Teks: 1 Korintiërs 15:12-20
Die goeie nuus van die Evangelie gaan daaroor dat Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het. Dit is wat vir ons ware hoop gee en wat inhoud aan ons geloof gee. Baie mense sukkel met die gedagte dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit is nie iets alledaags om mense uit die dood te sien opstaan nie. Vir die antieke mens, wat dalk meer van die geestelike wêreld bewus was as ons in ons moderne tyd, was daardie gedagte steeds vreemd. Die gedagte dat mense geestelik uit die dood gaan opstaan, was dalk nog moontlik, maar nie die fisiese opstanding van iemand wat gesterf het nie.
Vir Paulus is dit egter ‘n ononderhandelbare waarheid. Sonder hierdie waarheid is daar vir ons geen geloof nie. Die fisiese opstanding van Jesus het alles verander. Dit is die manier waardeur ons volkome vervulling vir al ons sondes ontvang het. Sonder die opstanding van Jesus uit die dood, het ons geloof geen waarde of betekenis. Sonder die opstanding het die dood die finale sê oor ons lewens. Dan het ons ook geen hoop vir nou of vir die toekoms nie. Ons leef nie net op hierdie aarde en wanneer ons sterf is alles verby nie. Ons leef ook met die wonderlike belofte wat Jesus self maak, dat ons eendag, vir ewig, by Hom en Sy Vader tuis sal wees. Hy beloof ons hierdie ewige lewe. En hierdie ewige lewe kan net moontlik wees as daar ‘n opstanding uit die dood plaasgevind het. Hierdeur ontvang ons ware hoop, vir nou, maar veral ook vir die toekoms.
Deur ons geloof in Jesus Christus en ons verbintenis met Hom, verkry ons ‘n nuwe lewe. Ons ou lewe is verby, die lewe wat gekenmerk was deur ons sondes en wat tot die dood sou lei. Nou het ons ‘n nuwe toekoms, ‘n nuwe lewe. Ons is vrygemaakte kinders van ons God. Met die kruisiging van Jesus is daar vir al ons sondes betaal. Met die opstanding uit die dood is die dood finaal oorwin. Met die wete leef ons met sekerheid en oortuiging vir wat vir ons wag, maar ook met dankbaarheid as gevolg van alles wat ons alreeds ontvang het. Vrygemaak deur Jesus self, met die belofte van ‘n ewige lewe in ons Vaderhuis.