Preekskets 07 Junie 2026 Ds Jacques – Vertrou die Here – Hy sien verder as ons


Teks:  Spreuke 3:5-6

Liedere:  231:1,3  273:1,2,4  220:1,2,3

Een van die grootste uitdagings in die geloofslewe is om nie net te sê dat ek die Here vertrou nie, maar werklik oor te gee in vertroue.  Ons sê maklik dat ons die Here vertrou, maar wanneer moeilike besluite geneem moet word, wanneer onsekerhede toeslaan, of wanneer God se plan nie vir ons sin maak nie, begin ons dikwels twyfel en op ons eie verstand staat maak. 

Ons leef in ‘n wêreld waar ons gereeld hoor – Volg jou hart.  Glo in jouself.  Vetrou jou instinkte.  Hierdie boodskappe klink aantreklik en help ons ook baie keer in ons lewens.  Maar ook net tot op ‘n punt.  En dan weet ons nie meer hoe ons moet maak nie.  Dit is dan wanneer ons besef dat my eie insigte my ook net so ver kon kry.  Die teks van vandag leer ons dat ons nie op ons eie insigte moet steun nie, maar eerder moet oorgee, die Here moet vertrou.  Dit laat ons egter dikwels voel dat ons beheer verloor, dat ons nie weet waarheen ons op pad is, waar ons eindbestemming gaan wees as ons nie die stuurwiel van ons lewe self vashou nie. 

Ons sien net ‘n klein stukkie van die pad wat op ons wag. Die Here sien die hele prentjie en die eintbestemming.  Daarom is dit soveel wyser om Hom te vertrou en nie op ons eie insigte staat te maak nie.  Dink maar net aan Noag.  Noag bou ‘n ark.  Daar is geen teken van ‘n wêreldwye vloed nie.  Uit ‘n menslike oogpunt het sy optrede heeltemal onlogies geklink.  Die mense het seker gedink hy het sy verstand verloor.  Mense lag, mense spot.  Maar Noag het besluit om nie op sy eie insigte staat te maak nie, maar die Here te vertrou.  Wannner die vloed dan wel kom, is dit hy en sy mense saam met hom in die ark wat oorleef.  Die wat vir hom gelag en hom gespot het, kom almal om.  Hoe spyt was hulle nie toe dat hulle op hul eie insigte staat gemaak het en nie na die Here geluister het nie.  Die verskil; nie intellek nie, maar geloof en gehoorsaamheid.  Waarom kan ons God vertrou?  Hy is getrou.  Hy is die Skepper en Onderhouer van die hele wêreld.  Hy het alles begin en weet hoe alles gaan eindig.  Hy het ons lief.  Hy wil ons nie beperk nie, maar beskerm.  God kyk en sien met ‘n ander perspektief as ons.  Die vraag is dus nie;  Is ek slim genoeg om my eie pad uit te werk nie?  Die vraag is eerder;  Is ek bereid om die Here te vertrou, selfs as Sy plan anders lyk as my eie?