van 17-19 September bevestig word.
Teologiese student Danie Dreyer gaan sy praktiese werk onder ds. Strauss voltooi. By die vergadering van 21 Oktober word gesê dat die orrelis, dr. A. Trotskie op 31 Desember gaan bedank. Sewe orreliste doen aansoek vir die pos. Hiervan word 3 genooi om tydens ‘n Sondag te speel. Dr. Trotskie sal formeel tydens die kersuitvoering op 21 November afskeid neem.
Met die eerste vergadering van 1977, op 27 Januarie, word mnr. Martin van der Heever as orrelis aangestel. Hy sal sy diens op 1 Februarie begin. Met sy aanstelling kom die hulppos van mev. Strydom dan ook tot ‘n einde.
‘n Revisie oor die besluit oor die dra van hoede deur vroue word gevra. Hierdie saak sal tydens die Maart-vergadering bespreek word.
‘n Kwessie ontstaan oor die gebruik en bediening van drank op die kerkperseel. Egpare gebruik die konsistorie as saal om hul huweliksplegtigheid te vier en wil dan sjampanje en wyn met hierdie geleentheid gebruik. Geen Bybelse besware kan teen hierdie versoek gevind word nie. Die konsistorie se grote verhoed in elk geval groot funksies. Daar is ook nie enige ander kerklike lokale wat vir hierdie doel gebruik kan word nie. Die konsistorie was oorspronklik bedoel om as saal diens te doen. Op 7 November 1977 word daar dan besluit dat die bediening van 1 rondte sjampanje of droëwyn bedien mag word. Die koster moet streng hieroor toesig hou. Die saak van hertrou van geskeides word ook bespreek en toestemming hiervoor word deur die kerkraad gegee.
Drie teologiese studente vra die kerkraad vir toestemming om hul proefpreek in die gemeente te lewer. Christo Louw sal sy preek op 23 April 1978 sy preek lewer, Danie Dryer op 21 Mei en Chrs Schnell op 20 Augustus. Nog ‘n teologiese student, S.J.J. Niemand vra om aan die einde van 1978 sy prakties in die gemeente te doen.
Op 29 Junie 1978 word ‘n brief van dank aan die Minister van Justisie gerig oor sy besluit oor films op Sondae. ‘n Maand later word by ‘n buitengewone kerkraadsvergadering op 6 Augustus besluit om ‘n ekstra 100 nagmaalsglasies aan te koop vir gebruik tydens die twee nagmaals oggenddienste. Die reëlings met twee dienste in die oggend werk goed en voortaan mag die gemeente weer al 4 verse van Psalm 100 as intreelied sing. Vanaf 29 Oktober moet ongeveer 5 minute per erediens gebruik om die gemeente nuwe liedere te leer.
Op 30 November word besluit dat die nuwe Psalm en Gesange boek voortaan in die gemeente gebruik sal word. Baie van die bekende Halleluja liedere is in die boek opgeneem. 20 van hierdie boeke sal deur die gemeente aangekoop word om seker te maak dat mense wat nog nie een het nie ook kan saam sing.
Ds. Strauss het ‘n beroep na Universitas in Bloemfontein aanvaar. Sy afskeidspreek sal op 3 Desember 1978 wees. Hy sal sy akte van demissie tydens die tweede oggenddiens ontvang. Oudl. J.B. Stevens sal hom na sy nuwe gemeente vergesel en afgee.
Op 4 Desember 1978 word ‘n beroepsvergadering gehou. ‘n Groslys bestaande uit 15 kandidate word saamgestel. Na ‘n derde stemming word ds. M.J.P Grobler van NG Gemeente Port Natal beroep. Hy aanvaar die beroep en die gemeente neem op 1 Februarie 1979 vir hom verantwoordelikheid. Hy arriveer en word op 16 Februarie bevestig, met sy intreepreek wat op 18 Februarie by albei oggenddienste plaasvind.
Met die groei van die gemeente word daar op 15 Maart na die opsie van uitbreiding van die kategeselokale gekyk. Die bestaandes klasse saam met die aanbou van nuwe klasse toegemaak word. Op 28 Junie word R40 000 vir die aanbou van kategeseklasse beskikbaar gestel.
Twee teologiese studente lewer hul proefpreke in die gemeente. Fanie Steenkamp op 29 April en op 24 Junie is dit Van Aarde se beurt. Twee teologiese studente, D. Cornelius en Kruger doen hul praktiese werk die jaar in die gemeente.
Mnr. A. de la Harpe tree as koster af en mev. A.C. Roodt word op 1 September 1979 as koster aangestel.
Mnr. P.J. Eksteen se bedanking as kassier word op 21 Mei 1981 hanteer en ‘n nuwe kassier moet vanaf 1 Augustus aangestel word. Mnr. L.P Prinsloo word as die nuwe kassier aangestel. ‘n Teologiese student, P.A. Botha, gaan sy proefpreek op 6 September lewer.
Op 20 Augustus word besluit om ‘n nuwe luidsprekerstelsel te installeer. Met die woonstelblokke wat in die gemeente opgerig word, neem die lidmaattal van die gemeente steeds toe. Daar moet na hulp vir die leraars gekyk word, veral wat bediening by die woonstelblokke betref. Op 21 Januarie 1982 besluit die kerkraad die tyd het aangebreek om aan die beroep van ‘n derde leraar te dink. Die lidmaattal as gevolg van die woonstelle neem al meer toe. ‘n Derde pastorie moet bekom word.
In 1982 vra 3 teologiese studente om hul proefpreke in die gemeente te lewer. Deon Beyers op 28 Maart, Gawie Oberholzer op 18 April en André Viviers op 9 Mei. Aan die einde van die jaar, op 25 November, word daar besluit om in die nuwe jaar ‘n ooreenkoms met ‘n teologiese student aan te gaan om as hulp 40 ure per maand pastorale werk in die woonstelle te verrig. Teologiese student R. Du Toit word vanaf 15 Maart 1983 hiervoor aangestel.
‘n Versoek word aan kerkraad gerig in verband met die gebruik van druiwesap tydens die nagmaal. Die versoek word afgekeer en slegs wyn sal tydens nagmaal bedien word. Aan die vrouediakens word kleredrag voorskrifte vir die erediens gegee. Hulle moet in donker (swart) tweestukke of ‘n romp met ‘n wit bloes geklee wees.
‘n Behoeftebepaling moet onder huisbediendes gedoen word om vas te stel of daar met ‘n erediens vir hulle begin moet word. Daar is wel hiervoor ‘n behoefte en vanaf 20 September 1984 word dienste onder leiding van die NGKA van Mamelodi-Noord vir huisbediendes gehou. Die Vroueaksie kry toestemming om gemeente fasiliteite te gebruik vir die bediening van die huisbediendes.
Ds. Grobler is deur die Universiteit van Pretoria genader om met Bybelkunde lesings te help. As gevolg hiervan word besluit om ‘n teologiese student, B.R.S. du Toit, wat oor proponent status beskik, in diens van die gemeente te laat tree. Aan die einde van 1984 vra die Universiteit vir ds. Grobler om vir die eerste 6 maande van die nuwe jaar met hierdie lesings voort te gaan.
Op die vergadering van 31 Januarie 1985 besluit die kerkraad om ‘n jaar met die beroep van ‘n derde leraar te wag. Daar sal aan die begin van 1986 weer na die gemeente se getalle gekyk word. Die woonstelle se blywende invloed op die gemeente se getalle is te onseker.
Daar word gevoel dat die gemeenteblad moet uitbrei om meer samehorigheid in die gemeente te bevorder. Die blad moet meer gemeentebedrywighede bevat, nuuswaardighede van die gemeente dek en met aanvullende geestelike leesstof gevul word. ‘n Kompetisie vir ‘n nuwe naam vir die blad sal geloots word. R20 sal aan die persoon met die beste voorstel vir ‘n naam as prysgeld gegee word. Die kompetisie sluit op 7 Maart 1985 en daar word gemik om die nuwe gemeenteblad in April te laat verskyn.
Op 29 Julie 1985 word planne van die Gereformeerde Kerk Derdepoort bespreek om ‘n tehuis vir bejaardes in Anna Wilsonstraat te bou. Die gemeente word genader om op die Raad van Trustees te dien. Die saak sal ernstig ondersoek word.
Gretastraat 53 word as derde pastorie vir R125 000 aangekoop. Ds. Grobler sal na hierdie pastorie trek en die pastorie in Kamferbos sal verhuur word.
‘n Ongemaklikheid rondom die politieke situasie in die land moet hanteer word. Op 20 Junie 1985 verklaar die kerkraad dat ad hoc besoekers van kleur toegelaat sal word om die kerk te besoek. Die kerkraad aanvaar afsonderlike kerke vir afsonderlike bevolkingsgroepe. Onverwagse besoeke deur anderskleuriges by gewone eredienste is die uitsondering en moet so hanteer word. Die kerkraad se standpunt sal oordeelkundig en taktvol deur die leraar of ‘n lid van die dagbestuur aan so ‘n persoon oorgedra word. Die standpunt sal aan die gemeente gekommunikeer word.
Op 5 September 1985 word ‘n lening vir R100 000 vir die koop van die derde pastorie geregistreer.
‘n Brief van simpatie word aan Mev. Kapp gestuur na die afsterwe van haar man, wat 14 jaar gelede die Bou-aannemer was met die bou van die kerk.
Op 24 November 1985 word gehoor dat prop. Du Toit na 3 jaar klaar maak by die gemeente. Daar sal nou na ander hulp vir die leraars gekyk moet word. Teologiese student C.T. Kleynhans gaan van Januarie 1986 sy prakties in die gemeente onder leiding van ds. Du Toit doen en ds. Grobler gaan steeds voort met sy lesings in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Op 6 Maart 1986 word die adresse van boeke, tydskrifte, rolprente en vermaaklikhede in die Klankbord, die nuwe naam van die maandblad, geplaas. Gemeentelede word aangemoedig om besware oor inhoud en advertensies of waardering te stuur.
Die beroep van ‘n derde leraar word steeds oorweeg. Daar sal aan die einde van Maart na die statistieke van die gemeente gekyk word om ‘n besluit oor die saak te neem. Ds. Grobler verkry toestemming vir verdere studies.
Na deeglike oorweging besluit die kerkraad op 1 Mei 1986 om wel toestemming te verleen vir die beroep van ‘n derde leraar, maar om die pos aan die kapelaansdiens te koppel. Leraars doen diens as kapelane. Hulle skakel in by die gewone militêre gemeentes. Hulle woon egter reg oor die stad en gewoonlik nie in ‘n pastorie nie. Om hul bevoegdheid te behou moet hulle aan ‘n gemeente gekoppel wees. Die staat besoldig die kapelaan en hy kry ‘n staatsubsidie vir behuising. Hy is ook op militêre vervoer geregtig vir amptelike werk. Hy dra geheel en al tot die staatspensioenfonds by, maar maak ‘n geringe bydrae tot die predikante pensioenfonds. Deur die staat word hy verplig om op 60 af te tree. Hy is voltyds kapelaan, maar doen ook geringe take in die gemeente waaraan hy gekoppel is. As medeleraar kan hy sekere eredienste waarneem, vergaderings bywoon, byeenkomste lei en bywoon en by ongeveer 80 besoekpunte betrek word. Sy kapelaanswerk kom egter eerste. Hy mag vir tye weg wees uit die gemeente. Die gemeente voel dat hierdie die pad is wat met die aanstelling van ‘n derde leraar geloop moet word. Op 24 Augustus word ds. C.P. Naude as weermag kapelaan-leraar beroep.
Van 22 Junie tot 13 Julie gaan Herman Carelsen sy praktiese werk onder leiding van ds. Du Toit in die gemeente doen.
Dit kom onder die gemeente se aandag dat die stuk grond oorkant die kerk in ‘n petrolvulstasie omskep gaan word. Dit kerkraad wil met die stadraad oor die saak onderhandel. Eerste word daar gevra of die stadraad nie eerder die stuk grond aan die gemeente wil skenk nie. As dit nie kan gebeur nie, sal daar gevra word of die grond nie teen ‘n minimale koste gekoop kan word nie. As die grond nie bekom kan word nie, maak die kerkraad beswaar teen die voorgenome ontwikkel op die grond. Die stadsraad laat weet dat die stuk grond reeds verkoop is en dat die kerk nie beswaar kan maak teen die lisensie waarvoor aansoek gedoen is nie.
Op 4 September word daar gekyk na die veiligheid van lidmate en lidmate se motors tydens eredienste. Twee kerkraadslede sal voortaans die terrein patroleer.
By die laaste vergadering van die jaar, op 6 November word daar toestemming gegee vir aanbouings by die Jeanettestraat pastorie. Daar word ook toestemming gegee vir die inskakeling van ‘n gevangenis-kapelaan by die gemeente.
Op 29 Januarie 1987 word ds. B.J. Piek beroep as gevangenis-kapelaan gekoppel aan NG Gemeente Noordoos-Pretoria. Hy sal verantwoordelikheid neem vir 1 wyk en 1 preekbeurt per maand.
Die kerkraad is genoodsaak om die oortrokke fasiliteit van die gemeente na R65 000 te verhoog as gevolg van die uitgawes wat die bouwerk by die pastorie meebring.
Na aanleiding van Kerk en Samelewing verval die blokvergaderings van 16 en 17 Februarie en word dit vervang met ‘n Broederlike onderhoud of oopgesprek oor die saak op 17 Februarie om 19:00 in die kerk.
Die erediens van 1 Februarie 1987 word toegespits op die jongmanne wat die volgende dag aanmeld vir diensplig. ‘n Ouderling en diaken sal aangewys word om kontak met hulle te hou. Hulle moet voordurende met die dienspligtiges van die kerk se kant af kommunikeer.
‘n Brief van dank word aan die Conradie-egpaar gerig vir die skenk van die Kanselbybel. Ds. Naude word geluk gewens met die Ster van SA wat eersdaags aan hom oorhandig gaan word.
Op 12 Maart word ‘n aansoek om ‘n kunsuitstalling by die kerk te hou afgewys. Handeldryf word nie in die konsistorie toegelaat nie. ‘n Krieketwedstryd word beplan vir die 21ste Maart op Hoërskool C.R. Swart se velde tussen die kerkraadslede.
Op 7 Mei gaan C.T. Kleynhans sy proefpreek in die gemeente hou. Teologiese student Greyling Viljoen gaan op 13 September sy proefpreek lewer. ‘n Blokkiesraaisel ten bate van die Drakenberg gemeente word onder lidmate versprei.
Op die vergadering van 2 Julie 1987 word besluit dat eerskomende Sondag se oggenddiens as ‘n proeflopie sal dien, waartydens die kerkraadslede met die gesinsdiens by hul families mag sit. Die formaat van die aanddienste mag ook verander word.
Op 5 November word revisie geneem oor die besluit rakende handeldryf in die kerkgeboue. Daar mag voortaan met die diskressie van die kerkraad sekere fondsinsamelings toegelaat word. Die eerste instansie wat toestemming verkry is die T.V.L.U. wat toegelaat word om ‘n kothuismark in die konsistorie te hou.
Op 13 Februarie 1988 word Huis Ebenaeser in gebruik geneem. Twee afgevaardigdes woon die besonderse geleentheid namens die gemeente by.
‘n Brief van dank word van teologiese student D. Ferreira ontvang omdat hy toegelaat is om sy prakties in die gemeente te kon doen.
Op 26 Mei 1988 hanteer die kerkraad die besluit wat die Sinode rakende die voorskrifte van ampsdrag van ampsdraers geneem het. Kerkraadslede word nie meer volgens hierdie besluit geforseer om swart pakke en wit dasse te dra nie. Na aanleiding hiervan besluit die kerkraad om ampsdraers toe te laat om vanaf 11 Junie by hierdie reëling van die Sinode in te val. Die kerkraad word steeds aangemoedig om wit dasse te dra.
Die eerste nie-lidmaat ontvang toestemming om ‘n huwelik binne die kerkgebou te mag voltrek. Herman Carelsen sal sy proefpreek op 18 September lewer.
Op 18 Augustus word toestemming verleen dat die kategese vir Sondag 25 September na 8:00 verskuif word en dat die 10:15 erediens gekanseleer word. ‘n Groot erediens vind op Loftus Versfeld plaas en die hele gemeente word aangemoedig om dit te gaan bywoon.
Op 29 September word toestemming verleen vir demissie aan ds. Piek. Sy afskeidspreek sal op 4 Desember plaasvind.
Na aanleiding van die besluit oor die ampsdrag van kerkraadslede word voorgestel dat daar met die Sinode geskakel word om uitsluitsel te kry oor wat met die woorde waardig en stylvol bedoel word. Daar word gevoel dat manlike kerkraadslede steeds ‘n pak klere moet dra om reg te doen aan die atmosfeer van die erediens. Die wit das bly steeds opsioneel.
‘n Grootdruk Bybel sal van die gemeente aan Huis Ebenaeser vir gebruik oorhandig word.
Op die vergadering van 2 Februarie 1989 word daar aan die leraars gevra om ‘n paar Sondae aan spesifieke sake wat kwel aandag te gee. Die volgende tema’s word versoek: Doop (verbondsteologie), spreek in tale, wegraping, werke en besonderse gawes van die Heilige Gees.
Daar word ook kennis geneem dat ds. Piek in Kaapstad bevestig is.
Die koster, mev. A.C. Roodt bedank op 30 Maart. Mnr. Lukas Johannes Moolman word op 25 Mei as die nuwe koster aangestel.
Na aanleiding van die versoek aan die leraars om oor sekere tema’s te preek, word daar ook ‘n versoek gerig dat daar geleentheid geskep moet word om oor ander sake tydens die aanddienste te gesels. Die volgende sake word vir die doel genoem: joga, karate, popmusiek en tienerpartytjies. Kundiges sal gevra word om by die aanddienste oor hierdie sake te kom praat.
Die S.K.J.A besluit om voortaan Sondae te vergader. Die aanddienste sal nou reg deur die jaar om 18:30 gehou word. 500 Sing onder mekaar proefbundels sal aangekoop word vir gebruik deur die gemeente.
Op 23 September 1989 kan die beplande kerkraadsvergadering nie plaasvind nie omdat daar nie ‘n korum teenwoordig is nie.
Tydens die vergadering van 23 November word besluit om vir ‘n proeftyd die gebruik van druiwesap vir nagmaal toe te laat.
Die kerk word deur mense genader wat ‘n APK lidmaat se begrafnisdiens vanuit die kerk wil doen. Die leraars sal volgens hul goeie oordeel kan besluit of hulle in sulke gevalle gemaklik is om hieraan toe te gee.
Teologiese student Meyer versoek die gemeente om sy praktiese werk hier te mag doen.
‘n Drom word op die kerkterrein geplaas vir glasherwinning. Gelde wat met hierdie herwinning geïn word sal vir die Derdepoort voedselprojek geskenk word.
By die vergadering van 1 Februarie 1990 word daar besluit dat die gebruik van druiwesap vir nagmaal van nou af ook toegelaat sal word.
Ds. Naude gaan vir 2 jaar na die VSA. Hy wil graag vir die tyd aan die gemeente gekoppel bly. Hy sal op die 25ste November sy afskeidpreek lewer. Daar sal nou ernstig na hulp vir die leraars gesoek moet word. Die Sinode is bewus van leraars wat tydelik na die buiteland verhuis. Na onderhandelinge word besluit om alle leraars wat oorsee woon aan NG Gemeente Pretoria-Oos te koppel.
Die gemeente besluit op die 27ste September om amptelik navraag te doen en ook beswaar te maak by die Sinode oor die formule waarvolgens die gemeente vir Sinodale bydraes aangeslaan word. Daar word gevoel dat die aantal leraarsposte waarteen die gemeente aangeslaan word nie regverdig is nie.
‘n Verdere 50 Sing onder mekaar slapband boekies word vir gebruik deur besoekers in die erediens, teen R2 elk aangekoop.
Die kerkraad rig ‘n brief aan die Poswese oor die werklike behoefte aan ‘n poskantoor of posagentskap naby Huis Ebenaeser.
Op 18 November 1990 word daar van Ds. Naude afskeid geneem. ‘n Feeskomitee word saamgestel om die mondigwordings geleentheid van die gemeente te beplan.
Aan die begin van 1991 word daar besluit om ‘n swembad by die Jeanettestraat pastorie in te sit en ‘n grasdaklapa op te rig.
By die vergadering van 7 Maart 1991 word verneem dat prop. J.G. van der Watt terug is van die buiteland. Hy is ‘n gemeentelid. Daar word besluit om hom as deeltydse hulp in die gemeente aan te stel. As gevolg van die gebrek aan mannekrag word daar toestemming aan die leraar gegee om vir die tydperk van April tot Augustus vir 2 dienste per maand van buite predikers gebruik te maak om te help met die werkslas.
Vir die naweek van 18-20 Oktober word daar ‘n besonderse mondigwordingsfees beplan. Ds. A. Du Toit en ds. S.A. Strauss sal preek. ‘n Vrywillige bydrae van R5 per lidmaat sal gevra word om te help met die koste van die nuwe klankbord.
Superrand het begin met Sondaghandel. ‘n Gesprek is met die bestuur hieroor gevoer, maar die bestuur was nie oop vir oortuiging nie. Hulle voer ekonomiese redes aan vir hul besluit oor die saak. Dit word so deurgegee aan die gemeente.
Eon Coetzee gaan sy proefpreek op 25 Augustus 1991 in die gemeente lewer.
Laerskool Nellie Swart het die gemeente genader om die kerkterrein te gebruik om te oefen vir ‘n noodtoestand.
Dr. du Toit gaan sy afskeidspreek op 10 November lewer. Prop. J.G. van der Watt sal van Oktober af beskikbaar wees om 2 preekbeurte per maand te hanteer
Daar word ook besluit om 6 gewone waaiers in plaas van dakwaaiers in die kerk te installeer. ‘n Rekenaar vir gebruik van die gemeente word aangekoop.
Op 16 Januarie 1992 word ‘n beroepsvergadering gehou. Uit ‘n groslys van 16 leraars en 7 predikante word ds. J.C. van Rooyen van Ermelo-Wes beroep.
Aan die einde van Januarie word daar oor die termyne van kerkraadslede herbesin. Kerkraadslede mag vir 5 jaar dien. Daarna is hulle egter nie herverkiesbaar nie. Indien daar nie iemand in daardie vakante ampspos verkies word nie, mag hulle weer by die eerste kerkraadsvergadering verkies word.
Na deeglike oorweging word daar tot die besef gekom dat die beroep van ‘n derde leraar onwaarskynlik is. Daarom moet die moontlikheid van die verkoop van die Kamferbos pastorie ondersoek word. Na oorweging word daar besluit om die pastorie nie nou eers te verkoop nie. Ds. Van Rooyen het die beroep aanvaar. Hy verhuis op 25 Maart 1992 na Pretoria. Hy sal op 27 Maart bevestig word en sy intreepreek sal op 29 Maart plaasvind.
Op 13 Augustus word daar besluit dat kerkraadslede as ‘n proefneming die eerste Sondag van die maand toegelaat sal word om by hul familie te sit. Een kerkraadslid bid saam met die leraar voor die diens en al die kerkraadslede kom na die diens vir afkondigings en ‘n gesamenlike afsluiting in die konsistorie bymekaar.
Nog kanselklede sal gemaak word wat by die kerklike jaar pas en afwisselend gebruik kan word.
Op 19 September word besluit om kerkraadslede wat ‘n tweede vergadering sonder verskoning mis deur ‘n brief aan te spreek.
Daar word besluit om nagmaal aan inwoners van Ebenaeser se siekeboeg te bedien wat nie meer instaat is om die formele geleenthede by te woon nie.
As ‘n proefneming gaan daar die laaste kwartaal van die jaar slegs een oggenddiens wees.
Op 19 November word ‘n versoek van 6 gesinne wat in Waverley woon ontvang. Hul kinders is in Voorpos en al die maatjies en hul gesinne skakel by Waverley-Oos in. Die gesinne versoek om ook daar in te skakel. Die versoek word geweier. Die kindes kan Waverley-Oos se J.K.J.A bywoon, maar die gesinne moet as lidmate by Noordoos-Pretoria inskakel. Die Ring word tog gevra om die hele saak van gemeentegrense en die moontlike herindeling van grense te ondersoek.
Die proeftyd vir kerkraadslede wat by gesinne sit is verby en het goed gewerk. Hierdie reëling sal nou so voortgaan. Daar is nou ‘n nuwe voorstel dat hierdie reëling vir elke Sondag sal geld. Die eredienskommissie sal hieroor besin. Na aanleiding van die nuwe verwikkeling word daar ook besluit om die konsistorieregister af te skaf.
Daar word besluit om in 1993 voor te gaan met 2 oggenddienste. Mev. Roodt gaan op 30 November op pensioen, maar sy gaan per kontrak verder aangestel word.
‘n Spesiale verjaardags offerkoevert word in Oktober uitgedeel. Dit gaan ‘n jaarlikse instelling word.
‘n Brief van dank is aan die Publikasieraad gerig dat die film “Last Temptation” nie aan die publiek vertoon is nie.
Op 28 Januarie 1993 word die nuwe leuse van die gemeente goedgekeur: “Saam op pad vir Christus”.
Die klankstelsel is nie meer na wense nie en op 11 Maart word daar besluit om vir ‘n nuwe stelsel te begroot. Ter wille van beter sang word daar beplan om ander instrumente tydens die aanddiens te betrek. Die nuwe jeugsangbundel is ook binnekort beskikbaar.
‘n Afdak gaan by die kerk teen ‘n koste van R32 000 opgesit word. Die beginsel van ‘n kleuterkerk word goedgekeur.
Op 12 Augustus word besluit om lokaal 18 in ‘n kerkkantoor te omskep. Die nuwe kantoorure word aanvaar: Ma, Wo, Vr – 9:00 tot 12:30 en Di, Do – 15:30 tot 17:45.
By die 23ste September se vergadering word besluit om die kerk se skuld te konsolideer in een rekening by die NG Kerk. Tot tyd en wyl dit in plek is gaan die oortrokke fasiliteit tot R80 000 verhoog word.
‘n Huurkontrak word met prop. Danie van Rensburg aangegaan vir die pastorie in Kamferbosstraat.
Die orrelis versoek die aankoop van ‘n nuwe permanente sangskerm. Die omheining van die kerkterrein kry ernstige aandag.
Prop. van der Watt maak klaar by die gemeente. Daar word met prop. van Rensburg onderhandel om die gemeente te help as pastorale hulp, alhoewel hy reeds by NG Gemeente Jan Niemandpark betrokke is.
Die gemeente hoor dat daar ‘n kans is om teen die petrolvulstasie se aansoek te appeleer, aangesien hul aansoek defektief was. Dit sal beslis oorweeg word.
Die koste vir die omheining van die kerk beloop R55 000. ‘n Paar gemeentelede besluit om die werk self te doen. Hulle koop self die staal en begin werk. Hulle voltooi die werk teen die skamele koste van R8 200.
Die H.J.A. en B.K.J.A besluit in Februarie 1994 om ook voortaan Sondae aande bymekaar te kom.
Op 1 September 1994 word daar besluit om voortaan wykskerkrade in te stel.
Die dankoffers van die gemeente neem af. Die bydrae metodes moet heroorweeg word. As die situasie nie verbeter nie sal die begroting van 1994/95 hersien moet word.
‘n Kersliedere by kerslig word vir 4 Desember beplan. Daar sal nie ‘n aanddiens wees nie.
Die gemeente stuur vir Eckhard Bredenham as ‘n dienswerker vir Diensjaar vir Christus in 1995 uit.
By die Ringsitting van 1995 word daar melding gemaak van die gemeente se leraars se swaar werkslas. Die gemeente se erediensbywoning is op die oomblik die laagste in die Ring.
Hulp daag in die vorm van ds. J.H. van Loggerenberg op wat op versoek van die weermag op 11 September as leraar na die gemeente beroep word. Ds. Van Loggerenberg word eenparig van die SA Geneeskundige dienste (Opleidingskollege) beroep. Hy mag nie vir meer as 70 besoekpunte verantwoordelikheid aanvaar nie.
Op 13 Oktober 1994 word daar na die verandering in die samestelling van die kerkraad die eerste keer as ‘n sentrale kerkraad vergadering gehou. Die gemeente doen aansoek om die oortrokke fasiliteit van R80 000 tot R100 000 te verhoog, maar die fasiliteit sal slegs vir werklike noodsituasies gebruik word.
Ds. Van Loggerenberg word op 6 November deur Genl. Maj. (ds.) Johan de Wet bevestig.
Die orrelis skryf ‘n brief en versoek dat sy salaris met R200 per maand verminder word as gevolg van die slegte posisie waarin die gemeente tans verkeer.
Op 18 Mei 1995 word die moontlik om die Kamferbos pastorie te verkoop weer geopper.
Besighede wat pornografiese materiaal verkoop word versoek om dit uit die oog van kinders te hou. Die besighede wat dit nie verkoop nie word bedank.
Met die 25ste verjaardag van die gemeente word ‘n Sang- en musiekoggenddiens gereël. ‘n Gemeente-ete sal gehou word en T-hemde sal verkoop word.
Die Ring waarsku gemeentes teen die gebruik van ander musiekinstrumente in die kerk. Dit neig om na ‘n konsert of vermaak oor te hel. Dan word daar, en veral deur die jeug, nie goedgekeurde liedere gesing nie.
Mev. Moolman word per brief bedank dat sy haar wyle man al die jare so getrou in sy werk as koster ondersteun het. ‘n Advertensie sal geplaas moet word vir ‘n nuwe koster wat op 10 Januarie 1996 moet begin werk.
Die oujaarsdiens sal van nou af om 18:30 in plaas van middernag gehou word.
Op 6 Februarie 1996 word besluit dat daar nou nie meer 6 nie, maar net 3 kerkraadslede by die nagmaalstafel sal aansit. Dit is ook ‘n gesukkel om genoeg lidmate te kry om by die nagmaalstafel te sit.
Die 2 leraars en ‘n ouderling word getaak om met die mense wat hulself weer wil laat doop te gesels. Mnr. J.J. Visagie is van 15 Januarie as die nuwe koster aangestel.
16 Mei – Verskuifbare plante mag voor die preekstoel geplaas word, sonder om die matte te beskadig.
Dr. Pieter Nel gaan tydens die aanddiens oor pornografie kom gesels.
25 Junie – Die bywoning het verder afgeneem. Daar is nou genoeg sitplek vir almal in een diens. Met een diens sal daar beter eenheid in die gemeente geskep word.
29 Aug – Kamferbosstraat se pastorie word vir R125 000 verkoop.
‘n Boomplantdag word by die kerk gereël vir 2 September. Seniors van die gemeente help en verskeie bome word op die terrein geplant.
Die standpunt oor kindernagmaal sal ondersoek word.
14 November – ‘n Masjeersalon het binne die gemeentegrense oopgemaak. ‘n Herderlike brief sal aan die eienaar gestuur word. Indien daar nie reaksie kom nie sal ‘n brief aan die huiseienaar gestuur word, asook aan die munisipaliteit.
28 Augustus 1997 – ‘n Brief is van die munisipaliteit oor die masjeersalon ontvang. Die eiendom is ontruim en die Stadsraad beskou die saak as afgehandel.
‘n Brief sal aan die Parke—afdeling van die Stadsraad gerig word met ‘n versoek om die Hartbeesspruit te verfraai.
12 Februarie 1998 – Die orrelis mnr. van Heerden bedank. Hy sal nog aanbly tot April 1998.
19 Maart 1998 – ‘n Uitdeelstuk oor die Belydenis van Belhar word versprei. Die gemeente word daarop gewys dat die pad van kerkhereniging nog ‘n lang pad is om te loop.
18 April 1998 – Ds. van Rooyen het ‘n beroep na NG Gemeente Valleisig aanvaar. Hy sal sy afskeidpreek op 10 Mei lewer en demissie op 17 Mei ontvang. Sy pos gaan nie gevul word nie. ‘n Pastorale hulp of tentmaker pos sal geskep word. Ds. van Loggerenberg se pos sal van 30 Julie omgeskakel word na ‘n tentmakerspos. Hy sal verantwoordelik wees vir die helfde van die gemeente.
Ds. Grobler ontvang spesiale toestemming om saam met Dr. du Toit van 30 Mei tot 15 Junie gemeentes in Portugal te besoek.
Mnr. Gideon Brits se diens as orrelis eindig op 31 Mei. ‘n Nuwe orrelis sal op 7 Junie aangestel word.
‘n Brief van dank word aan die S.A.W. gerig. Hulle het ds. van Loggerenberg se trek kosteloos na die Jeanettestraat pastorie hanteer.
Daar word genoem dat die erediens bywoning nie na wense is nie, veral wat die kerkraad betref.
Op 12 November se vergadering word die saak van godslasterlikheid op televisie bespreek. Lidmate sal aangemoedig word om self met die S.A.U.K. te korrespondeer. Dit sal meer gewig dra as daar meer klagtes is. Die kontak inligting hiervoor sal voorsien word.
‘n Besprekingdiens sal oor kindernagmaal gehou word.
By die eerste vergadering van 1999, op 11 Februarie, word gesê dat die leraars ‘n toer na Israel gaan reël vir fondsinsameling. Die toer gaan van 27 Mei tot 4 Junie plaasvind.
By albei pastorie is afdakke opsit met materiaal wat deur ‘n lidmaat geskenk is.
‘n Nagklub, “Teasers Club” word in die gemeentegrense beplan. ‘n Beswaarskrif hieroor gaan opgestel word.
‘n Kleuterskool doen aansoek om hul skool vanuit die kerk te bedryf. Daar word nie toestemming hiervoor gegee nie.
Mev. Roodt wil teen die einde van Julie 1999 aftree.
Twee sangborde is in die kerk aangebring. In Maart 1999 word mej. Mariëtte Terblance as nuwe orrelis aangestel.
Mev. Adri Theron word as die nuwe skriba/sekretaresse aangestel. Haar dienstyd begin op 1 Julie 1999.
By die Ringsitting van 22 tot 24 Augustus heers daar groot kommer oor gerigte van groot afleggings by Transnet. Heelwat van die gemeentes se lidmate is werksaam by Transnet. Die skaal van afleggings kan veral gemeentes soos Derdepoort, Jan Niemandpark en Môregloed erg raak. Tot ‘n derde van hierdie gemeentes se lidmate sal deur hierdie afleggings geraak word. ‘n Konferensie oor armoede en werkskepping moet dringend gehou word.
Met die hantering van die Ringsgemeentes se fondse, word genoem dat 3 gemeentes met ‘n tekort vir die jaar afgesluit. NG Gemeente Noordoos-Pretoria se tekort is tans die grootste, met ‘n tekort van R41 317,38.
Aan die einde van die jaar word besluit dat die ‘n behoefte aan ‘n muur van herinnering die gemeente noodsaak om nou na so ‘n projek te begin kyk. Dit raak ook nodig om die sekuriteit by die kerk en pastorieë op te gradeer. Elektriese motors sal op al die terreine aangebring word. Gesprekke sal met NG Gemeente Waverley-Oos gevoer word om die moontlikheid van ‘n gedeelte jeugwerker te oorweeg. Die getal buite-wyk lidmate neem ook baie toe. Lidmate mag nou self besluit by watter gemeente hulel wil inskakel.
By die Augustus vergadering word terugvoer gegee oor die muur van herinnering. Die behoefte hiervoor is groot. Daar sal met AVBOB gesels word oor moontlike hulp van hul kant. Dalk kan hulle die muur oprig. Die implikasies hiervan vir die gemeente sal egter ondersoek moet word. Almal is dit eens dat die muur nie net tot gemeentelede se beskikking moet wees nie. Die vrouediens besluit om die kerktuin te verfraai. Gemeentelede word gevra om plante vir hierdie projek te skenk. ‘n Klankkas word gebou om die klanktoerusting te beskerm en ook vir die orrelis se boeke.
Onderhoude word gevoer vir die aanstelling van ‘n jeugwerker. Die moontlikheid van die aanstelling van ‘n proponent om 15 ure per week behulpsaam te wees in die gemeente, word ook ondersoek. Op 9 November word Dirk Venter as jeugwerker vir 1 jaar aangestel. Hy sal op 1 Januarie 2000 in die gemeente begin werk. Ds. Grobler wil graag sy eie behuising bekom. Op 15 Mei 2001 besluit die kerkraad om die Gretastraat pastorie aan Ds. Grobler te verkoop.
Botsings tussen baie besige skoolprogramme en die kerkprogram raak ‘n al groter probleem. Om die botsings te probeer verminder sal die finalejaarsklas na Sondae aande om 17:30 verskuif word. ‘n Ernstige waarskuwing word aan ouers gerig. Ouers moet hul doopbelofte ernstig neem en nie altyd vra dat die kerk kompromieë moet aangaan nie. Daar moet daarteen gewaak word om Jesus se genade goedkoop te maak deur te veel toegewings te maak.
Mensekloning is ‘n etiese kwessie wat deur ‘n spreker bespreek gaan word. Gemeentelede word genooi om na hierdie kenner oor die saak te kom luister.
Die Bramhartigheidskomitee wil met ‘n projek begin om behoeftige kinders met belydenisaflegging- en matriekafskeidsgeleenthede te ondersteun. Die behoefte hiervoor is groot. Daar word selfs oorweeg om hierdie projek op die televisie op die program Pasella te bemark. Die projek sal as die “Groot Geleenthede”-projek bekend staan.
Op 25 Februarie 2003 heers daar groot bekommernis oor die toename in negatiewe sake wat in die media aandag kry en wat lidmate verwar, onder andere die Gay-debat en die NG kerk se beleid hieroor en die Nuwe Hervormers se sienings. Daar word kommer uitgespreek oor die swak bywoning van die aanddienste. Dalk moet die formaat van die dienste verander. In aansluiting by die negatiewe sake wat in die media aandag kry en wat gemeentelede verwar word besluit om die aanddienste in “Dieper-delf” dienste te verander. Aktuele sake en etiese aangeleenthede sal hier bespreek word en kenners sal genooi word om met die gemeente hieroor te kom praat.
Die Admin bestuurder bedank as gevolg van mediese redes op 31 Maart 2003. Die huidige kassier bied aan om tydelik uit te help totdat die state vir die jaar afgehandel is. Die gemeente begroting is vir die eerste keer in 2003/2004 meer as ‘n miljoen rand vir die jaar. Mev. K. Winterbach word as boekhouer aangestel.
Die finansiële nood in die gemeenskap neem toe en 16 gesinne word met behulp van kospakkies ondersteun. Daar is reeds 400 seuns en dogters in die jaar deur die “Groot Geleenthede”-projek gehelp.
Aan die einde van 2003 word Prof. Malan Nel se gemeentebou-model deur die Sinode as nuwe werkswyse aanvaar. Die komitee’s en kommissies gaan nou in diensrade verander. Dit gaan ook implikasies hê vir die bediening in gemeentes.
Op 11 November skiet die gemeente die uitstaande R12 000 voor vir die bou van die kerk van Mathibastad. ‘n Gesamentlike kersliedere by kerslig word met die St Marks’ Presbiteriaanse Kerk gehou. Dis ‘n groot sukses. ‘n Spesiale diens word beplan om die 200-jarige feesviering van die Bybelgenootskap te herdenk.
Daar word gevra vir voorbidding vir spesiale wyksbyeenkomste wat aangebied gaan word. ‘n Klomp ernstige sake gaan tydens hierdie geleenthede bespreek word: misdaad en korrupsie, die misbruik van die Here se naam in literatuur, vloekwoorde en skeltaal op televisie, radio en in literatuur, liefdeloosheid, geldgierigheid, onttrekking van godsdiens uit skole, promiskuriteit en immorele gedrag, sport op Sondae, advertensies vir volwasse volmaak, verval in waardes, skinderstories en die afbreek van die individu, kerkverval en verval van huisgodsdiens, aggressie en geweld en die handhawing van selfdissipline.
Ds. van Loggerenberg verkry toestemming vir spesiale verlof om buitelandse sendelinge te gaan besoek. Die “Groot Geleenthede”-projek bereik 520 kinders.
Daar is reeds groot belangstelling vir ‘n gedenkmuur. 24 persone het reeds vooraf ‘n nissie bespreek. Daar word met die Stadsbeplanner oor die saak onderhandel. Een persoon het egter beswaar teen die gedenkmuur gemaak en die saak moet eers hanteer word.
Op 7 September word toestemming verleen vir die koop van ‘n dataprojekter vir gebruik in die erediens om beelde te vertoon, hoofpunte van die erediens uit te lig en die boodskap toe te lig. Die konsistorie moet rolstoel vriendelik gemaak word en daar bestaan ‘n behoefte vir ‘n toilet wat rolstoel-vriendelik is.
Op 14 Junie 2005 word voorstelle deur die Sinode gevra vir ‘n nuwe naam vir die Noord-Transvaal Sinode. Die Noordelike Sinode vind byval by lidmate.
Op 26 Februarie 2006 word besluit om nie meer van lidmate gebruik te maak om die sekuriteit van die gemeente te hanteer nie. ‘n Kontrak sal met ‘n sekuriteitsfirma aangegaan word om hierdie diens te verskaf.
‘n Verbondsverbintenis tot hereniging van die familie van die NG Kerk word deur die Algemene Sinode van die VGKSA en NGKSA uitgereik. ‘n Vergadering oor eenheid volg in Bloemfotein. Verskonings word gevra vir onregte van die verlede en die verskonings word aanvaar. ‘n Verklaring van die NGK in Afrika, VGK, RCA en die NGK word op 16 Augustus 2006 in Bloemfontein uitgereik waar almal hulle eenparig aan die proses van hereniging verbind. Die eerste stap in die proses sal ‘n vergadering oor die saak wees wat op 6 tot 8 November sal plaasvind.
Op 9 November hoor die kerkraad dat die gedenkmuur goedgekeur is. Die projek sal in 3 fases ontwikkel word van 78 nissies elk, met ‘n totaal van 234 nissies. 31 persone het reeds deposito’s vir nissies betaal. Tenders sal tot 30 Januarie vir die bou van die muur ontvang word waarna bouwerk sal begin.
Ds. Grobler is met siekverlof nadat hy ernstige besering opgedoen het as gevolg van ‘n aanval voor ‘n huis waar hy parkeer het om besoek af te lê. Sy motor is ook in die proses gesteel.
Die gedenkmuur sal in September gebou word en die projek sal teen Oktober 2007 klaar wees. Die muur sal vir minder as R100 000 gebou word. Die finansies van die gemeente lyk aansienlik beter as ‘n jaar gelede en daar is groot dankbaarheid teenoor die Here hiervoor.
Op 14 Februarie 2008 vra Ds. van Loggerenberg toestemming om van 18 April tot 4 Mei sendeling in Frankryk te gaan besoek.
Die muur se bou sloer en die bouwerk sal eers teen Januarie 2008 kan begin.
‘n Terugvoer dokument rakende die saak van kerkhereniging word besikbaar gestel.
Op 12 Januarie 2008 word besluit om die aanddienste tydens die wintervakansies met “huiskerk” te vervang. ‘n Werpwerf word vir die gemeente geskep. Die gemeente word ook deur middel van SMS’e gekontak.
Die “Groot Geleenthede”-projek word nie meer werklik benut nie. Tans is die aanvraag maar so 1 trourok per maand. Daar sal voortaan op “Teddies vir trane” gekonsentreer word. Teddiebere word vir traumasentrums reg deur die Moot voorsien, wat met kinders werk wat getraumatiseer is.
Die nood in die gemeenskap is besig om al erger te raak. Twee maal per week word 50 leerlinge by Laerskool Nellie Swart van toebroodjies voorsien.
In 2010 bied Suid-Afrika die Sokker-wêreldbeker aan. Ds. Grobler is as die NG Kerkfamilie se skakelbeampte en kommunikasiehoof benoem. Dit is ‘n wonderlike geleentheid vir uitreik na soveel mense van reg oor die wêreld wat ons land kom besoek.
Ds. van Loggerenberg bereik teen die einde van 2009 sy verpligte aftree-ouderom van 65 jaar. Die gemeente onderhandel met hom om vir ‘n verdere 2 jaar ‘n dienskontrak aan te gaan.
Aan die einde van 2009 word daar ernstig na die lewensiklus van die gemeente gekyk. Die gemeente is 39 jaar oud. Die gemeente het oor die jare soveel vermag en tot by 2009 gegroei. Die gevaar bestaan nou dat lidmate mag voel dat die gemeente tans haar hoogtepunt bereik het. Die noodwendige gevolg sal wees dat die gemeente stagneer en mettertyd begin agteruit gaan. Dit is nou die tyd om te dink aan hertoewyding en om met nuwe prosesse vir groei te begin. Dit bring nuwe lewe en nuwe aksies. Vyf fasette is nodig om dit te laat gebeur: Bou verhoudings; Toerusting; Aanbidding; Deernis; Uitreik.
Die koster mnr. Gerrie Visagie verhuis. Br. Gert Botha bied aan om tot Februarie 2011 uit te help tot ‘n nuwe koster aangestel is. Die aanstelling neem ‘n bietjie langer as verwag en op 26 Julie 2011 word mnr. Kobus Badenhorst as koster aangestel.
‘n Teologiese student, Dalene Flynn, sluit haar by die personeelkorps van die gemeente aan. Sy sal in Januarie 2011 met haar gemeentejaar begin en sy sal 15 ure per week werksaam wees in die gemeente.
Ds. van Loggerenberg stem in om vir ‘n verdere 2 jaar en 6 maande, tot by Desember 2014 per kontrak in die gemeente te werk. Ds. Grobler bereik in 2012 ook aftree-ouderom en dui aan dat hy ook bereid is om tot op die ouderdom van 70 per kontrak in die gemeente te werk.
Op 30 November 2011 tree Mev. A.F. Theron as skriba/sekretaresse af en mnr. Piet Theron word op 13 Februarie 2012 in hierdie pos aangestel.
Ds. Grobler emiriteer op 30 April 2013, nadat hy in Oktober 2012 sy aftree-ouderdom bereik het. Hy word per kontrak as pastorale hulp aangestel.
Op 30 Julie 2013 gee die eiendomskommissie terugvoer oor die stand van die kerk eiendomme. Die eiedomme is nou al ongeveer 40 jaar oud. Daarom vra die eiendomme al meer aandag. Die pastorie se kombuis kort groot aandag. Die kerkkombuis moet ook oorgedoen word en die toilet vir gestremdes is steeds nie gebou nie.
‘n Jaar later, op 29 Julie, is dit lekker om te kan berig dat die pastorie kombuis heeltemal oorgedoen is. ‘n Hele vrag ander projekte moet ook aangepak word: die toilet vir gestremdes, ‘n stort vir die tuinwerker, opgradering van die brandblussers, toets van elektriese toerusting, opsit van die straatpredikant en die naambord van die kerk moet onder andere aandag kry.
In Februarie 2005 kom ds. van Loggerenberg se kontrak tot ‘n einde en tree hy as leraar uit diens van die gemeente. Hy word gevra om na Februarie as brugleraar op te tree om die gemeente by te staan met die beroep van ‘n volgende leraar.
Op 24 Maart 2015 moet alle gemeentes van die NG Kerk reg oor Suid-Afrika stem oor die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ‘n 4de belydenisskrif. Die NG Kerk besluit daarteen.
Die gemeente is verplig om as gevolg van die probleme wat Eskom as kragvoorsiener van die land ervaar, op 29 Julie 2015 ‘n kragopwekker en verlengkoorde aan te skaf om krag aan die kerk te voorsien tydens kragonderbrekings as gevolg van beurtkrag.
Op 5 November word besluit om eerste aandag te gee aan die brandplan vir die kerk. Die ander noodsaaklike projekte sal met tyd aandag kry.
Die Sinode neem die eerste besluit oor selfdegeslag verhouding wat daarna uitloop op ‘n tweede besluit en later op ‘n duur hofsaak wat die eerste besluit weer herinstel.
Die kerkraad neem met groot ontsteltenis kennis van ‘n sekswinkel wat in die Superrand-kompleks oopgemaak het.
Nadat ds. van Loggerenberg die gemeente verlaat en die pastorie ontruim het, word die pastorie eers verhuur tot tyd en wyl ‘n nuwe leraar beroep word. Die pastorie sal van 1 Junie 2016 tot 1 Julie 2017 verhuur word.
Op 8 November 2015 besluit die kerkraad om die wyke waarvolgens die gemeente tans ingedeel is en bedien word, eerder in 12 wyke te verdeel. Dit beteken natuurlik dan ook dat die kerkraadsamestelling heeltemal sal moet verander
Op 25 Februarie 2016 neem ds. van Loggerenberg afskeid van die gemeente.
Op 23 Februarie 2016 is die brandplan vir die gemeente in plek. Na aanleiding van die Ringsitting van Augustus 2016 word gemeentes aangemoedig om met mekaar in gesprek te tree oor wedersydse samewerking.
Die orrel moet herstel word. Die totale koste van hierdie projek beloop R500 000. Gelukkig kan die werk in fases oor 5 jaar voltooi word. Vir die volgende 5 jaar sal daar weinig fondse aan enige ander instandhouding spandeer word. Die gemeente verbind haarself om hierdie projek met groot ywer aan te pak.
Op 15 November word die nuwe blokindeling en funksionering van die gemeente voorgestel en op 24 Januarie 2017 goedgekeur. ‘n Advertensie vir die beroeping van ‘n nuwe leraar gaan geplaas word. Op 24 Junie 2017 word die groslys opgestel met die name van die 32 kandidate wat vir die pos aansoek gedoen het. Uit hierdie kandidate word ‘n kortlys van 7 opgestel, waarvan 4 kandidate vir ‘n proefpreek en ‘n onderhoud genooi word. Hierna word Ds. Jacques Myburgh, wat voorheen in NG Gemeente Waverley-Oos leraar was, maar wat tans as onderwyser werk en nie aan ‘n gemeente gekoppel is nie, nadat hul gesin van NG Gemeente Walvisbaai in Namibië terug verhuis het na Suid-Afrika, beroep. Ds. Myburgh aanvaar die beroep en trek in die pastorie in Jeanettestraat in. Hy word op 6 Augustus 2017 bevestig, waarna hy sy intreepreek lewer.
Die orrelherstelprojek vorder goed. Meer werk as waarvoor oorspronklik begroot is word in die eerste jaar afgehandel en R163 000 word in die eerste jaar aan die orrel spandeer. As die orrelprojek klaar is sal daar aandag gegee word aan die opgradering van die kerkkombuis.
Daar is tans baie min lokale wat op die kerkterrein gebruik word. Die moontlikheid om die ongebruikte lokale uit te verhuur moet ondersoek word. Dalk is daar ‘n skool wat sou belangstel om dit te gebruik.
By die vergadering van 28 Februarie 2018 word genoem dat die orrelprojek aansienlik vinning erafgehandel sal word as die oorspronklike beplanning. Vir die tweede jaar is R193 000 aan die orrel spandeer. Dit is moontlik dat die hele projek reeds in 3 jaar voltooi kan word.
Op 24 April 2014 word die hersiene grondreëls en beleid as gevolg van die nuwe sentrale kerkraad wat uit 12 blokke bestaan in plaas van ‘n sentrale kerkraad met die wyke en ‘n Noord en Suid kerkraad, herskryf en aanvaar.
Op 7 Mei 2019 is die orrelprojek afgehandel. ‘n Privaatskool “Wakker Akkers” begin met die gemeente gesels oor die moontlikheid om hul skool na die kerkterrein te verskuif. Op 29 Oktober 2019 word daar aan hulle toestemming verleen om in Januarie 2020 met hul skool op die terrein te begin.
Met hierdie oorsig kom ons dan by die einde van 2019 en staan ons nout gereed om 2020 binne te gaan. Die jaar waarin die gemeente haar 50ste verjaarsdag gaan vier. Soveel dinge het oor die halfeeu plaasgevind en verander. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. Daar is soveel om na uit te sien. Mag die jare wat vir die gemeente voorlê bly getuig van die Here se inwerking en teenwoordigheid.
Langslewende Kerkraadslede
Lidmaatskap ontvang
12/10/1970 V. Otto
12/10/1970 D.J. Conradie
22/1/1971 G.S.D. Heunis
19/2/1971 J.C. Voordewind
19/2/1971 B.H. Langenhoven
14/4/1971 G.B. Joseph
17/6/1971 P.C. Viviers
20/1/1972 M.J. Kleinsmit
15/3/1973 I.J. Landman
24/1/1974 G.W. Wolmarans
17/10/1974 J. Blaauw (Jnr)
20/11/1975 P. Pretorius
Statistiek
In 1971 is die belydende lidmate van die gemeente 836 en dooplidmate 648. Totaal 1484.
1976 tot 1978 is die gemeente se totale lidmaattal die heel hoogste. Die totaal wissel van 2077 tot 2086 lidmate. Die belydende lidmate wissel tussen 1255 tot 1284 en die dooplidmate tussen 798 tot 822.
Van 1978 groei die belydende lidmate baie gering, maar die dooplidmate se getalle daal drasties.
In 1994 is die totale belydende lidmate in die gemeente 1449, maar die dooplidmate maar slegs 445
Van hier af daal die totale lidmaattal jaarliks.
In 2019 is die belydende lidmate van gemeente 529 en die dooplidmate 89, wat ‘n totaal van 618 lidmate gee.
GESKIEDENIS VAN DIE NG KERK NOORDOOS – PRETORIA SE PYPORREL
Die Nederduits-gereformeerde gemeente Noordoos – Pretoria is geseënd met ‘n goeie pyporrel wat tydens eredienste deur ons baie bekwame orreliste, Mariette Terblanche, bespeel word.
AGTERGROND
Die kerkraad het in Mei 1972 Mnr AJJ Troskie (later Prof Troskie, ‘n bekende in orrelkringe) aangestel as orreladviseur vir die ontwerp van ‘n pyporrel vir die kerk wat op daardie stadium in die beplanningsfase was. Die baraamde boukoste van die kerkgebou met 550 sitplekke, ontwerp deur die argitek Mnr Johan de Ridder, was R 139 000,00.
Die kerkraad het ook die opsie oorweeg om ‘n elektroniese orrel te installeer, maar het (gelukkig) daarteen besluit. In Junie 1973 het die kerkraad ‘n kwotasie vir die orrel aanvaar van Suid-Afrikaanse Orrelbouers vir ‘n totale koste van R 27 535,00. Die Vrouehulpdiens was verantwoordelik om die nodige fondse in te samel (soos baie pyporrels deur deur jare met koeksisters en pannekoek bak befonds is…). Daar was reeds in November 1971 ‘n gewyde musiekkonsert (toegangsfooi R1,00!) by Hoërskool CR Swart aangebied om die orrelfonds verder te versterk.
Installasie van die orrel het in Mei 1974 begin. Die intonasie is na afhandeling van die installasie deur J.H. Pekelharing gedoen. Op 15 Junie 1974 word die kerkgebou en orrel ingebruik geneem tydens ‘n uitvoering deur Albert Troskie met werke van Bach, Clarke, Boëlmann e.a.
In sy boek Pyporrels in Suid-Afrika verwys Prof Albert Troskie ook na die Gemeente Noordoos-Pretoria se orrel.
TEGNIESE INLIGTING
Die spesifikasie van die orrel is kortliks as volg:
- 2 Manuale: swel- en hoofwerk (56 toetse elk)
- Pedaalwerk (32 toetse)
- 25 sprekende registers (d.i. die verskillende klanke van die orrel)
- 1468 pype
- Crescendo- en Swelpedale
- Vrye kombinasie
Die langste pyp in die orrel is 16 voet (4,876 m; toonhoogte 32 Hz) en die kortste so groot soos ‘n balpuntpen. Pype is gemaak van hout, koper of ‘n legering van lood en tin, afhangende van die spesifieke register en die verlangde klank daarvan. Die horisontale trompette (koper) is uit Duitsland ingevoer.
Die frontpype (wat van buite gesien kan word) maak dus maar ‘n klein gedeelte van die totale aantal pype uit en is saamgestel uit sommige van die Prestant- en horisontale Trompet registers.
DISPOSISIE VAN DIE ORREL
Hoofwerk |
Swelwerk |
|||
Prestant | 8’ | Holpyp | 8’ | |
Roerfluit | 8’ | Spitsgamba | 8’ | |
Oktaaf | 4’ | Prestant | 4’ | |
Naghoorn | 4’ | Roerfluit | 4’ | |
Oktaaf | 2’ | Nasard | 2 2/3’ | |
Dulciana | 8’ | Woudfluit | 2’ | |
Mikstuur 4-5 st | 1 1/3’ | Terts | 1 3/5’ | |
Spaanse Trompet | 8’ | Skerp 3-4 st | 1’ | |
Hobo | 8’ | |||
Pedaal | Tremulant | |||
Subbas | 16’ | |||
Prestant | 8’ | Koppelaars | ||
Gedek | 8’ | Swel na Hoof | 8’ | |
Oktaaf | 4’ | Swel na Hoof | 16’ | |
Fluit | 4’ | Swel na Pedaal | 8’ | |
Basuin | 16 | Hoof na Pedaal | 8’ | |
Trompet | 8’ | |||
Klaroen | 4’ |
HERSTELWERK EN OPGRADERING (2016 – 2019)
Oor die 42 jaar tot en met 2016 wat die orrel in diens was, het dit gaandeweg foute ontwikkel wat nie altyd korrek aangespreek is nie. Elektriese kontakte het verweer en orrelbou tegnologie het verbeter.
In 2016 het die Kerkraad die dienste van Jan Zielman Orrelbouers bekom en ‘n volledige ondersoek is gedoen na die toestand van die orrel en aktiwiteite is geprioritiseer.
Daar is besluit dat herstelwerk aan die orrel in drie fases oor ‘n tydperk vanaf April 2017 tot April 2019 gedoen sal word om die las op die Gemeente se finansies te verlig.
♪ 2017: | Vervanging van die transformator, al 16 sleepmotors en al die toetskontakte op die klawers. |
♪ 2018: | Installasie van versterkers op manual kontakte, herstel van beskadigde pype, grootdiens, poleer van frontpype |
♪ 2019: | Vervanging van pedaalkontakte, intonasie |
Die huidige vervangingswaarde van die orrel is R5 000 000,00. Dít in aggenome, is die totale koste vir die herstelwerk van ± R 460 000,00 aan die orrel ‘n waardevolle belegging in die musiekkultuur van Suid-Afrika, aangesien dit deesdae merendeels kerke en akademiese instellings is wat nog tot ‘n mate daarin slaag om pyporrels, die koning van instrumente, in stand te hou.
ORRELISTE WAT DIE GEMEENTE GEDIEN HET
*Okt 1970 – Okt 1972: | Mev AD Louw | |
* Des 1972 – Maart 1973: | Mej . I Scheepers | |
* April 1973 – Mei 1974: | Mnr CJ Boonzaaier | |
Julie 1974 – Des 1976: | Mnr AJJ Troskie, afgelos deur Mev Strydom tydens tweede oggenddienste | |
Febr 1977 – April 1998: | Mnr M Van den Heever | |
Junie 1998 – Des 1998: | Mnr G Brits | |
Maart 1999 – : | Mej M Terblanche |
* Dienste gehou in Môregloed kerkgebou en saal van Laerskool Voorpos
FOTO’S:
Die pype van die hoofwerk voordat die herstelwerk begin het.
Let op die dik laag stof en skewe pype. Die pypies regs, heel voor, is van die kleinste in die orrel. Heel links is sommige van die trompetregister se verborge pype. Pypmateriale wat gesien kan word is: koper, hout (die vierkantige pype in die middel) en lood / tin legering.
“The Church knew what the psalmist knew: Music praises God. Music is well or better able to praise him than the building of the church and all its decoration; it is the Church’s greatest ornament.”
Igor Stravinsky
Die nuwe toetskontakte wat in die speeltafel geïnstalleer is.
“If you are called upon to play a church service, it is a greater honour than if you were to play a concert on the finest organ in the world…
Thank God each time when you are privileged to sit before the organ console and assist in the worship of the Almighty.”
Albert Schweitzer
Die skoongemaakte installasie (Mikstuur-pype heel voor)
“There is nothing to playing the organ. You only have to hit the right notes at the right time and the instrument plays itself.”
Johann Sebastian Bach
Die orrel nadat die frontpype gepoleer is.
“To my eyes and ears the organ will ever be the King of Instruments.”
Wolfgang Amadeus Mozart
Saamgestel deur Johannes Potgieter uit inligting afkomstig uit die oorspronklike orrelspesifikasie, gemeente argiewe, foto’s geneem tydens die herstelprojek en aanhalings vanaf die webtuiste van die Leek Pipe Organ Company.
November 2019