Teks: 2 Timoteus 1:5-14
Liedere: 163 542:1,2 551:1,2,3,4
Elke 4 jaar vind ‘n groot sport gebeurtenis in die wêreld plaas, naamlik die Olimpiese Spele. Atlete van reg oor die wêreld oefen hulle hele lewe lank om aan die kriteria’s te voldoen om vir die spele te kwalifiseer. Dit is ‘n geweldige groot eer. Saam met die spele vind daar ook ‘n baie besonderse ritueel plaas. ‘n Fakkel word in Olimpia in Griekeland aan die brand gesteek en word dan deur verskillende persone reg oor die wêreld gedra, totdat dit op die einde in die stadion van die land waar die spele aangebied word, ingedra word en die amptelike fakkel vir die spele daarmee aan die brand gesteek word.
Vir elke persoon wat die geleentheid kry om die fakkel te dra is dit ‘n baie groot eer. Die persoon het nou die verantwoordelikheid om na die vlam in die fakkel te kyk, seker te maak dat die fakkel nie dood gaan nie, dat daar genoeg brandstof in die fakkel is om te hou totdat die fakkel vir die volgende persoon aangegee word. As iemand sou struikel en val, of as die fakkel sou dood gaan, sou dit ‘n groot verleentheid wees. In vandag se teks praat Paulus ook van ‘n fakkel of ‘n vlam wat in ons gelowiges se harte brand en wat van een persoon aan die volgende aangegee word.
Wanneer Paulus met Timoteus praat, sê hy vir hom dat dit vir hom wonderlik is om die vaste geloof in Timoteus te sien, wat hy ook in sy ouma Loïs en ma Eunice gesien het. Geloof word van generasie na generasie oorgedra. Baie jongmense dink dalk dat hulle self geloof moet “uitfigure”, maar volgens Paulus is daar vir ons helpers. Ouers, grootouers, onderwysers, predikante en vele ander mense vervul daardie rol. Dit kan iemand wees wat vir jou bid, jou na ‘n geestelike kamp nooi, iemand wat jou van Jesus vertel of iemand wat vir jou ‘n goeie voorbeeld stel van hoe ‘n navolger van Jesus se lewe moet lyk. So word ons vuurtjie warm gehou. So word hout op ons vuur gegooi en word die kole warm geblaas. Ons het ook die verantwoordelikheid om ons fakkel vlam warm te hou deur te bid, Bybel te lees, kerk toe te gaan en in kontak met ander gelowige mense te bly. So groei ons. Ons moenie skaam wees om vlamdraers vir Jesus te wees nie. God gee vir ons deur Sy Heilige Gees die krag en selfbeheersing om vir Hom te leef. Onthou ook dat dit jou taak gaan wees om weer jou fakkel vuur aan iemand anders aan te gee. Nooi ‘n vriend kerk toe, bid vir iemand, help iemand en praat oor Jesus. So gee jy jou fakkel vlam aan vir iemand anders.