Teks: Deutr 26:1-11
Liedere: 158:1,2,3 273:1,3 309:1,2,3
In hierdie teksgedeelte is Moses besig om die Israeliete voor te berei op die nuwe lewe wat vir hulle in die beloofde land wag. Alhoewel hulle op die oomblik nog nie in hierdie land is nie en nog niks van die wonderlike beloftes wat God aan hulle oor die land gemaak het, beleef of gesien het nie, moet hulle al daarop voorberei wees. Die nuwe land gaan vir hulle ‘n wonderlike oes lewer. Alles wat uit die land voortgebring word, is gawes uit die hand van die Here.
Die volk word beveel om die voorsiening van die Here te herroep. Dink terug aan alles wat die Here reeds in die verlede gedoen het. Die volk was slawe in Egipte, maar die Here was vir hulle goed. Ongelukkig vergeet mens baie vinnig hoe goed die Here vir jou is. Daarom word daar nou reeds voorskrifte neergelê oor hoe die volk in die nuwe land moet maak. Wanneer die oes deur die land gelewer word, moet hulle die eerste deel na die tempel neem en die Here daarvoor dank. Dit is alles gawes uit die hand van die Here.
Die volk moet besef dat dit ‘n direkte bevel van die Here is. Anders gaan die mens so maklik vergeet van die goedheid van die Here en dink dit is hul eie werk wat vir hulle al hierdie gawes voorsien het. Daarom is die proses soos volg: Onthou – vertel – herdenk. Die volk moet onthou wat die Here alles vir hulle in die verlede gedoen het. Daarna moet hierdie verhale oorvertel word sodat dit nie vergeet sal word nie. Daarna vind ‘n herdenking plaas. Ons staan nou aan die begin van Lydenstyd. Die grootste geskenk wat ons sekerlik van die Here ontvang het, is Sy eie Seun wat Hy vir die versoening van ons sondes na ons wêreld gestuur het. Ook soos wat Moses die mense leer, moet ons ook doen. Ons moet dit wat God al alles in die verlede vir ons gedoen het onthou. Ons moet dit oorvertel, om seker te maak ons vergeet dit nie en dat die volgende generasie dit saam met ons sal onthou en natuurlik ook saam met ons sal herdenk. Stel die Here in alles eerste. Herken en erken Hom. Hy is ons Anker en ons Voorsiener. Lydenstyd is ‘n wonderlike tyd waarin al die gawes van die Here onthou word, herdenk word en ons onsself herverbind aan die Here.