Teks: 1 Johannes 4:7-21
Liedere: 197:1,2 329:1 334:1,2,3,4
Daar is baie verskillende stories oor waar die gebruik om Valentine’s dag te vier, vandaan kom. In elkeen van die stories is daar van ‘n held ter sprake wat, sonder om aan sy eie veiligheid te dink, ter wille van ander mense opgetree het om so onvoorwaardelike liefde te wys. Nou het die gebruik ontstaan om hierdie dag te vier as ‘n dag van liefde waar jy jou liefde teenoor jou geliefde vertoon. ‘n Herdenking of afbeelding van die eerste persoon na wie die dag vernoem is, se onbaatsugtige optrede.
Elke vorm van die wys van liefde bly egter altyd net ‘n afbeelding van die Een volmaakte, opofferende liefde wat God aan ons bewys het. God is liefde. Dis God se karakter. God kan nie anders as om liefde te wees nie. Daarom stuur Hy Sy eie Seun om in ons plek te kom sterf, as straf vir die oortredings waarvoor ons sou moes boet. So wys Hy Sy liefde vir ons. Dit kos Hom alles om ons vry te verklaar. Deur Hom kom daar vir ons vergifnis en redding.
Hierdie liefde van God is ‘n grenslose liefde. In die Ou Testament is daar verskeie grense ingestel, wat eerder mense uitgesluit, as ingesluit het. In die Nuwe Testament verander alles. Of jy Griek of Jood, man of vrou, ryk of arm is, maak nie saak nie. Almal wat erken dat Jesus Christus die Verlosser is, almal wat Hom as jou Verlosser aanneem, word deur God vry verklaar en as Sy kind aangeneem. So raak jy bewus van God se grenslose, onvoorwaardelike liefde. Dit is nou nie meer nodig dat jy enige offer hoef te bring vir jou oortredings nie. God het in Sy Seun reeds vir alles betaal. Al wat Hy van jou verwag is dat jy Sy liefde aanvaar en Hom sal toelaat om jou van binne nuut te maak. Sy liefde is ‘n transformerende liefde. Hierdie liefde is so wonderlik dat jy dit nie vir jouself mag of kan hou nie. Jy lewe ‘n lewe van dankbaarheid. Dankbaarheid word sigbaar in woord en daad. So wys jy vir die wêreld hoe ver en wyd en diep die liefde van God is. So word ander van die transformerende krag van God se liefde en genade bewus.