Teks: Johannes 12:12-19
Liedere: 393:1,2,3 390:1,2,3 388:1,2,3
Jesus kom Jerusalem binne as Koning. Daar is groot verwagting onder die mense, maar dan gebeur iets snaaks. Hy kom nie die stad op die rug van ‘n oorlogsperd ingery nie, maar op die rug van ‘n nederig donkie. Onmiddelik begin die spanning opbou. Die skare het al hul vertroue op ‘n politieke leier geplaas. Hulle het gehoop op iemand wat Rome sou verslaan, wat die mense polities sou bevry en al hulle probleme sou oplos. Daarom die uitroep – Red ons nou!
Jesus het wel gekom om ons te kom red, maar die redding lê op ‘n veel dieper vlak. Hy kom ons sondes te verlos, om gebrokenes te kom red, om ons wat geestelik dood was, weer nuwe lewe te gee. Die mense se uitroepe was daarop gemik dat Jesus sou kom om hulle lewens makliker te maak. Jesus kom egter om mense se harte te verander. Daarom kies Jesus doelbewus ‘n donkie as rytuig. Hy kom nie na die stad om dit te kom verower nie, maar om die mense wat redding nodig het te kom red. Die skare vra vir mag, oorwinning deur geweld en ‘n aardse koninkryk. Jesus kom met nederigheid, oorwin deur die kruis en bied Sy Ewige Koninkryk.
Ons wil ook baie keer hê dat Jesus met sterk mag moet kom ingryp, aardse magte kom oorweldig en ons vyande vernietig. Jesus kom egter sag en nederig, maar kragtig op ‘n ander manier. Juis daarom is daar soveel onbegrip onder mense, selfs onder Jesus se eie dissipels. Selfs die naby aan Hom het nie onmiddelik verstaan nie. Eers later sou hulle verstaan. Die grootste probleem met die skare, die dissipels en ook met ons is dat ons harte nie reg is en reg verstaan nie. As ons Jesus aanroep is die idee nie dat ons Hom net nader sodat Hy ons planne kan seën nie. Hy het die pad tot by die kruis gestap. Hy is die Ware Koning wat lewens verander. Ons volg Hom nie net vir ‘n oomblik nie, maar as dissipels, wat Hom ‘n leeftyd lank volg. Jesus het nie gekom om mense se verwagting oor Hom te kom vervul nie, maar om God se wil te kom uitvoer. Die Koning wat op die rug van die donkie in Jerusalem inry is dieselfde Koning wat uit die dood opstaan en vir ons die ewige lewe skenk. Watter wonderlike Koning is Hy!!