Preekskets 19 April 2026 Ds Jacques – Hy het ons die reg gegee om kinders van God genoem te word.


Teks:  1 Johannes 4:1-6

Liedere:  202:1,2,3  268:1  542:1,2

Ons leef in ‘n wêreld vol stemme.  Nie al hierdie stemme wat ons hoor is noodwendig geestelik opbouend nie.  Johannes het al in sy tyd die bekommernis gehad dat die mense van sy tyd deur die stemme van sy tyd verwar mag word.  Almal sê hulle praat die waarheid, maar “Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar stel die geeste op die proef…” waarsku hy ons. 

Nie alles wat ons hoor is waar nie.  Nie alles wat goed klink is waar nie.  Hoe weet ek dan wat wel waar is en wat van God af is?  Johannes sê vir ons dat ons nie alles sommer net goeds moeds moet glo en aanvaar nie.  Ons moet die onderskeidingsvermoë ontwikkel om te weet wat waar en goed en reg is.  Dit beteken natuurlik nie dat ons die heel tyd agterdogtig hoef te wees en alles wat mense vir ons sê krities en negatief hoef te beoordeel nie.  Tog moet ons naby aan die Woord van God leef, so naby dat ons kan onderskei wat eg en waar is. 

Die toets bly altyd, wat sê mense vir ons oor Jesus?  Elke geestelike uitspraak moet in lyn wees met wat Jesus ons geleer het.  Ons moet gereeld met Sy Woord besig wees sodat ons die waarheid kan herken.  Johannes gaan so ver as om die mense wat die waarheid verdraai as antichriste aan te spreek.  Vir hom gaan dit nie daaroor dat mense net oor Jesus met ons praat en dan glo ons onmiddelik wat die persoon sê omdat Jesus se naam genoem is nie.  Nee, ons moet mooi luister na wat oor Jesus gesê word.  Nie alle paaie lei na die hemel nie.  ‘n Boodskap wat vir ons leer dat ons maar net goeie mense moet wees en dus uit ons eie werke gered kan word, moet as ‘n leuen uitgewys word.  Redding gebeur net deur geloof in Jesus Christus.  Ons kan net nuut lewe omdat Hy vir ons vryheid deur Sy kruisdood bewerk het.  Gelukkig herinner Johannes ons daaraan dat God se Gees in gelowiges se harte woon.  Ons leef dan met die krag van die Gees in ons en daarom kan ons sterk teen onwaarhede staan, standpunt inneem en opstaan vir die waarheid.  Die waarheid trek gelowiges aan en leuens stoot ons weg.  Moenie alles wat as geestelik aan ons opgedis word as waarheid ag nie.  Toets die waarheid.  Vertrou God om jou te help om te kan onderskei.  Die krag van Sy Gees help ons daarmee.