Preekskets 23 Februarie 2025 Ds Jacques – Laat jou lewe aan die Here oor


Teks:  Psalm 37:1-11

Liedere:  192:1,2,3  241:1,3  273:1,3,4

Psalm 37 is een van die akrostiese psalms.  Elke letter van die Hebreeuse alfabet word gebruik om ‘n volgende reël in die gedig te begin.  So is belangrike sake op ‘n manier oorgedra, wat dit vir die hoorders makliker gemaak het om dit te kon onthou.  Met hierdie Psalm word kinders van die Here sekere lewenslesse geleer.  Gaan jy aan die druk van die samelewing toegee of gaan jy ‘n toegewyde navolger van die Here wees?

Gelowige mense kan maklik na die suksesse van ontroue mense kyk en dan daarop jaloers word.  Hierdie suksesse en rykdom is ‘n groot struikelblok in die pad van mense wat nog sukkel om die Here waarlik eerste in hul lewens te stel.  Vers 10 en 11 sê egter dat dit nie hierdie mense is wat op die einde suksesvol sal wees nie, maar wel die wat die wil van God eerbiedig en Sy voorskrifte gehoorsaam.  Dit klink baie dieselfde as dit wat Jesus vir ons in die Bergpredikasie in Matteus 5:5 leer:  Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.

Sagmoedige mense is sag en nederig.  Dis die wat in ‘n ware verhouding met God staan en as diensknegte van die Here ‘n verskil in die wêreld maak.  Hulle is nie trots nie en soek nie hul eie belang nie.  Hulle bely dat God Heer is van hulle lewe, Sy koninkryk, Sy kerk, Sy eer, Sy naam, staan sentraal in hulle lewens.  Hierdie sagmoedigheid is egter nie gelyk aan swakheid nie.  Sulke mense tree in God se krag op en staan op vir wat reg is.  Psalm 37 vra van ons om so ‘n lewe te leef.  Ons moet ons nie oor bose mense kwel of oor hulle suksesse jaloers raak nie.  Al hierdie dinge is net tydelik.  Vertrou eerder op die Here.  Vind jou vreugde in die Here.  Gee oor aan God se wil.   Doen alles tot eer van God en verheerlik Hom in alles wat jy doen.  Dit gaan net gebeur as ons ons oë op God gerig hou.  Dit begin by ‘n doelbewuste keuse, ‘n verandering van die hart.  Dit maak dat jy nie meer oor alles in die lewe bekommerd is nie, want jy het volledig aan die Here oorgegee.  Teenoor die wat onmiddellik alles in hierdie wêreld wil hê, wag kinders van die Here stil en geduldig op Hom om in Sy tyd vir ons te sorg.  God is in beheer.  Hy sal ons nooit teleurstel nie.