Preekskets 16 Maart 2025 Ds Jacques – ‘n Ander huis


Teks:  Filippense 4:27-4:1

Liedere:  547:1,2,3  542:1,2  553:1  543:1,2,3

Die meeste mense dink nie noodwendig gereeld aan hul burgerskap nie.  ‘n Mens verkry jou burgerskap deur geboorte of omdat jy lank genoeg in ‘n spesifieke land gewoon en gewerk het.  Met burgerskap verkry jy sekere voorregte, byvoorbeeld die reg om vir jou regering te stem, vrylik in die land rond te beweeg, beskerming deur die wet, die reg tot opvoeding en gesondheidsorg.  Natuurlik word daar ook van jou sekere dinge verwag.  Jy moet die land se wette gehoorsaam en jou belasting betaal.  Maar hoeveel keer in jou lewe dink jy regtig hieraan?  Dalk as jy 16 word en moet aansoek doen vir ‘n identiteitsdokument of wanneer dit tyd is om te gaan stem. 

Dinge kan egter vir jou baie anders raak wanneer jy jouself in ‘n vreemde land bevind, jy iets daar oorkom of as jy dalk daar is en jou paspoort verloor.  Jy verlaat jou land en jou land gee vir jou ‘n paspoort wat bepaal dat jy wel ‘n burger van jou land is en dat jy in die vreemde land steeds onder die beskerming van jou land staan.  In die vreemde land begin beleef jy die vreemde, vergelyk dit met jou eie en verlang ook gereeld na dit wat vir jou bekend is.

Nou gebruik Paulus hierdie beeld om vir ons te sê dat ons in ons geestelike lewe moet besef dat ons burgers van ‘n ander koninkryk is.  Ons is burgers van God se koninkryk.  Ons as mense is geneig om so lekker in hierdie wêreld te leef en in te pas dat ons heeltemal vergeet dat ons eintlik ‘n burger van ‘n ander koninkryk is en net tydelik hier woon.  Jesus gaan ons kom haal en terug neem na ons eintlik huis toe.  Intussen moet ons as ambassadeurs vir ons werklike huis optree. 

Ons verantwoordelikheid is om die mense rondom ons van hierdie adres te vertel, die wonderlike hemel waar God woon en waarheen ons ook op pad is.  Jesus gaan terugkeer en ons kom haal.  Ons reflekteer ons burgerskap.  Ons moet nie so “geestelik” raak dat ons glad nie ‘n verskil in hierdie wêreld maak nie, maar aan die ander kant moet ons ook nie so lekker in hierdie wêreld leef dat ons glad nie ons burgerskap reflekteer nie.  As jy in ‘n vreemde land vakansie hou klink jy anders en lyk jy anders as die land se mense.  So moet jy ook vir God se Koninkryk klink en lyk.