Die God wat by Sy mense kom bly het
Wanneer die engele aangekondig: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here”, word die boodskap heel eerste met skaapwagters gedeel. Die Herder se geboorte word aan skaapwagters aangekondig. Hy, die Herder vir herders, die Herder vir verlore mense, mense wat koers verloor het en weggeraak het. Hy kom as die Groot Skaapwagter, die Verlosser na Sy mense.
Wie sou ooit kon dink dat hierdie kindjie self God is. Wie sou ooit kon raai dat die God van die heelal vir ‘n oomblik soos ‘n baba sou lyk. Dat Hy hulpeloos in ‘n gewone vrou se arms sou lê en so normaal sou grootword dat min mense Hom as God sou erken. Die Een wat die mens van hul sonde gaan verlos, het gekom.
In Betlehem vind hulle ‘n babatjie wat in doeke toegedraai lê. Hierdie klein, onskuldige, brose mensie, lyk verseker nie na ‘n magtige koning wat die hele wêreld se laste op Sy skouers sal kan dra nie. Maar hierdie seuntjie is anders. Sy geboorte, Sy koms na die wêreld, verander die wêreld. Met Sy geboorte het God na die wêreld toe gekom. Hy het die hemel oopgebreek. Daarom gaan Kersfees oor Immanuel, God met ons. Kersfees gaan oor ‘n God wat ons so lief het en vir ons soveel omgee, dat Hy bereid is om hier tussen ons te kom woon.
God het neergedaal, Hy het ‘n gewone mens geword en Hy het die hemel vir eens en vir altyd vir ons doodgewone mens kom oopsluit. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld het hemel en aarde bymekaar gekom.
Hierdie Seun se geboorte word nou al vir meer as 2000 jaar gevier en vir solank as wat die mensdom besef en glo wie Hy is en wat Hy vir ons op aarde kom doen het, sal Sy verjaarsdag gevier gevier. Mag u vanjaar ‘n besonderse geseënde Christusfees saam met u familie en vriende beleef. Mag Sy koms vir u ware betekenis kry en mag u deur Sy aanraking in u lewe ‘n Geesvervulde 2024 beleef. ‘n Baie geseënde Kersfees en ‘n pragtige 2024 word vir u elkeen toegewens.
Groete in Christus Dr. Jacques Myburgh