Teks: 1 Konings 3:5-12
Liedere: 168:1,2,3 492:1,2 524:1,2,3
Een van die groot vrae waarmee mense vandag worstel is: Hoe moet ek weet wat is die regte ding om te doen? Ons leef in ‘n tyd waar ‘n magdom kennis met die druk van ‘n knoppie beskikbaar is. Tog lyk dit of wysheid al skaarser word. Mense weet baie, maar kort dikwels onderskeidingsvermoë. Dit is wat Salomo se gebed vir ons tyd so relevant maak.
Ons ontmoet ‘n jong koning wat aan die begin van sy regeringtyd staan. Hy het die verantwoordelikheid om God se volk te lei. God verskyn aan hom in ‘n droom en rig ‘n buitengewone uitnodiging aan hom: “Vra wat Ek jou moet gee”.
‘n Mens sou dalk verwag dat hy van die kans gebruik maak om vir rykdom, aansien of ‘n lang lewe sou vra. Hy vra vir ‘n luisterend hart – ‘n hart wat kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is. Hierdie deel leer ons aan die een kant iets van Salomo se hart, maar ook iets van God. God wat vandag steeds Sy mense lei en help.
Salomo vra dalk hiervoor omdat hy oorweldig voel oor wat op hom wag. Dis nie vals nederigheid nie, maar eerlike afhanklikheid van God wat hy hier bely. Juis daar begin ware wysheid. Die erkenning dat God die ware bron van wysheid is enn wysheid nie uit onsself kom nie. Salomo raadpleeg nie sy raadgewers nie. In Spreuke 9:10 leer ons: “Die begin van wysheid is die dien van die Here.” Dit bring ‘n mens by die punt waar jy na die wêreld kyk deur God se perspektief. Hy vra vir ‘n hart wat waarlik luister, wat ingestel is op God se hart, wat God se wil wil uitvoer. God sien Salomo se hart en karakter deur sy versoek aan God. Ons moet leer om ook soos Salomo te bid. Ons het ‘n luisterende hart nodig. Ons moet leer om nederig te word. Ons moet vra hoe God ons kan gebruik om Hom beter te dien. Onderskeidingsvermoë is vandag noodsaaklik.