Preekskets 22 Maart 2026 Ds Jacques – Volg Hom tot die einde


Teks:  Johannes 16:16-33

Liedere:  388:1,2,3   391:1,2   396:1,2,3,4

Ons stap vandag vir ‘n oomblik binne die geskiedenis van die gebeure in Jerusalem in.  Dink vir ‘n oomblik wat jy sien, wat jy hoor, wat jy voel.  Dink aan die mense wat in die verhaal ‘n rol speel se reaksies op watter hier voor hulle oë gebeur.  Hierdie is nie net geskiedenis nie.  Hierdie is liefde in aksie.  Ons stap saam met die skare wat by die intog “Hosanna” geroep het, tot by dieselfde skare by by die verhoor geroep het, “Kruisig Hom”.  Maak jou hart oop en beleef wat voor jou afspeel.

Jerusalem is vol mense en die lug is gevul met opwinding.  Die mense roep:  “Hosanna!  Red ons!”  Hulle gooi takke en klere voor Hom neer.  Hulle vier Sy intog soos die intog van ‘n koning.  Baie van hierdie mense sal aan die einde van die verhaal, net ‘n paar dae later uit skree:  “Kruisig Hom!”

Hulle loof Hom met hul monde… maar hul harte behoort nie regtig aan Hom nie.

Jesus het geweet mense gaan Hom verraai… maar Hy het hulle nogsteeds liefgehad.

Dit is stil… intiem… ernstig.   Jesus vat brood… breek dit… en sê:  ‘Dit is My liggaam… vir julle.’

Hy vat die beker en sê:  ‘Dit is My bloed… wat vir julle uitgestort word.’

Hy weet wat kom.  Hy weet Hy gaan ly.  En tog… kies Hy om Homself te gee.

“Dit is liefde. Nie net woorde nie…  maar opoffering.”

Onthou:  Jesus het dit vir jou gedoen.

Jesus is alleen.  Hy is angstig.  Hy sweet bloed.  Hy bid:

“Vader… as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan… maar nogtans — nie My wil nie, maar U wil.”  Hier sien ons iets rou… iets eerlik…

Jesus is bang. Maar Hy kies gehoorsaamheid.   God sien ook wanneer jy bang is.  Hy hoor wanneer jy na Hom uitroep.  Jesus se naaste vriende draai hulle rug op Hom.

Judas verraai vir Jesus vir 30 silwerstukke.

Petrus — die dapper een… die een wat gesê het: “Ek sal U nooit verloën nie!”

En dan…  Hier sit Petrus by ’n vuur.

Hy het belowe:  Hy het belowe:  “Ek sal nooit vir Jesus los nie.’

Maar nou… “Ek ken Hom nie. Ek belowe, ek ken Hom nie!”
“Ek sweer, ek ken Hom nie!!!”

Die haan kraai en Petrus breek.  Petrus besef…  hy het gefaal.

Les vir jou:   Selfs die sterkste mense kan val.  Die waarheid is…  Ons almal het al.

Maar hier is die goeie nuus:  Jesus het nie Petrus afgeskryf nie.  Hy herstel hom later.

Jesus staan voor Pilatus.  Hy is onskuldig.  Maar die skare skree.  Pilatus weet die waarheid…  maar hy is bang vir die mense.  Hy vat water… en was sy hande.  Asof hy kan sê: ‘Dis nie my skuld nie.’  Ons doen dit ook.  Ons kies gemak… bo wat reg is.

Die spykers.  Die pyn.  Die vernedering.  Hy hang daar… vir sondes wat Hy nooit gedoen het nie.

En tog kies Hy om te bly.  Hy klim nie van die kruis af nie.  Hy bly… uit liefde.

Die waarheid:  Dit was nie net die Romeine wat Hom daar gesit het nie…  Dis Sy liefde vir elkeen wat ons wat Hom daar hou.  Hy sterf…  sodat jy kan leef.

En tog sê Jesus:  “Vader, vergeef hulle… want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Nou kom die belangrikste vraag:  Waar staan jy?

  • In die skare wat net volg wanneer dit lekker is?
  • Soos Petrus wat soms faal?
  • Soos Pilatus wat onder druk vou?  Of…

Iemand wat sê:  “Jesus… ek volg U — maak nie saak wat dit kos nie.” Hy vra net een ding:  “Sal jy My volg?”