Preekskets 02 Augustus 2026 Ds Jacques – Gee julle vir hulle iets om te eet


Teks:  Matteus 14:13-21

Liedere:  190:1,2,3  509:1,2,3

Gewoonlik dink ons hierdie verhaal gaan net oor honger mense wat sonder kos was en Jesus doen ‘n wonder en voed al die hongeres.  Natuurlik is dit die kern van wat hier gebeur, die wonderwerk.  Maar daar is ook ‘n dieper geestelike les wat ons hier moet raaksien.  Ons moet ook hier sien dat mense vir Jesus saak maak.  Hy sien mense en mense se nood raak.  En dan gebruik Hy gewone mense om deel te wees van die oplos van die probleem.

Jesus het gehoor dat Johannes die Doper onthoof is.  Hy wil na ‘n stil plek toe gaan om op Sy eie te wees.  Hy klim in ‘n skuit en vaar na die oorkant van die water.  Wanneer Hy egter aan die ander kant aankom wag ‘n menigte mense Hom reeds in.  ‘n Mens se eerste reaksie sou dalk frustrasie wees.  Nie Jesus nie.  Jesus kry hulle innig jammer.  Hy sien ‘n skare mense wat Hom nodig het.  Mense in nood.  Mense wat soekend is.  Daarom dat Hy onmiddelike oorgaan om hulle te bedien.  Hulle hang aan sy lippe.  Die dag loop uit.  Wanneer dit begin donker raak, besef die dissipels dat die mense nog niks geëet het nie.  Hulle sal vinnig by hul huise of by die naburige dorpe moet uitkom as hulle nog betyds ‘n aandete wou kry.

Dis goeie raad.  Hulle het beslis nie genoeg kos of geld om vir al hierdie mense iets te ete te kry nie.  Hulle sien die probleem raak.  Jesus sien die mense raak.  Sy antwoord aan Sy dissipels:  Gee julle vir hulle iets om te eet, klink heeltemal onmoontlik.  Hulle sê dit dan ook vir Jesus.  Ons het net 5 brode en 2 visse vir hierdie duisende mense.  Dis nie naastenby genoeg om die eerste ry of twee te voed nie.  Jesus het egter ‘n ander plan.  Hy wil hê Sy dissipels moet Sy mag sien, maar ook Sy besorgdheid oor mense.  Hy dank God, breek die kos en plaas dit in die hande van Sy dissipels om aan die mense uit te deel.  Die dissipels gee die kos, vertrou Jesus, neem die stukke by Hom en begin uitdeel.  Wat hulle beskikbaar gehad het is nie genoeg nie.  Maar in Jesus se hande word dit genoeg, word dit oorvloed.  Die wonder begin nie by die kos nie.  Die wonder begin by die gehoorsaamheid en vertroue van Sy dissipels.  Mag dit ook van ons waar wees dat ons bereid sal wees om die Here so met ons bietjie te vertrou en te glo dat Hy dit in genoeg, in oorvloed sal verander.